Panayiotou-moord: Sangoma vertel ‘skieter’ wou hom reinig

Christopher Panayiotou (heel regs met sy rug na die kamera) en sy twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Port Elizabeth (17 Oktober 2016) Foto: ANA

Christopher Panayiotou (heel regs met sy rug na die kamera) en sy twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Port Elizabeth (17 Oktober 2016) Foto: ANA

ʼn Sangoma wat die tannie is van Sizwezakhe Vumazonke, die beweerde skieter in die Jayde Panayiotou-moordsaak, het Maandag in die hooggeregshof in Port Elizabeth gesê sy het “geskok en siek gevoel” nadat sy die gebeure aangehoor het wat Vumazonke in April 2015 aan haar vertel het.

Zoleka Zekani is as getuie geroep op die vierde dag van die moordverhoor teen Christopher Panayiotou en sy twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko. Die staat beweer die drie het saamgesweer om Christopher se vrou, Jayde, te vermoor. Sy is twee keer deur haar rug en een keer deur die kop geskiet.

Vumazonke is vroeër vanjaar ná ʼn kort siekte in aanhouding dood. Die besonderhede van ʼn toksikologieverslag rondom sy dood is nog nie bekendgemaak nie.

Zekani het Maandag aan die staatsaanklaer, adv. Marius Stander, gesê Vumazonke het een oggend in April 2015 na haar huis in Kwanobuhle gekom, ʼn week voordat sy ʼn verklaring aan die polisie afgelê het. Sy het gesê sy was omstreeks 07:00 saam met haar man in die bed toe hulle ʼn klop aan hul kamerdeur gehoor het.

Volgens Zekani was dit die oggend koud en het sy Vumazonke bewend by die deur aangetref. Sy het verduidelik dat Vumazonke haar gevra het om hom “te reinig”, maar dat sy geweier het nadat sy gehoor het wat hy haar vertel het. “Weens die skok is ek kombuis toe om water te kry,” het Zekani gesê.

Sy het gesê sy het daarna buite die huis gestap waar sy ʼn sak met ʼn skootrekenaar en boeke in gesien staan het. Sy het Vumazonke oor die sak gevra, maar hy het dit net op sy skouer gesit en geloop.

Volgens die staat het Vumazonke kort nadat hy Jayde doodgeskiet het, die sangoma besoek om “gereinig” te word. Hy het Jayde se sak en skootrekenaar in sy besit gehad. Stander het voorheen gesê Vumazonke se besoek aan die sangoma hou direk verband met sy inhegtenisneming deur die polisie.

Gedurende Maandag se verrigtinge het die staat ʼn aansoek ingedien volgens artikel 3 van die Wysigingswet op die Bewysreg  sodat die hof kan hoor wat Vumazonke aan sy tannie gesê het. Stander het gesê hy weet die getuienis is hoorsê, maar dat die wet voorsiening maak vir sekere omstandighede waarin hoorsê-getuienis toegelaat word. “Die aard van die getuienis sal nie ʼn direkte implikasie op die beskuldigdes voor die hof hê nie,” het Stander gesê.

Adv. Terry Price en adv. Peter Daubermann het albei aangevoer dat hul kliënte benadeel sal word indien hoorsê-getuienis toegelaat word. “Die benadeling wat in ag geneem moet word, is dat Vumazonke nie teenwoordig is nie. Ek weet dat indien Vumazonke hier was, sou sy regsverteenwoordiger hierdie getuienis beveg het en gesê het dat hy nooit [by die sangoma] was nie. Maak nie saak wat Stander nou aan die hof sê nie, dit is ʼn skulderkenning. Dit is te gevaarlik,” het Price gesê.

Daubermann het gesê aangesien Vumazonke nie teenwoordig is nie sal dit vir die verdediging onmoontlik wees om die geloofwaardigheid van die hoorsê-getuienis te toets.

Regter Dayalin Chetty het die staat se aansoek van die hand gewys en die hof is nie toegelaat om die getuienis aan te hoor nie.

Panayiotou word daarvan beskuldig dat hy die meesterbrein agter Jayde se ontvoering en moord is. Die staat voer aan hy het Luthando Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal om Vumazonke as sluipmoordenaar te huur. Vumazonke is glo deur Sinethemba Nenembe bygestaan om die ontvoering en moord uit te voer. Sibeko is in Julie vanjaar in hegtenis geneem nadat hy deur sy selfoon verbind is met die saak. Hy was glo saam met Nenembe en Vumazonke by die kompleks waar Jayde ontvoer is. Siyoni het intussen staatsgetuie geword.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Dink mooi ·

Regter Chetty, dink mooi oor hierdie getuienis, dit is belangrik, dit is hoe hierdie hele plan uitgekom het! Verder hoop ek Vumazonke se verslae kom betyds uit, sy dood was te skielik, te gepas! Terry & Peter se vrees en heftige keer bevestig alles.

Adeline ·

Kan klaar aflei in watter rigting die saak trek. Sal nie verbaas wees as die lummel en sy makkers wegkom nie. Pateties!

Piete B ·

Lyk na ‘n groot sneeubal wat hier besig is om uit te kom!!!

L!sa ·

Die Sangoma is in die besit van baie belangrike informasie. As selfs ñ sangoma “geskok en siek” gevoel het, sê reeds baie. En die feit dat sy geweier het om hom te “reinig”. Ek hoop geregtigheid geskied vir die pragtige Jade..

Bekkels ·

Ek lees al hierdie “updates” oor die moordverhore wat nou aan die gang is…..hoe hartseer en tragies moet dit nie vir die familie en naasbestaandes wees om hierdie verskriklike detail aan te hoor rondom hierdie moorde nie! Sterkte vir almal betrokke….ouers, broers, susters en familie en vriende!

Denise ·

Dit is vir my net baie hartseer dat so n pragtige vrou haar lewe moes verloor deur n man wat geen beheer oor syne het nie tragies !!!Sterkte aan haar familie!!!!!

Suki ·

Bittere pyn en seer vir ouers en naasbestaandes. Shier Dewani saak het hierdie mans moed gegee. Laat moor of vermoor, jy ontken net, vergeet of maak of jy mal is. Maak voorbeelde van hierdie mans…. dit is verskriklik hoe vroue en kinders uitgemoor word deur persone wat hulle moes beskerm en liefhê. Ouersmarte.

Retha ·

Ek hoop Price en Doberman kan slaap in die nag. Ek sou nie met so skuldige gewete kon slaap nie.

ElgeraineR ·

Dis baie duidelik die man het nie n greintjie gevoel vir sy vrou gehad nie, sy moes bitter eensaam gewees het. Ek hoop uit my hart dat die staat die saak nie verloor nie. Justice for Jayde xxx

Staan sterk ·

Kanna Swanepoel, Marius Stander en al die getuies in die saak, staan sterk, ons bid vir julle vir kalmte, geduld en krag teen hierdie Price, Daubermann en kriminele om jul getuies te bring en dat hierdie beskuldigdes aan die pen sal ry. Price en Daubermann, lag maar vir ons, onthou ‘n gewete is ‘n bl………m dit skop een of ander tyd in en dan moet jy al hierdie gewetenloosheid teenoor die slagoffer, die familie en al die getuies face, daai dag gaan my woorde sin maak. Ek het al deur die jare gesien, hulle is almal alkoholiste en familieloos, so geniet jou speletjie, alles speletjies stop iewers.

Pippie ·

Hierdie saak gaan ook nog vir die wolwe gaan. Pani gaan nog skotvry wegsstap oor onbenullige proseduretjies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.