Panayiotou-moord: Vonnisverrigtinge begin

Christopher Panayiotou en sy medebeskuldigdes in die hof (2 November 2017). Foto: Raahil Sain/ANA

Die vonnisverrigtinge in die verhoor teen die mans wat betrokke was by die moord op Jayde Panayiotou sal vandag in die hooggeregshof in Port Elizabeth begin.

Christopher Panayiotou, Jayde se man, is op 2 November skuldig bevind aan die moord op sy vrou. Hy is ook skuldig bevind aan dwarsboming van die gereg. Sinethemba Nenembe, een van Panayiotou se medebeskuldigdes, is skuldig bevind op aanklag van moord, asook op ʼn aanklag van roof met verswarende omstandighede. Zolani Sibeko is skuldig bevind op ʼn aanklag van sameswering tot moord.

Die uitspraak het gevolg ná ʼn marathon-verhoor wat meer as ʼn jaar gelede begin het en waartydens 58 getuies geroep is.

Die vonnisverrigtinge sal na verwagting begin met adv. Marius Stander, die staatsaaklaer, wat getuies sal roep om ter verswarende omstandighede te getuig. Van Jayde se familielede kan moontlik geroep word om te getuig.

Zolani Sibeko in die hof. Foto: Raahil Sain/ANA

Toni Inggs, Jayde se suster, het verlede jaar tydens die verhoor getuig en gesê sy is kwaad en wil net geregtigheid vir haar suster hê. “Ek wil hê hy [Panayiotou] moet toegesluit word. My suster is vermoor. Die Panayiotou-familie behandel ons [die Inggs-familie] asof ons die vyand is. Sedert die dag wat Christopher in hegtenis geneem is, het hulle nog geen berou of meegevoel getoon nie,” het Inggs destyds gesê.

Sy het ook tydens haar getuienis aan die hof vertel dat Jayde “ongelooflik alleen” was en dat sy en Christopher aparte lewens gelei het.

Jayde is op die oggend van 21 April 2015 buite die Stellen Glen-kompleks in Kabegapark ontvoer waar sy gestaan en wag het vir ʼn saamrygeleentheid werk toe. Haar liggaam is die volgende dag in ʼn “afgeleë gebied” naby die Kwanobuhle-township buite Uitenhage gevind. Sy is drie keer geskiet, twee keer in haar rug en een keer in haar kop.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mag reg en geregtigheid geskied ·

Mag reg en geregtigheid geskied, vir al die verlies deur Jayde Inngs se lewe te geneem het

Tina ·

Ek kan nie verstaan dat mense dink hulle met so iets gaan wegkom nie. Was dit wragtig nodig om haar lewe te vat. Om te skei is beter as moord of gaan dit net oor geld?????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.