Panayiotou-moordsaak: Aansoek gebring om 2 te laat vryspreek

Christopher Panayiotou (heel regs met sy rug na die kamera) en sy twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Port Elizabeth (17 Oktober 2016) Foto: ANA

Die regsverteenwoordiger van Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko, twee van die beskuldigdes in die opspraakwekkende Jayde Panayiotou-moordsaak, het Donderdag ʼn aansoek in die hooggeregshof in Port Elizabeth gebring om te versoek dat sy kliënte vrygespreek word op al die aanklagte teen hulle.

Adv. Peter Daubermann het die aansoek in terme van Artikel 174 van die Strafproseswet gebring om te versoek dat sy kliënte vrygespreek word op aanklagte van sameswering tot moord, ontvoering, roof met verswarende omstandighede en moord. Nenembe en Sibeko staan saam met Christopher Panayiotou op die aanklagte tereg in verband met Panayiotou se vrou, Jayde, se moord.

Daubermann het aangevoer daar is geen direkte bewyse om Nenembe en Sibeko op die aanklagte teen hulle skuldig te bevind nie. Hy het ook die hof daarop gewys dat die aanklaer nie in die akte van beskuldiging beweer Nenembe en Sibeko het ooreengekom om die onderwyseres te vermoor nie.

“Daar is geen verwysing dat hulle ooreengekom het om die oorledene te ontvoer of te vermoor nie. Inteendeel, daar is geen verwysing na enige ooreenkoms nie en selfs al word dit aanvaar, is daar geen bewyse van ʼn sameswering nie,” het Daubermann gesê.

“Die staat se saak is dat hulle rondgery het en na die oorledene gesoek het. Dit is die staat se saak. Net op grond hiervan moet die aanklag van sameswering ter syde gestel word. Die staat se saak is nie dat [Sibeko] teenwoordig was tydens die ontvoering en moord nie.”

Daubermann het aangevoer die staat se saak teen Nenembe en Sibeko is slegs op omstandigheidsgetuienis gegrond en dat die staat sonder die selfoonrekords nie werklik ʼn saak het nie. Hy het aangevoer Nenembe en Sibeko het in geen stadium erken dat hulle die eienaars van die betrokke selfoonnommers is nie en daarom moes die staat die ligging van verskeie selfoontorings bewys. Daubermann het gesê ʼn getuie van MTN het in die hof toegegee dat hy nie die ligging van die torings bepaal nie en dat dit die werk van die radioingenieurs is.

“Dit beteken die staat het dus nie die ligging van die torings bewys nie. En as die staat nie die ligging van die torings bewys het nie, het die staat ook nie sy saak bewys nie,” het Daubermann gesê. Hy het ook gesê die staat kon nie die opvangsgebied van elke toring bewys nie en teenstrydige getuienis oor die opvangsgebiede van die torings is aan die hof voorgelê.

Daubermann het ook gesê Thereza Botha, ʼn data-ontleder wat voor die hof getuig het, is nie ʼn kenner wat haar kan uitspreek oor die modus operandi van misdadigers nie. “Die bewyse wat voor die hof gebring is, is dat [Sibeko] voor die oorledene se huis rondgekyk en inspeksie gedoen het. Toe ek vir haar uitwys dat die selfoon daardie dag rondbeweeg het, het sy toegegee sy is verkeerd en daar is nie daardie dag rondgekyk nie.”

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

“Die feit dat [Sizwe] Vumazonke en Sibeko op 15 en 16 April in kontak met mekaar was en die voertuig naby [Jayde] se huis was, beteken niks. Dit is ʼn bespiegelingsteorie en ʼn onbewese hipotese,” het Daubermann gesê.

Hy het ook aangevoer daar is geen bewyse dat Nenembe en Sibeko enige tipe verhouding met die beweerde huurmoordenaar, Vumazonke, gehad het nie. Hy het gesê daar is ook geen bewyse wat daarop dui dat Nenembe en Sibeko in die huurmotor was wat gebruik is in die uitvoering van Jayde se ontvoering en moord nie.

