Panayiotou-moord: Middelman steeds in aanhouding

Luthando Siyoni. Foto: Facebook

Die uitspraak in die borgtogaansoek van die vermeende middelman in die Jayde Panayiotou-moord is Vrydag uitgestel.

Luthando Siyoni sou Vrydag formeel aansoek om borgtog doen, maar die verrigtinge is uitgestel omdat die landdros nie beskikbaar was nie. Die verrigtinge sal na verwagting Maandag voortduur.

Die staat het reeds in Mei vanjaar aangedui dat Siyoni se aansoek teengestaan gaan word.

Siyoni is vroeër vandeesmaand in Kwazakhele buite Port Elizabeth in hegtenis geneem, byna ses maande nadat sy immuniteit van vervolging herroep is. Hy staan tereg op ʼn aanklag van moord en  word verteenwoordig deur Zolile Ngqeza, dieselfde prokureur wat hom verteenwoordig het toe hy verlede jaar tydens die moordverhoor as ʼn art. 204-getuie getuig het.

Die voormalige uitsmyter het vroeër erken dat hy gehelp het om ʼn huurmoordenaar op te spoor om Jayde te vermoor, en het Christopher Panayiotou as die baasbrein agter sy vrou se moord uitgewys.

In sy verklaring as staatsgetuie het Siyoni beskryf hoe Panayiotou hom genader het om ʼn huurmoordenaar op te spoor om sy vrou te vermoor en hoe hy, ná ʼn paar mislukte pogings, uiteindelik vir Sizwe Vumazonke gekontrakteer het om die moord uit te voer. Vumazonke het sedertdien in ʼn hospitaal gesterf.

Siyoni, wat veronderstel was om die staat se sleutelgetuie te wees, het later sy verklarings wat hy aan die polisie gemaak het, teruggetrek en geweier om enige van die staatsaanklaer, Marius Stander, se vrae tydens ʼn verhoor-binne-ʼn-verhoor te beantwoord.

Siyoni se skielike ommeswaai het gekom ná ʼn soortgelyke ommeswaai van sy vriendin, Babalwa Breakfast. Sy is van meineed aangekla nadat sy afgewyk het van haar verklaring aan die polisie waarin sy gesê het haar kêrel het haar vertel van Panayiotou se planne om sy vrou, Jayde, te laat vermoor. Siyoni en Breakfast is gevolglik albei as vyandige getuies verklaar.

Panayiotou en Sinethemba Nenembe is in November verlede jaar skuldig bevind aan die moord op Jayde, terwyl Zolani Sibeko skuldig bevind is aan sameswering om moord te pleeg. Panayiotou dien lewenslange tronkstraf uit. Sy aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding is vandeesweek in die hooggeregshof van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.