Panayiotou-moord: ‘Middelman’ moet eers regskoste opdok

Luthando Siyoni. (Foto: Facebook)

Die saak teen die vermeende middelman in die Jayde Panayiotou-moordsaak is uitgestel sodat hy eers sy prokureur kan betaal.

Luthando Siyoni het Donderdag vir die eerste keer in die hooggeregshof in Port Elizabeth verskyn op aanklag van moord en sameswering tot moord. Siyoni het glo in April 2015 gehelp om ’n huurmoordenaar op te spoor om Jayde te vermoor en het Christopher Panayiotou uitgewys as baasbrein agter sy vrou se moord.

Siyoni, wat veronderstel was om die staat se sleutelgetuie te wees, het egter later sy verklarings wat hy aan die polisie gemaak het, teruggetrek en volstrek geweier om enige van die staatsaanklaer, Marius Stander, se vrae tydens ʼn verhoor-binne-ʼn-verhoor te beantwoord.

Siyoni se status as artikel 204-getuie is herroep en hy is daarna tot vyandige getuie verklaar.

Die aanklagte teen hom is gelê op grond daarvan dat hy glo volgens die gemeenskaplike doel opgetree en opsetlik saamgesweer het om Jayde te vermoor.

Die voormalige uitsmyter by Christopher Panayiotu se nagklub is in Mei verlede jaar in KwaZakhele in hegtenis geneem, byna ses maande nadat sy immuniteit van vervolging herroep is.

Hy is in Junie borgtog in die Port Elizabeth-landdroshof geweier. Die saak is voorlopig tot 20 Junie uitgestel. Volgens regter Irma Schoeman is die saak uitgestel om te bepaal of Siyoni sy finansiële ooreenkoms met sy prokureur, Zolile Ngeza, sal nakom.

Jayde is op 21 April 2015 buite die Stellen Glen-kompleks in Kabegapark ontvoer waar sy gestaan en wag het vir ʼn saamrygeleentheid werk toe. Haar liggaam is later in die buitewyke van KwaNobuhle gevind. Sy is in haar kop geskiet.

Panayiotou en Sinethemba Nenembe is in November 2017 skuldig bevind aan die moord op Jayde, terwyl Zolani Sibeko skuldig bevind is aan sameswering om moord te pleeg. Panayiotou dien lewenslange tronkstraf uit.

Lees alle vorige berigte oor die Panayiotou-moordsaak op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Posduif ·

Daai spiere lyk kompleet soos hierdie hoenders wat hulle so met water inspuit om groter te lyk. Water spiere…..?

Eddy ·

☺☺ daar is n Engelse gesegde : “All brawn and no brains”.. mooi spiere maar geen wysheid en verstand. As hy medepligtige is,moet hy boet vir sy dade.Christopher ook: Het geld en rykdom maar kyk waar sit hy vandag: In die tjoekie !

Heksie ·

Hoekom wou jy nie meer getuig nie? Wie het jou afgedreig?
Nou gaan jy maar jou baas oppas in die tronk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.