Panayiotou-moord: Middelman weer in hof

Luthando Siyoni. Foto: Facebook

Die vermeende middelman in die Jayde Panayiotou-moord het Vrydag weer in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn.

Die saak teen Luthando Siyoni is tot 22 Mei uitgestel wanneer hy na verwagting formeel om borgtog gaan aansoek doen. Die staat het aangedui dat die aansoek teengestaan gaan word.

Siyoni is vroeër vandeesmaand in Kwazakhele buite Port Elizabeth in hegtenis geneem, byna ses maande nadat sy immuniteit van vervolging herroep is. Hy staan tereg op ʼn aanklag van moord.

Siyoni word verteenwoordig deur Zolile Ngqeza, dieselfde prokureur wat hom verteenwoordig het toe hy verlede jaar tydens die moordverhoor as ʼn art. 204-getuie getuig het.

Die voormalige uitsmyter het vroeër erken dat hy gehelp het om ʼn huurmoordenaar op te spoor om Jayde te vermoor, en het Christopher Panayiotou uitgewys as baasbrein agter sy vrou se moord.

In sy verklaring as staatsgetuie het Siyoni beskryf hoe Panayiotou hom genader het om ʼn huurmoordenaar op te spoor om sy vrou te vermoor en hoe hy, ná ʼn paar mislukte pogings, uiteindelik vir Sizwe Vumazonke gekontrakteer het om die moord uit te voer. Vumazonke het sedertdien in ʼn hospitaal gesterf.

Jayde is op 21 April 2015 buite die Stellen Glen-kompleks in Kabegapark ontvoer waar sy gestaan en wag het vir ʼn saamrygeleentheid werk toe. Haar liggaam is later in die buitewyke van Kwanobuhle gevind. Sy is in haar kop geskiet.

Siyoni, wat veronderstel was om die staat se sleutelgetuie te wees, het later sy verklarings wat hy aan die polisie gemaak het, teruggetrek en geweier om enige van die staatsaanklaer, Marius Stander, se vrae tydens ʼn verhoor-binne-ʼn-verhoor te beantwoord.

Siyoni se skielike ommeswaai het gekom ná ʼn soortgelyke ommeswaai van sy vriendin, Babalwa Breakfast, wat aangekla is van meineed nadat sy afgewyk het van haar verklaring aan die polisie waarin sy gesê het haar kêrel het haar vertel van Panayiotou se planne om sy vrou, Jayde, te laat vermoor. Siyoni en Breakfast is gevolglik albei as vyandige getuies verklaar.

Panayiotou en Sinethemba Nenembe is in November verlede jaar skuldig bevind aan die moord op Jayde, terwyl Zolani Sibeko skuldig bevind is aan sameswering om moord te pleeg. Panayiotou dien lewenslange tronkstraf uit. Sy aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding is vandeesweek in die hooggeregshof van die hand gewys.

Lees alle vorige berigte oor die Panayiotou-moordsaak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Banana ·

Hoe loop jy vry rond as jy gehelp het om ‘n sluipmoordenaar vir iemand te reel????? Net ons polisie kry dit reg. Hoop hulle bevind hom skuldig sodat hy verder kan Gym in die tronk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.