Panayiotou-moordsaak: ‘Middelman’ maak nóg ʼn ommeswaai

Moordbeskuldigde Christopher Panayiotou tydens 'n vorige verskyning in die Port Elizabeth-hooggeregshof saam met sy twee medebeskuldigdes, Sizwezakhe Vumazonke (middel) en Sinethemba Nenembe (26 Julie 2016) Foto: Raahil Sain/ANA

Moordbeskuldigde Christopher Panayiotou tydens ‘n vorige verskyning in die Port Elizabeth-hooggeregshof saam met sy twee medebeskuldigdes, Sizwezakhe Vumazonke (middel) en Sinethemba Nenembe (26 Julie 2016) Foto: Raahil Sain/ANA

Christopher Panayiotou se uitsmyter het Maandag nóg ʼn ommeswaai in sy getuienis gemaak en die vinger na die beweerde skieter, Sizwe Vumazonke gewys en aangevoer Panayiotou het die oorledene gevra om Jayde te vermoor.

Luthando Siyoni, staatsgetuie, het aan die Port Elizabeth-hooggeregshof gesê tydens Jayde se verdwyning het Vumazonke vir hom ʼn rygeleentheid na Infinity-nagklub gegee en vir hom vertel dat Panayiotou hom vermy. In antwoord op vrae van die staatsaanklaer, het Siyoni gesê, “Sizwe het vir my gesê as hy nie sy geld [van Chris] kry nie, sal hy dit ‘uit sy lyf’ vat”. Terry Price, vir die verdediging, het egter beswaar aangeteken en gesê die getuienis is slegs hoorsê, aangesien Vumazonke oorlede is.

Siyoni voer aan hy het R80 000 van Panayiotou ontvang.

“Toe Infinity toegemaak het, het ek met die geld huis toe gegaan. Ek het vir myself gesê ek gaan nie vir Sizwe al die geld gee nie,” het Siyoni gesê.

Volgens hom het Vumazonke hom toe onverhoeds betrap toe hy buite die huis was. “Hy was buite my huis… Ek het vir hom die geld gegee en het R30 000 vir myself gehou.”

Siyoni het bely dat hy vir Sizwe gelieg het oor die bedrag geld wat hy by Panayiotou gekry het.

Die beweerde middelman het vir die tweede dag in die hofsaak teen sy voormalige werkgewer en twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko, getuig wat al ses weke lank voortduur.

Die hof het Vrydag gehoor die geld was glo vir gewigte wat Siyoni wou aanskaf vir sy gimnasium in Kwazakhele. Die hof het gehoor Vumazonke het Siyoni gehelp om die gimnasiumtoerusting aan te skaf, volgens die uitsmyter se weergawe. Dit is in teenstelling met die verklaring wat hy vroeër afgelê het ná sy inhegtenisneming toe hy gesê het Panayiotou het hom gevra om iemand te kry wat sy vrou, Jayde, kan vermoor.

Siyoni het gesê die geld wat by Infinity-nagklub gebêre is, was sodat sy werkgewer dit veilig kon hou, omdat die twee ʼn “spaarplan” beraam het vir die uitsmyter.

ʼn Groot deel van Siyoni se getuienis Maandag was uiters verwarrend, en staatsaanklaer Marius Stander het op meer as een geleentheid gesê hy is “heeltemal deurmekaar”.

Die staat voer aan Panayiotou het Siyoni betaal om die sluipmoordenaars, Vumazonke en Nenembe, te huur om Jayde te ontvoer en te vermoor. Siyoni getuig as ʼn artikel 204-getuie, wat beteken dat, indien hy eerlik getuig, hy nie vervolg sal word ná die hofsaak nie.

Die hofsaak duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Liesl D ·

Hy gaan so lieg dat die eggenoot gaan vry wegloop. Wonder hoeveel geld aan hom belowe is …

Asmain ·

Dit ontaard in n totale sirkus! So jammer vir Jade se familie…

Kinkkebollen ·

In Suid-Afrikaanse Strafproses reg, is ‘n beskukdigde ONSKULDIG totdat die Staat die teendeel bewys het of die beskuldigde, skuld erken het. Artikel 204 is in werklikheid ‘n baie gevaarlike regsinstrument, want ‘n verdagte sal in meeste gevalle sy/haar weergawe so aanpas sodat daar die meeste selfverontskuldiging mee gepaardgaan. In die proses is daar ‘n groot risiko dat goeie polisiewerk nagelaat word ten gunste van die verdoemende verklarings van ‘n artikel 204 getuie….

Uiltjie ·

Ek het die hofsaak probeer volg, maar is ek ook heel deurmekaar van al die klomp leuens van spaarplanne, gewigte en gimnasiums! Die man sou mos self die gewigte aangekoop het indien hy wou help!

Praat net die waarheid ·

Luthando Siyoni praat net die waarheid, jy kan n vry man wees, vergeet van geld belofte of moord dreigemente, jy sal beskerming kry. Jy speel met vuur waarin jyself gaan brand!

Theresa B ·

Ja nee – Nou sal almal op ‘n streep lieg. Dooies kan mos nie praat nie…………………

Opgemors ·

Luthando jy het jou kanse opgemors om uit hierdie ding te kom! Jy sink Christopher welldone, as jy wys was sou jy jouself gered het, kom ons wees eerlik oops jy weet eintlik nie wat die term beteken. Sou jy net presies eerlik vertel het wat regtig gebeur het tussen jul hele komplot sou jy gestap het, die regter het dit mooi verduidelik, maar nou is jy of banger vir die Grieke of Terry Price. Jy & Terry Price probeer die blaam van misdaad op Polisie plaas vir n paar houe, maar julle wat n onskuldige vrou vermoor het, dit is ok met julle.

Baie bang ·

Ek moet sê, ek kom tot die gevolgtrekking dat jy banger vir Christopher Panayiotou is as vir eerlikheid en die staat. Jou regshulp is ook regtig nie van veel hulp nie, seker gesponser deur die ander beskuldigde, as jy regtig geglo het dit sal tot jou voordeel wees gaan jy nog lekker wakker skrik. Sjoe dit was so maklik en vir jou verduidelik, ‘n leek sou jou beter gehelp het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.