Panayiotou-moordsaak: Hof beslis oor staatsgetuie se getuienis

Luthando Siyoni en sy prokureur, Zolile Ngqeza, by die hooggeregshof in Port Elizabeth: Foto: Raahil Sain/ANA

Luthando Siyoni en sy prokureur, Zolile Ngqeza, by die hooggeregshof in Port Elizabeth: Foto: Raahil Sain/ANA

Die hooggeregshof het Donderdag beslis dat die getuienis van Luthando Siyoni, die beweerde middelman in die huurmoord van Jayde Panayiotou, toegelaat sal word ten spyte van besware van die verdediging.

Regter Dayalin Chetty het Donderdag beveel dat die sogenaamde “verhoor-binne-ʼn-verhoor” nie aangehoor sal word nie. Die hof het vroeër vandeesweek gehoor dat ʼn sekondêre verhoor dalk binne die hoofverhoor gehou sal word om te bepaal of Siyoni, wat intussen ʼn staatsgetuie geword het, se getuienis toegelaat sal word.

Adv. Marius Stander het Donderdag verskeie vorige hofbeslissings aangehaal om sy argument te staaf dat ʼn verhoor-binne-ʼn-verhoor nie toegelaat moet word nie. Stander het aangevoer dat Siyoni se getuienis in die moordverhoor aangehoor moet word, aangesien hy ʼn staatsgetuie is en nie ʼn beskuldigde nie.

“Ek het nog nooit gehoor van enige hof wat na ʼn verhoor-binne-ʼn-verhoor oorgaan om die toelaatbaarheid van getuienis te bepaal nie. Dit word in die hoofverhoor gedoen,” het Stander gesê.

Adv. Terry Price vir die verdediging was onkant gevang deur Stander se aansoek om die verhoor-binne-ʼn-verhoor ter syde te laat stel en het gesê die staat lei die verdediging in ʼn lokval. “Ek was tot 02:00 op om vir ʼn verhoor-binne-ʼn-verhoor voor te berei. Ons was onder die indruk dat die verhoor-binne-ʼn-verhoor vandag sal voortgaan,” het Price gesê.

Hy het aangevoer Siyoni se getuienis sal “giftig” wees. “Die aanklagte teen Siyoni is eers in Augustus teruggetrek. Hy was ʼn beskuldigde. Hy moet soos ʼn beskuldigde behandel word, nie soos ʼn staatsgetuie nie,” het Price gesê.

Christopher Panayiotou word daarvan beskuldig dat hy die meesterbrein agter sy vrou, Jayde, se ontvoering en moord is. Die staat voer aan hy het Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal om Sizwe Vumazonke as sluipmoordenaar te huur. Vumazonke is glo deur Sinethemba Nenembe bygestaan om die ontvoering en moord uit te voer. Zolani Sibeko is in Julie vanjaar in hegtenis geneem nadat hy deur sy selfoon verbind is met die saak. Hy was glo saam met Nenembe en Vumazonke by die kompleks waar Jayde ontvoer is.

Vumazonke is intussen in polisieaanhouding dood. Sibeko en Nenembe is saam met Panayiotou in die beskuldigdebank.

Siyoni het ná sy inhegtenisneming ʼn staatsgetuie geword wat beteken dat die aanklagte teen hom teruggetrek is. Hy sal waarskynlik aan die einde van die verhoor vrygespreek word indien die regter hom as ʼn betroubare en eerlike getuie ag.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cherokee ·

Ek besef dat die moordenaar onder bespreking se getuienis moontlik dit kan wees wat Panayiotou kan laat sink maar dit stuit my steeds absoluut teen die bors dat ‘n moordenaar vrygelaat kan word deur ‘n hof bloot ter wille van getuienis teen die hoofverdagte (ook soos in die geval van Brett Keble waar die moordenaar Mickey Schultz erken het dat hy die sneller getrek het en vrygelaat is. Brett Keble se moordenaars, Schultz en McGurk het selfs hul vuurwapenlisensies terug gekry) .

Great ·

Dit is die korekte hantering en ek dink dit is great dat die staatsaanklaer dit bestudeer het en aansoek gedoen het vir korekte metode. Al wat vreemd is, dat die verdediging voel dit kan die saak en regter vergiftig, feite en waarheid is feite. Die ander vreemde feit is dat almal al sedert laasjaar weet die middelman het n staatsgetuie geword.

Ons bid vir jou ·

Siyoni, jy doen die regte ding, ons bid vir jou vir kalmte en wysheid, luister mooi wat gevra word en antwoord presies wat jy weet. Moenie toelaat dat onbeskofte verdediging jou onderkry nie. Moenie toelaat dat hul woorde in jou mond lê nie. Hul kan jou niks doen nie, dit sal te obvious wees! Bly op die straight en narrow, ons gebede is op jou!

Mense regte ·

Dit is net sad dat Jade geen mense reg gehad het. Vat byvoorbeeld nou, die beskuldigdes het goeie regshulp en die regshulp sal enige iets doen om die saak te wen, die enigste deektjie wat ek verstaan, want hul word daarvoor betaal, maar is geld alles. Is dit die moeite werd om mense se siele af te breek om ander uit die tronk te hou…… wat se reg het n beskuldigde se advokaat om die regter te vertel hy gaan negatief vergiftig word deur n getuie (wat alle inside info het), die waarheid en eerlikheid moet mos seevier. Hier gaan dit mos lankal nie meer oor onskuld bewys nie, eerder loskom op n boelie van getuie of klein tegniese punt! Tyd dat die hele gemeenskap opstaan vir Jade se reg!

Solly Knoetze ·

Ek vind dit “sad” dat mense kommentaar lewer en Afrikaans so opmors. Wil maar seker net “obviously cool” voorkom.

Onvanpas ·

Die opdaag by die hof van Chanelle Couts is totaal onvanpas. As sy nooit in die prentjie was nie, was hierdie situasie dalk heel anders. Dit grens aan disrespekvol. Almal het sekerlik ‘n vrye reg, maar sjoe mens moet darem ‘n gewete hê!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.