Panayiotou-moord: ‘Middelman’ vra dan borgtog

Jayde Panayiotou. Foto: Verskaf

Die vermeende middelman in die Jayde Panayiotou-moord het Woensdag weer in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn.

Die saak teen Luthando Siyoni is tot 18 Mei uitgestel wanneer hy amptelik om borgtog sal aansoek doen.

Siyoni is Maandag in Kwazakhele buite Port Elizabeth in hegtenis geneem, byna ses maande nadat sy immuniteit van vervolging herroep is.

Siyoni word verteenwoordig deur Zolile Ngqeza, dieselfde prokureur wat hom verteenwoordig het toe hy verlede jaar tydens die moordverhoor as ʼn art. 204-getuie getuig het. Die voormalige uitsmyter is van voorneme om om borgtog aansoek te doen, maar staatsaanklaer Andre Kirshner het aangedui dat die staat die aansoek sal teenstaan.

Siyoni het vroeër erken dat hy gehelp het om ʼn huurmoordenaar op te spoor om Jayde te vermoor en het Christopher Panayiotou uitgewys as baasbrein agter sy vrou se moord.

In sy verklaring as staatsgetuie het Siyoni beskryf hoe Panayiotou hom genader het om ʼn huurmoordenaar op te spoor om sy vrou te vermoor en hoe hy, ná ʼn paar mislukte pogings, uiteindelik vir Sizwe Vumazonke gekontrakteer het om die moord uit te voer. Vumazonke het sedertdien in ʼn hospitaal gesterf.

Luthando Siyoni. Foto: Facebook

Jayde is op 21 April 2015 buite die Stellen Glen-kompleks in Kabegapark ontvoer waar sy gestaan en wag het vir ʼn saamrygeleentheid werk toe. Haar liggaam is later in die buitewyke van Kwanobuhle gevind. Sy is in haar kop geskiet.

Siyoni, wat veronderstel was om die staat se sleutelgetuie te wees, het later sy verklarings wat hy aan die polisie gemaak het, teruggetrek en geweier om enige van die staatsaanklaer, Marius Stander, se vrae tydens ʼn verhoor-binne-ʼn-verhoor te beantwoord.

Siyoni se skielike ommeswaai het gekom ná ʼn soortgelyke ommeswaai van sy vriendin, Babalwa Breakfast, wat aangekla is van meineed nadat sy afgewyk het van haar verklaring aan die polisie waarin sy gesê het haar kêrel het haar vertel van Panayiotou se planne om sy vrou, Jayde, te laat vermoor. Siyoni en Breakfast is gevolglik albei as vyandige getuies verklaar.

Panayiotou en Sinethemba Nenembe is in November verlede jaar skuldig bevind aan die moord op Jayde, terwyl Zolani Sibeko skuldig bevind is aan sameswering om moord te pleeg. Panayiotou se regspan het intussen ʼn aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding by die hooggeregshof ingedien. Intussen dien Panayiotou, Nenembe en Sibeko reeds hul vonnisse uit.

Lees alle vorige berigte oor die Panayiotou-moordsaak op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

kas ·

Ek het nie veelregskennis nie en daarom vra ek net,as Siyoni sy aanvanklike verklaring teruggetrek het kan dit Christopher se skuldigbevinding beinvloed?As Siyoni ingevolge art.204 van die strafproseswet kwytskelding teen vervolging ontvang het dan moes hy die waarheid gepraat het maar nou is die kwytskelding teruggetrek wat vir my die idee gee hy het gelieg en daarom word hy vervolg.Sy vriendin het ook ‘n ommeswaai gemaak en word vervolg vir meineed.Wat gaan nou eintlik aan?

Jacques ·

Kas ek stem saam met jou , die feit dat twee van die verklarings in die saak se inhoud terug getrek is se vir my dat die feite op die tafel nie meer dieselfde is nie . Waar los dit Chris en kie wat op grond daarvan skuldig bevind is en gevonnis is ? Is hulle vonnise nie dalk te lig nie , en is daar dalk meer agter die hele saak as dit wat in die hof uitgekom het ?
Vra maar net .

Cherokee ·

Ag tog vra maar net, Panayiotou se skuldigbevinding is grotendeels te wyte aan ‘n oortuigende bandopname wat niks te doen kan hê met lieg en bedreig met terugtrekking van getuienis nie. Sê maar net!

kas ·

Jacques,is Christopher nie dan ‘n slagoffer van sameswering nie.Hy appelleer teen sy skuldigbevinding.Gaan hierdie verwikkelinge die saak ‘n ander wending laat inneem.Die een getuie is dood,een het nou sy verklaring teruggetrek en een is saam met Christopher gevonnis.Ek glo Christopher het deel aan sy vrou se dood gehad en hy is waar hy hoort.Hulle het lewenslank gekry as ek reg onthou. As Siyoni in sy verklaring Christopher geimpliseer het as die baasbrein hoekom sy verklaring terugtrek en vervolging in die gesig staar.Was hy nie omgekoop om ‘n verklaring te maak nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.