Panayiotou-moordsaak: Getuie in hof in hegtenis geneem

Christopher Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko (met sy gesig bedek) in die hooggeregshof in Port Elizabeth (12 Oktober 2016). Foto: ANA/Raahil Sain

Christopher Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko (met sy gesig bedek) in die hooggeregshof in Port Elizabeth (12 Oktober 2016). Foto: ANA/Raahil Sain

Babalwa Breakfast, vriendin van Luthando Siyoni, die beweerde middelman in die opspraakwekkende Panayiotou-moordsaak, is Donderdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth in hegtenis geneem.

Die polisie het Breakfast in hegtenis geneem en na die polisieselle geneem kort nadat sy uit die getuiebank verskoon is. Breakfast het onbedaarlik gehuil en haar gesig van verslaggewers en fotograwe weggesteek terwyl die polisie haar uit die hof geneem het.

Breakfast het tydens die verhoor teen Christopher Panayiotou en sy twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko, getuig. Siyoni was ʼn uitsmyter by Panayiotou se Infinity-nagklub. Die staat beweer Panayiotou het Siyoni betaal om ʼn huurmoordenaar, Sizwe Vumazonke, te kry om sy vrou, Jayde, in April verlede jaar te ontvoer en vermoor.

Adv. Terry Price, vir die verdediging, het Breakfast Donderdag onder kruisverhoor geneem. Sy het tydens die kruisondervraging in trane uitgebars. Breakfast kon ooglopend meer besonderhede onthou toe sy Donderdag deur die verdediging ondervra is, as wat sy Woensdag kon onthou.

Sy het getuig sy onthou hoe kol. Willie Mayi haar verklaring by die Kabega Park-polisiestasie afgeneem het en gesê sy is nooit gevra om dit deur te lees nie, maar net gevra om dit te onderteken. Breakfast kon skynbaar ook presies onthou wat sy gedoen het voordat sy na die polisiestasie geneem is.

Breakfast het gesê Siyoni het geen beserings gehad toe sy hom buite die Infinity-nagklub gesien het toe die polisie hom gaan haal het nie. Sy het gesê toe sy hom later dieselfde dag by die polisiestasie gesien het, was een van sy oë geswel, hy het ʼn krapmerk aan sy lip gehad en sy jeans was geskeur.

Sy het Woensdag byna die hele inhoud van die twee verklarings, wat sy verlede jaar by die polisie afgelê het, ontken. ʼn Uittreksel van een van haar verklarings lui: “In April, ek is nie seker watter datum nie, het Thando my weer ingelig hy het ʼn man, met die naam Sizwe gevind, wat vir hom gesê het hy sal die vrou vir hom doodmaak. Volgens Thando sou die persoon, wat die taak suksesvol vir Chris verrig, ʼn bedrag van R50 000 betaal word.”

Breakfast het Woensdag aan die staatsaanklaer gesê sy het nooit dit gesê nie.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, woordvoerder van die polisie, het bevestig Breakfast is in hegtenis geneem en het gesê sy sal Vrydag in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn op aanklagte van meineed en dwarsboming van die gereg.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

lorayne ·

Selective memory . . . DIT is nou goeie nuus, miskien verfris die geheue daar agter die tralies!

Boffin ·

Na n paar breakfasts in die selle gaan Breakfast baie beter onthou….

stephanus jesaja Heunis ·

Is sy familie van daai korrektiewe kommisaris?

Lolapot ·

Ou breakfast se eiers is nou sekerlik gescramble. Gebrande toast is haar voorland

Ekself ·

Ooit daaraan gedink dat die polisie weer droog gemaak het en sy dalk net die waarheid praat. Polisie het nog nooit en sal nooit iemand arresteer vir meineed as dit inhul guns is nie.

Lolapot ·

Al ooit daaraan gedink dat die vrou doe polisie opsetlik mislei het? Of dat die vrou beinvloed word deur ‘n derde party of dat sy net blatante leunaar is.

Alida ·

Hulle moet ophou om die baasbrein agter die gruwelike barbaarse moord te probeer beskerm. Hy het dit begin en is dus die skuldige een. Ek hoop hulle vonnis hom nou en kry klaar.

Ek ·

Al ooit gedink dat die vrou nou bang is aangesien iemand klaar in die saak dood is? Ek weet ek sou gewees het. Glad nie van die kossies (Breakfast) eet as ek dit aangebied word nie. :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.