Panayiotou-moord: Oud-werknemer getuig oor geld in stoorkamer

Mawonga Ndedwa, ʼn voormalige werknemer van Christopher Panayiotou, in die hooggeregshof in Port Elizabeth (20 Oktober 2016). Foto: ANA

Mawonga Ndedwa, ʼn voormalige werknemer van Christopher Panayiotou, in die hooggeregshof in Port Elizabeth (20 Oktober 2016). Foto: ANA

Mawonga Ndedwa, ʼn voormalige werknemer van die moordbeskuldigde Christopher Panayiotou, het Donderdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth getuig dat hy op R30 000 kontant in die stoorkamer van Panayiotou se OK Grocer afgekom het en dat Panayiotou hom aangesê het om die geld vir Luthando Siyoni te gee.

Ndedwa, ʼn staatsgetuie, het op die sewende dag van die verhoor teen Panayiotou en sy twee mede-beskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko, getuig. Die staat beweer Panayiotou het Luthando Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal om ʼn huurmoordenaar, Sizwe Vumazonke, te kry om sy vrou, Jayde, te ontvoer en te vermoor.

Siyoni het intussen staatsgetuie geword en Vumazonke is verlede maand dood.

Ndedwa het sedert 2012 vir Panayiotou as ʼn handelaar gewerk en het aan die hof gesê Panayiotou was ʼn goeie baas wat sy personeel baie goed behandel het.

Ndedwa het daarna getuig dat Panayiotou sy [Ndedwa se] persoonlike selfoon gebruik het om Siyoni mee te bel. Hy beweer Panayiotou het hom later beveel om die selfoon te “vernietig”.

“Chris het my R1 000 gegee en gesê om die foon te vernietig. Ek was nuuskierig en het hom gevra hoekom. Chris het gesê dat my foon sal veroorsaak dat die polisie my soek,” het Ndedwa gesê. Hy het gesê twee weke voordat Jayde verdwyn het, het Panayiotou hom gevra of hy sy selfoon kan leen om oproepe mee te maak.

“Chris sou na my toe kom en my foon leen en omdat hy my baas was, het ek dit vinnig aan hom oorhandig. Hy sou vir my lugtyd stuur,” het Ndedwa gesê. Hy het bygevoeg dat hy agtergekom het Panayiotou gebruik sy foon om vir Siyoni te bel toe Siyoni hom eendag gebel het op soek na Panayiotou.

Ndedwa het verder getuig hy het ʼn week voordat Jayde op 21 April 2015 verdwyn het R30 000 in die winkel se stoorkamer gevind. “Ek het die winkel oopgesluit en het gereedskap gaan haal om ʼn broodmasjien reg te maak. Toe ek in die gereedskapkis kyk, het ek die geldsak gesien. Ek het binne-in gekyk en gesien, sjoe, dis baie geld. Ek het die geldsak teruggesit en gedink ek moet vir Chris bel,” het hy gesê.

“Chris het vir my gesê die kontant is altesaam R30 000 en ek moet dit vir Thando gee. Thando het nie opgedaag nie en ek het die winkel gesluit en huis toe gegaan. Die volgende dag het Chris vir my gesê hy het die geld weggegee.”

Adv. Terry Price vir die verdediging het tydens Ndedwa se kruisondervraging hom daarvan beskuldig dat hy ʼn dief is wat verskeie dissiplinêre verhore teen hom het. Price het Ndedwa se getuienis as “belaglike leuens” afgemaak en gesê Ndedwa is deur die Panayiotous afgedank omdat hy gesteel het.

“Twaalf dae nadat jy afgedank is, het jy ʼn verklaring oor Chris aan [die ondersoekbeampte] Kanna [Swanepoel] afgelê waarin jy vir Chris sleg maak?” het Price gevra. Price het Ndedwa verder daarvan beskuldig dat hy die hof mislei.

Ndedwa het erken dat hy 11 bottels whisky gesteel het, maar het gesê hy was keelvol en “wou ʼn manier kry” om nie meer by die OK Grocer te werk nie. Hy sê dit was altyd sy bedoeling om sy werk te verlaat. Hy het gesê hy soek net sy werkloosheidsversekeringsfonds.

Ndedwa het ook gesê hy het sy selfoonnommer in die plaaslike koerant gesien en wou die staat inlig dat dit sy nommer is “omdat hy bang was”.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kierangs braai ·

Hy het sy pak oor die whiskey gevat. Ek is dankbaar jy het jou nr gesien en jou getuienis beteken baie, dit het niks met die Whiskey te doen nie. Ek glo die rekords sal alles bevestig! Price die kruisverhoor moet oor werklike weervawe van saak voor hof gaan, nie oor n getuie se ou koeie!

paula ·

Dalk, net dalk het hierdie einste man vir Jade laat vermoor en dan gereel om Chris te laat lyk soos die beskuldigde om hom terug te kry vir die afdanking na die diefstal.

Anoniem ·

Paula waar val jy uit. Lyk my jy volg nie die hele storie nie…Gaan lees als weer en lewer dan eers kommentaar!!!!!!

Takkie Takuuza ·

Sy storie klink vir my opgemaak. Goeie prokereur behoord dit in stukke te skeur. Wat is die waarheid?

Sandra ·

Adv Price as dit jou dogter was wat vermoor was sou jy dan nog steeds na grashalms gryp om die man wat haar moord beplan het te verdedig?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.