Panayiotou-moord: Vriendin getuig oor ‘duur geskenke’

Clarishka Kapp verlaat die hooggeregshof in Port Elizabeth nadat sy tydens haar getuienis begin huil het. Foto: Raahil Sain/ANA

Clarishka Kapp verlaat die hooggeregshof in Port Elizabeth nadat sy tydens haar getuienis begin huil het. Foto: Raahil Sain/ANA

ʼn Goeie vriendin van die moordbeskuldigde Christopher Panayiotou het Maandag in die hooggeregshof in Port Elizabeth in trane uitgebars nadat sy tydens haar getuienis gepols is oor duur geskenke wat sy van Panayiotou ontvang het.

Clarishka Kapp (28), ʼn goeie vriendin van Panayiotou en sy minnares, Chanelle Coutts, het getuig op die vierde dag van die verhoor teen Panayiotou en sy medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko. Die drie staan tereg vir die moord op Panayiotou se vrou, Jayde.

Dit het tydens Kapp se getuienis aan die lig gekom dat sy gedurende haar vriendskap met Panayiotou en Coutts foto’s van haarself aan die twee gestuur het. Adv. Terry Price, vir die verdediging, het ʼn foto aan die hof gewys van Kapp wat in ʼn bad sit en ʼn glas wyn vashou. Kapp het gesê sy het ʼn soortgelyke foto aan die paartjie gestuur, maar dit was nie dieselfde foto wat in die hof gewys is nie.

Kapp het verlede week getuig sy het ʼn foto op haar foon gehad van Panayiotou en Coutts saam in die bed. Vyf dae nadat Jayde vermis geraak het, is sy aangesê om die foto op haar foon uit te vee.

Price het Kapp herhaaldelik gevra hoekom sy nooit in haar verklaring aan die polisie genoem het dat sy ook duur geskenke by Panayiotou ontvang het nie en sy het naderhand in trane uitgebars. Die hof is vir ʼn kort rukkie verdaag om Kapp kans te gee om haarself te kalmeer.

Toe sy teruggekom het, het sy aan Price gesê sy kan slegs getuig oor die waarheid en goed wat sy kan onthou. Price het haar gevra hoekom sy dan niks genoem het van ʼn iPhone ter waarde van R5 000 wat sy van Panayiotou gekry het nie. Kapp het gesê sy het wel die iPhone en ʼn horlosie van Panayiotou ontvang, maar “al die ander geskenke” soos ʼn Polo-sak en haarstileringstoerusting was geskenke wat sy van die paartjie saam ontvang het.

Panayiotou word daarvan beskuldig dat hy die meesterbrein agter Jayde se ontvoering en moord is. Die staat voer aan hy het Luthando Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal om Sizwezakhe Vumazonke as sluipmoordenaar te huur. Vumazonke is glo deur Sinethemba Nenembe bygestaan om die ontvoering en moord uit te voer. Sibeko is in Julie vanjaar in hegtenis geneem nadat hy deur sy selfoon verbind is met die saak. Hy was glo saam met Nenembe en Vumazonke by die kompleks waar Jayde ontvoer is.

Siyoni het intussen staatsgetuie geword en Vumazonke is vroeër vanjaar in aanhouding dood.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Anoniem ·

Laat mens wonder hoekom het Clarishka Kapp gejok….Nog n slang in die gras…Het sy ook n verhouding gehad met Panayioto of was sy deel van die moord?????

Nee wat ·

Nee wat die arme girl is die slagoffer tussen 2 wat ‘n buite egtelike verhouding gehad het, noudat hy in die moeilikheid is en sy besef sy moet sê wat sy weet anders kan sy as deel van die moord komplot bestempel word. Nou boelie ‘n ervare Terry Price haar, ek weet jy moet jou klient se saak uitsorteer, maar regtig, mag hierdie verniel en vernielde gesiggie jou in die aand jaag, dit is gevoelloos en ongenaakbaar. Daar gaan ‘n dag kom wat daai gewete van jou in plek gaan kom. Liewe Clarishka, jy doen die regte ding (wat ‘n eerlike mens sou doen), sterk wees, ten minste is jy nie in die beskuldigde bank of ‘n boeilie om die 1 in die beskuldigde bank te probeer loskry deur ander te boelie. Stander kyk mooi hy stuur af om te sê daar was geen verhouding, net vrygewigheid vir enige een.

Alida ·

Vonnis die man en kry klaar. Hy is so skuldig soos nogiets.

Piet ·

Nee wat, ek dink jy is dalk maar net n betjie naief. Ek het nog nooit gehoor van ‘n eerbare getroude man wat geskenke agter ‘n ander vrou aan dra nie. As ‘n ander man ewe skielik met jou vrou so “vrygewig” raak dan stel ek voor jy stel ondersoek in. Al wat hierdie advokaat bewys het is dat Chris permanent met n broek vol planne rondgeloop het.

Mari ·

Hoe ek ook voel Piet. Mens krap nie in iemand anders se slaai nie! Jy bel nie eers jou vriend se vrou nie. Is maar net hoe dinge werk. Daar is ‘n baie fyn lyn!

Nee wat ·

Ek stem 100% saam met die broek vol planne! Clarishka is die skelmpie se vriendin (nie man nie). Terry het haar gebraai omdat sy nie al haar geskenke verklaar het, hy wil dit laat lyk of CP net n vrygewige man sonder bybedoelings was en dit was eintlik stilbky geskenke terwyl die arme vriendin te naier was om te besef, hierdie vuurtjie wat gestook word gaan n ontploffing word nie. Ek is trots op haar dat sy eerlik is en alles in die ope bring, net jammer geleerde Terry slaan haar hard, maar hy sal sy beurt kry.

SNEL ·

Verduidelik net vir my, is ek outyds of wat, maar Kapp (wat n vriendin van die skelmpie is), stuur foto’s van haar in die bad aan altwee van hulle. Nou vra ek net, hoekom sal n mens so n foto vir n man stuur waarmee jy nie in n verhouding is nie. Was hulle nie miskien altwee sy skelmpies nie. Niks sal my verbaas van hierdie man met die vreeslike van nie. Kry net pragtige Jade se ouers en familie vreeslik jammer; om te hoor hoe die man wat vir hulle dogter moes lief wees, omgee, beskerm en sorg, so vrot brein en gedagtes gehad het en alles wat so in die hofsaak in detail vertel word en hulle wat dit nou moet aanhoor. Baie sterkte vir julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.