‘Panayiotou moet lewenslank tronk toe’

Costa Panayiotou ondersteun sy seun Christopher tydens ‘n vorige verskyning in die hof (Mei 2016) Foto: ANA

Die staat het Donderdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth versoek dat die minimumvonnis van lewenslange tronkstraf aan Christopher Panayiotou en Sinethemba Nenembe opgelê word.

Panayiotou is vroeër die maand skuldig bevind aan die moord op sy vrou. Nenembe is skuldig bevind op aanklag van moord, asook op aanklag van roof met verswarende omstandighede. Die staat het versoek dat Zolani Sibeko, wat aan sameswering tot moord skuldig bevind is, tot 18 jaar tronkstraf gevonnis moet word.

Adv. Marius Stander, die staatsaaklaer, het gesê die moord op Jayde was ʼn voorafbeplande huurmoord. “Daar was meer as genoeg tyd om te onttrek. Panayiotou het geen berou getoon nie en hy het vir die huur van die motor betaal. Hy het vir 13 nagte voor die moord in dieselfde huis as Jayde geslaap en dit nooit stopgesit nie.”

Stander het gesê die feit dat hulle dit soos ʼn rooftog wou laat lyk, is uiters verswarend. “Jayde het geen manier gehad om haarself te verdedig nie. Ek word yskoud as ek dink wat deur Jayde se kop moes gegaan het toe sy ontvoer is. Hierdie was ʼn koelbloedige en gevoellose teregstelling.”

Stander het gesê die bewering deur Panayiotou se familie dat hy ʼn goedhartige mens is, word verduister. “Om by die begrafnis op te staan en haar te loof en dan om te kyk na wat in daardie video [wat deur die polisie gemaak is] gesê is, is tekenend van ʼn psigopaat en nie ʼn goedhartige mens nie,” het hy gesê.

Terry Price, vir die verdediging, het vir ʼn vonnis ligter as lewenslank gevra. Hy het die hof gevra om in ag te neem dat Panayiotou ʼn eerste oortreder is en ʼn goeie kans het op rehabilitasie.

“Hy het sy samewerking aan die polisie gegee, hy het altyd goeie maniere gehad en ons vra nederig vir genade dat hy ʼn vonnis van minder as lewenslank opgelê word,” het Price gesê.

Peter Daubermann, Sibeko se regsverteenwoordiger, het vir ʼn vonnis van vier tot vyf jaar tronkstraf gevra aangesien sy kliënt kop uitgetrek het in die sameswering.

Die staat het egter aangevoer dat Sibeko veel meer gedoen het omdat hy Jayde dopgehou het voor die moord later gepleeg is. “Dis nie korrek om te sê dat hy kop uitgetrek het en nie sy rol voltooi het nie,” het Stander gesê.

Chetty sal Panayiotou en sy medebeskuldigdes Vrydag vonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Vrede ·

Ongelukkig as jy moord pleeg moet jy die gevolge daarvan dra. Mens respekteer ander se lewens, en nog meer as dit jou vrou of ‘n familielid is. Geen moord is reg nie, nie ‘n huurmoord nie, nie ‘n skietdood of wrede marteldood nie. SA het ‘n land van kriminele geword waar baie wegkom agv verskillende redes. Ek is bly hy het nie weggekom met moord nie, en ek hoop die ouers van sy vermoorde vrou vind ‘n bietjie berusting noudat hy gestraf is.

Denise ·

Hoe kan jy wat so n wrede daad gepleeg het om n pragtige onskuldige vrou te laat vermoor vra vir genade ek weet ons maak almal foute maar dit was vir my baie wreed wat met haar gebeur het beroof van haar lewe !!!!!

Elizabeth ·

Ja en nou sê hulle hy het mooi saamgewerk en hom goed gedra. Ek onthou dat hy smalend en glimlaggend gesê het dat “as Oscar dit kon doen, kan hy dit oom doen”!!!??

Wens hy kon hang!!!

Wenner ·

Ai ai ai! Hoekom moes hy haar doodmaak?? Kon hul nie maar net geskei het nie??

Adam ·

Hy moes seker gedink het hy gaan wegkom daarmee As jy dan nie jou gulp kan toe hou nie hoekom dan maar nie die eerlike ding doen en skei nie Hy sou moontlik goedkoper weggekom het en almal het n lewe verder gehad Daar is nie iets soos die perfekte moord nie Jammer ek het geen simpatie nie

Mielie ·

Waardeur daai vrou moes gegaan het is ondenkbaar. Dieselfde vir haar ouers. 13 aande het hy geweet….vir my vertel dit n storie van n gevoellose lafhaard. Dis onmenslik. Ek glo daar gaan 13 aande, maande en jare wees dat hy deur hel sal gaan. Maar niks soos wat sy moes deurmaak nie.

christa ·

Goeie job Adv Stander!. Hulle verdien die swaarste moontlike straf. Sy hormone het oortyd gewerk, laat dit oortyd werk in die tronk.

Corne Barnard ·

Stem saam…..welgedaan Adv Stander mag hy 100jaar kry!

kat ·

Ek is so bly hierdie moordenaar gaan gestraf word.
Dit is ondenkbaar oor wat hy gedoen het . Sy vrou laat vermoor vir iemand anders.
Ek wonder hoe voel die ‘iemand anders” nou.

Veritas ·

As ek vandag ‘n vrou in SA was, sou ek twee keer dink voordat ek die ja-woord gee. Lyk of dit mode geword het om jou vrou of vriendin te vermoor of laat vermoor.

Niel ·

Die saak klink vir my baie soos die van Shrien Dawani, maar die het skotvry daarvan afgekom en boonop £16M besigheids wins gemaak in Engeland.
Dink hy moes eintlik die bed warm gehou het in die sel vir ou Costa.

Ander Annie ·

Geregtigheid seëvier. Sterkte aan Jayde se familie. Dit is ‘n groot eina. Mag die uitspraak deel van hulle hellingsproses wees. Ek stem saam, hoekom het hy haar nie geskei nie. Dit moet tog sekerlik vir sy ouers ook baie moeilik wees om te weet dat hy vir baie jare toegesluit gaan word. As ouer maak ons, ons kinders groot om eerbaar te wees. Soveel hartseer en hoekom?

Bokram ·

Hy het als gehad wat iemand kan he,n mooi vrou en baie geld en natuurlik was hy baie arrogant,nou gaan hy niks meer he nie,wat jy saai sal jy maai

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.