Panayiotou-moordsaak: Kru-taal en persoonlike aanvalle

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Vulgêre taalgebruik en persoonlike aanvalle was Maandag aan die orde van die dag in die hooggeregshof in Port-Elizabeth tydens die agtste week van voortslepende moordverhoor van Christopher Panayiotou en sy twee medebeskuldigdes.

Die mans staan tereg op aanklagte wat verband hou met die moord op Jayde Panayiotou. Die onderwyseres is in April verlede jaar op die buitewyke van Kwanobuhle in die Oos-Kaap dood aangetref en haar man word daarvan beskuldig dat hy haar moord georkestreer het.

ʼn Verhoor binne ʼn verhoor vind tans plaas wat daarop gemik is om ʼn video as bewysstuk toe te laat. Die video is ʼn opname van ʼn gesprek, wat tydens ʼn klopjag geneem is, tussen die beweerde middelman, die staatsgetuite en uitsmyter Luthando Siyoni, en Panayiotou op 29 April verlede jaar.

Speurder ao. Louis Eksteen, van die polisie se georganiseerde-misdaadeenheid, wat 16 jaar lank vriende was met die Panayiotou-familie voor Jayde verlede jaar vermoor is, het Maandag in die hofsaak getuig. Hy het aan die hof vertel hoe hy by die ondersoek betrokke geraak en telefoonoproepe tussen Siyoni en Panayiotou georkestreer het, sodat die polisie die klopjag kon uitvoer.

Adv. Terry Price het Eksteen onder kruisverhoor daarvan beskuldig dat hy geld en kos by die Panayiotou-familie “gebedel” het.

Price het so ver gegaan om Eksteen daarvan te beskuldig dat hy R3 000 van Christopher se pa, Costa, gevat en nooit teruggegee het nie. “Het jy Costa vir geld gevra om vir ʼn helikopter te betaal toe Jayde vermis geraak het?” het Price gevra.

“Nee, Costa het gevra of ek iemand met ʼn helikopter ken en hy het my R3 000 gegee, waarna ek reëlings getref het met John Huddleston se helikopterdienste. Die helikopter kon nie opstyg nie as gevolg van mistige toestande. Die polisie se helikopter het wel opgestyg en Jayde se liggaam is gevind. Toe het ek die geld teruggegee aan hom [Costa],” het Eksteen gesê.

Die gesprek tussen Price en Eksteen het vurig geraak toe Price volgehou het dat Eksteen geld by die Panayiotou-familie geleen het.

“Die Panayiotou-familie sal sê dat jy voortdurend geld by hulle geleen het,” het Price gesê.

Eksteen het aantygings ontken dat hy geld by die familie “gebedel” het. “Hoekom moet ek? Nee, ek het nooit!” het hy uitgeroep.

Price het Eksteen verder uitgevra of hy al ooit vantevore kos by die Panayiotou-familie gevra het. In dié stadium het Jayde se ma, Michelle, en suster, Toni, sigbaar ontsteld geraak en uit die hof gestap.

“Ek het Costa baie kere in die aande besoek en ons het gesels en hy sou vir ons hamburgers maak,” het Eksteen gesê.

Price wou ook van Eksteen weet of iemand in die polisie na Christopher verwys het as ʼn “p**s en ʼn f****r”. Price het verder gevra of Eksteen vir Christopher tydens sy inhegtenisneming teen sy kop geklap het. Eksteen het dit ontken.

Eksteen het voor kruisondervraging gesê hy het die paartjie se troue bygewoon en Christopher het hom genader as hy raad nodig gehad het.

Eksteen en die Panayiotou-familie is intussen vervreem.

Eksteen het Costa bygestaan, toe Costa sy hulp ontbied het om Jayde op te spoor.

Eksteen het tydens dié soektog betrokke geraak en as “vriend” gehelp, en nie in sy amptelike hoedanigheid as polisiebeampte nie. Hy het later direk by die ondersoek betrokke geraak toe die ondersoekbeampte, Kanna Swanepoel, sy bystand versoek het. “Kanna wou hoor of ek kan help, omdat ek beskuldigde nommer 1 (Christopher) ken en omdat beskuldigde nommer 1 deur Siyoni betrek en verdag gemaak word.”

Die polisie het daarna ʼn plan beraam waarvolgens Siyoni vir Panayiotou sou bel. Eksteen het besluit wat die uitsmyter in verskeie oproepe, wat tussen die twee mans opgeneem is, aan die sakeman moes sê. ʼn Paar van die oproepe is Maandag in die hof gespeel.

“Ek is in groot moeilikheid, ek moet jou bel,” sê Siyoni in een van die oproepe aan Panayiotou, wat dan vir die uitsmyter sê hy moet hom oor 15 minute terugbel.

Siyoni het vroeër getuig die polisie het hom “gedwing” en “gedreig” om sy werkgewer te bel, as deel van die operasie. “Dit was óf werk saam óf tronkstraf. Hulle het gesê ek moet Chris sover kry om skuld te bely [op sy vrou se moord] sodat daar iets kan wees op grond waarvan hulle hom in hegtenis kan neem, want hy het die geld vir my gegee,” het Siyoni vroeër aan die hof gesê.

Eksteen het vir Siyoni gesê wat hy aan Panayiotou moet sê en die twee mans het mekaar uiteindelik by ʼn vulstasie ontmoet. ʼn Opname-toestel is in Siyoni se voertuig geplaas en hy het Panayiotou oorreed om in die motor te klim.

Die staat voer aan Siyoni se ontmoeting met Panayiotou het plaasgevind omdat die uitsmyter sy weergawe aan die polisie wou verifieer.
Siyoni, ʼn staatsgetuie, het egter intussen ʼn ommekeer gemaak oor die inhoud van sy verklaring wat hy by die polisie afgelê het waarin die sakeman betrek en verdink word.

Die verdediging wil hê die opname, wat tydens die operasie geneem is, moenie toegelaat word nie.

Die staat voer aan Panayiotou het die uitsmyter van sy Infinity-nagklub betaal om sluipmoordenaars te huur wat Jayde kon ontvoer en vermoor omdat sy “ʼn finansiële las” was.

Die saak duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MCS ·

Wat het geld wat Eksteen geleen het en kos , met Jade se moord tedoen! Is die hof nie insitting om haar kastige man in die tronk tegooi nie! Waaroor sloer hul so, almal weet hy het haar vermoor!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.