“Daar is geen moontlikheid dat ʼn redelike mens, wat versigtig optree, vir [Nenembe en Sibeko] kan skuldig bevind nie. Hulle name is nog skaars genoem in hierdie verhoor. Ek het nog heeltyd hier gesit en my tone getel.”

Adv. Marius Stander, die staatsaanklaer, het die aansoek teengestaan en regter Dayalin Chetty versoek om hom tyd te gee om sy reaksie daarop voor te berei.

Die verhoor word Vrydag voortgesit.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Frannie ·

Hoe slaap hierdie “regsverteenwoordigers” in die nag?!

Cherokee ·

Hulle droom drome oor nuwe voertuie wat gekoop gaan word en vakansies wat hulle gaan hou,

Chris ·

As dit Botswana was, was hulle almal lankal gehang sonder die mors van verdere regskostes.. Botswana is die mees tabiele Staat in Afruka. Ek weet hoekom.

Jos ·

Hy was destyds een van die beste staats aanklaers wat ek geken het.
Hy het nagte wakker gebly om sake te bestudeer en voor te berei.
Jammer dat die staat hom moes verloor het !

Theresa B ·

Sommer net so – so blerrie arrogant. Wens net die hofsaak wil nou klaar kry en almal moet vir ewig in die tronk gaan sit aangesien daar ‘n afwesigheid van die doodstraf is.

Magda ·

Weet jy – ek kan verstaan dat n prokureur hulle kleinte moet help – maar hoe kan jy so iets vra as JY weet hulle is skuldig aan moord – daar is so baie bewyse – die prokureursorde se wet moet verander – as jou kliente se bewyse daar is moet daar iets anders gedoen word van sy prokureur se kant af – nie om hom te help om onskuldig bewys te word nie – Iets is daai beroep maak nie lekker vir my sin nie – Hoop die saak word nou afgehandel en hulle almal kry lewenslank tronkstraf.

Domvraag ·

As die regter die 2skuldig vind dan is hy volgens die advokaat nie n redelik mens nie?
Beteken dit dat die regter oogklappe aan het of nie instaat is om sinvolle afleidings en gevolgtrekkings te kan maak nie, sou die regter hulle skuldig vind?
Geld maak mens partykeer blind, of is dit nie so nie?

Wouter ·

Dit is die ding daar is nie bewyse teen die twee nie. Verstaan julle nie? Lees die berig weer. Daubemann doen net sy werk. Maar die feit dat hulle name genoem word in die ondersoek moet tog na gekyk word. Waar daar n rokie trek is gewoonlik n vuurtjie. Op die stadium geen konkrete bewyse nie. En dit is hoe ons regstelsel werk. Hulle gaan stap. Jammer maar dis hoe dit is.

Rina ·

Ek het baie respek vir professionele en werklike geleerde mense! Nie persone met “gekoopte geleerdheid” nie. Ek hoop dus dat die regter die regte persone sal skuldig bevind en dat hy hulle sal straf dienooreenkomstig. Ondanks die beste advokate en baie hofonkoste is daar een goue draad deurgaans – daar is beplan om ‘n onskuldige pragtige vrou te vermoor. Hoop bewyse is sterk dat almal wat daaraan deelgeneem het, skuldig bevind word – beginnende by nr 1 haar man! Hy is immers die een wat hierdie tragedie begin het en meelopers gesoek het om sy vuilwerk te doen en skotvry daarvan af te kom sodat hy kon aangaan met sy nuutgevonde liefde – o ja! nadat hy sy hartroerende afskeidsbrief vir sy oorlede vrou by begrafnisdiens voorgelees het! Opperste skurk!

marous ·

Hoop die staats advokaat daal nie so laag om om ongepoetse opmerkings in sy repliek te maak nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.