Panayiotou-moord: ‘Middelman’ terug in beskuldigdebank

Luthando Siyoni. Foto: Facebook

In teenstelling met die opspraakwekkende Jayde Panayiotou-moordverhoor wat elke dag voor ʼn volgepakte hofsaal plaasgevind het en waaroor daar wyd in die media berig is, het die vermeende middelman in die Oos-Kaapse onderwyseres se moord Dinsdag in ʼn grootliks leë hof in die beskuldigdebank verskyn.

Luthando Siyoni is Maandag in Kwazakhele buite Port Elizabeth in hegtenis geneem, byna ses maande nadat sy immuniteit van vervolging herroep is.

Siyoni word verteenwoordig deur Zolile Ngqeza, dieselfde prokureur wat hom verteenwoordig het toe hy verlede jaar tydens die moordverhoor as ʼn art. 204-getuie getuig het. Die voormalige uitsmyter is van voorneme om om borgtog aansoek te doen, maar staatsaanklaer Andre Kirshner het aangedui dat die staat die aansoek sal teenstaan.

ʼn Datum wanneer die formele borgtogaansoek aangehoor sal word moet nog deur die verdediging en die staat gefinaliseer word. Die saak is voorlopig tot Woensdag uitgestel.

Toe Siyoni die beskuldigdebank in die Port Elizabeth-landdroshof binnestap, het hy omgekyk na die leë openbare galery waar daar blykbaar niemand was om hom te ondersteun nie.

Siyoni het vroeër erken dat hy gehelp het om ʼn huurmoordenaar op te spoor om Jayde te vermoor en het Christopher Panayiotou uitgewys as die baasbrein agter sy vrou se moord.

In sy verklaring as staatsgetuie het Siyoni beskryf hoe Panayiotou hom genader het om ʼn huurmoordenaar op te spoor om sy vrou te vermoor en hoe hy, ná ʼn paar mislukte pogings, uiteindelik vir Sizwe Vumazonke gekontrakteer het om die moord uit te voer. Vumazonke het sedertdien in ʼn hospitaal gesterf.

Jayde is op 21 April 2015 buite die Stellen Glen-kompleks in Kabegapark ontvoer waar sy gestaan en wag het vir ʼn saamrygeleentheid werk toe. Haar liggaam is later in die buitewyke van Kwanobuhle gevind. Sy is in haar kop geskiet.

Luthando Siyoni en sy prokureur, Zolile Ngqeza, by die hooggeregshof in Port Elizabeth in November 2016: Foto: Raahil Sain/ANA

Siyoni, wat veronderstel was om die staat se sleutelgetuie te wees, het later sy verklarings wat hy aan die polisie gemaak het teruggetrek en het geweier om enige van die staatsaanklaer, Marius Stander, se vrae tydens ʼn verhoor-binne-ʼn-verhoor te beantwoord.

Siyoni se skielike ommeswaai het gekom ná ʼn soortgelyke ommeswaai van sy vriendin, Babalwa Breakfast, wat aangekla is van meineed nadat sy afgewyk het van haar verklaring aan die polisie waarin sy gesê het haar kêrel het haar vertel van Panayiotou se planne om sy vrou, Jayde, te laat vermoor. Siyoni en Breakfast is gevolglik albei as vyandige getuies verklaar.

Siyoni se prokureur het hom geadviseer om nie enige vrae in die getuiebank te beantwoord wat hom kan inkrimineer nie, alhoewel art. 204-getuies veronderstel is om eerlik te wees oor die relevante gebeure.

Siyoni se optrede is deur regter Dayalin Chetty gekritiseer wat in sy uitspraak Siyoni se getuienis bestempel het as ʼn “mengsel van leuens, meineed en bedenksels” wat ontwerp is om Panayiotou se verdediging te bevoordeel.

Panayiotou en Sinethemba Nenembe is in November verlede jaar skuldig bevind aan die moord op Jayde, terwyl Zolani Sibeko skuldig bevind is aan sameswering om moord te pleeg. Panayiotou se regspan het intussen ʼn aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding by die hooggeregshof ingedien. Intussen is Panayiotou, Nenembe en Sibeko besig om hul vonnisse uit te dien.

Lees alle vorige berigte oor die Panayiotou-moordsaak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jou beurt ·

Ja nee jy moet ook jou beurt kry, ek dink hy het nogal gedink hy is nou famous en gaan ‘n hofsaal vol lok. Ek voel egter die vroueliga moes Jayde verteenwoordig het!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.