Panayiotou-moord: Trane vloei toe vriendin getuig

Christopher Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko (met sy gesig bedek) in hooggeregshof in Port Elizabeth (12 Oktober 2016). Foto: ANA/Raahil Sain

Christopher Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko (met sy gesig bedek) in die hooggeregshof in Port Elizabeth (12 Oktober 2016). Foto: ANA/Raahil Sain

Cherise Swanepoel, ʼn goeie vriendin en kollega van Jayde Panayiotou, het Woensdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth in trane uitgebars, toe sy deur die verdediging gevra is om Christopher Panayiotou aan die hof uit te wys.

Swanepoel het in die hof getuig op die tweede dag van Panayiotou en sy medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko, se verhoor. Hulle word van betrokkenheid by die moord op Jayde, op 21 April verlede jaar, beskuldig.

Swanepoel was ʼn kollega van Jayde by Riebeek Kollege naby Uitenhage. Jayde het die oggend van haar ontvoering by die hek van haar kompleks vir Swanepoel gewag om saam met haar werk toe te ry. Die groep vriende het ʼn saamryklub gehad na die skool, wat ongeveer 30 minute se ry van Port Elizabeth af is.

Adv. Marius Stander, die staatsaanklaer, het Swanepoel gevra om die gebeure van 21 April aan die hof weer te gee. Swanepoel het gesê sy het die betrokke dag drie WhatsApp-boodskappe aan Jayde gestuur om te sê sy is op pad. Volgens Swanepoel is haar laaste boodskap, wat gesê het “hier”, nooit afgelewer nie.

“Op die dag wat Jayde vermis geraak het, het dit gereën. Ek het vir haar ʼn boodskap gestuur om te vra of ek moet inkom om haar te kom haal en sy het terug geantwoord sy sal stap,” het Swanepoel gesê. Swanepoel het vertel sy het ʼn rukkie vir Jayde gewag omdat sy soms lank gevat het om hek toe te stap, maar sy het haar naderhand gebel. Jayde se foon het dadelik na haar stemboodskap oorgegaan.

Volgens Swanepoel het sy Panayiotou gebel toe sy Jayde nie in die hande kon kry nie en hom gevra waar Jayde is. “Hy het gesê, wat bedoel jy? Sy is werk toe. Ek het gesê dit is nie moontlik nie, want dit was hierdie week my beurt om te bestuur. Ek het vir Jayde gesê ek is op pad en sy het geweet sy moet vir my wag,” het Swanepoel vertel.

Swanepoel het getuig sy is daarna in die kompleks in om Panayiotou te sien en hy het aan haar gesê “iets is nie reg nie”. Hulle het in die Stellen Glen-kompleks rondgery om na Jayde te soek en mense gevra of enigiemand haar gesien het. Daarna het hulle Kwanobuhle toe gery nadat hulle gesien het daar was aktiwiteit in haar bankrekening by ʼn kitsbank naby Njoli Square.

Sy het gesê Panayiotou het “verras” geklink om te hoor Jayde word vermis. Adv. Terry Price, vir die verdediging, het haar gevra of hy besorg geklink het en Swanepoel het geantwoord hy het “vasbeslote geklink om haar te kry”.

Panayiotou word daarvan beskuldig dat hy die meesterbrein is agter Jayde se ontvoering en moord. Die staat voer aan hy het Luthando Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal om Sizwezakhe Vumazonke as sluipmoordenaar te huur. Vumazonke is glo deur Nenembe bygestaan om die ontvoering en moord uit te voer. Sibeko is in Julie vanjaar in hegtenis geneem, nadat hy deur sy selfoon verbind kon word met die saak. Hy was glo saam met Nenembe en Vumazonke by die kompleks waar Jayde ontvoer is.

Siyoni het intussen ʼn staatsgetuie geword en Vumazonke is vroeër vanjaar in aanhouding dood.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.