Panayiotou-moordsaak: ‘Middelman’ maak skielike ommeswaai

Luthando Siyoni en sy prokureur, Zolile Ngqeza, by die hooggeregshof in Port Elizabeth: Foto: Raahil Sain/ANA

Luthando Siyoni en sy prokureur, Zolile Ngqeza, by die hooggeregshof in Port Elizabeth: Foto: Raahil Sain/ANA

Die beweerde middelman in die Jayde Panayiotou-moordsaak het Vrydag ʼn skielike ommeswaai in die hooggeregshof in Port Elizabeth gemaak, toe hy ontken het dat enigiemand hom ooit gevra het om ʼn huurmoordenaar te kry of iemand te skiet.

Luthando Siyoni, ʼn staatsgetuie en die selferkende middelman in die saak, het, terwyl hy vrae van die staat beantwoord het, sy vroeëre verklarings aan die polisie direk weerspreek. Hy het voorheen vir die polisie gesê Christopher Panayiotou, Jayde se man, het hom genader en gevra om iemand te kry om sy vrou te vermoor.

Siyoni het egter Vrydag sy deuntjie verander deur te sê hy het nie vir Jayde geken nie en weet ook nie waar sy gewerk het nie. Hy het gesê hy het haar eenkeer buite die Infinity-nagklub, waar hy as uitsmyter gewerk het, saam met Christopher sien loop.

Siyoni het in sy oorspronklike verklaring aan die polisie geskryf: “Chris het my gevra om mense te soek wat sy vrou kon doodmaak. Hy het nie vir my die rede gegee hoekom hy sy vrou wou doodmaak nie. Hy het gesê hy wil nie hê ek moet by die moord betrokke wees nie en ek moet mense reël om die moord te pleeg.”

“In Februarie 2015, ek kan nie die datum onthou nie, het Chris my R80 000 kontant gegee. Ek het die geld by my gehou en Sizwe [Vumazonke] laat weet. Ek het saam met Sizwe Kabega Park toe gery en hom die plek gewys waar Chris se vrou altyd gestaan en wag het vir haar saamrygeleentheid na die Uitenhage-skool waar sy gewerk het.”

Siyoni het egter Vrydag gesê sy onderhandelinge met Vumazonke het verband gehou met gewigte wat hy wou aankoop vir ʼn gimnasium wat hy in Kwazakhele bedryf. Volgens Siyoni sou Vumazonke as middelman optree om die gewigte by die verskaffer te kry. Siyoni het aan die hof gesê toe Vumazonke hom op 21 April gebel het, was dit omdat hy “dringend die geld vir die gewigte wou hê”.

Hy het verder getuig hy is dieselfde dag na Panayiotou se nagklub om geld te kry om Vumazonke mee te betaal. Hy beweer Panayiotou het vir hom geld veilig gebêre by die klub nadat hulle saam op ʼn “spaarplan” vir Siyoni ooreengekom het.

Volgens Siyoni het Panayiotou vir hom “tussen R30 000 en R42 000” gehou. Siyoni kon nie die presiese bedrag onthou nie. Hy het ʼn gedeelte van die geld gevat omdat hy die gewigte wou aankoop. Hy het glo R20 000 van die geld aan Vumazonke betaal vir die gewigte, maar het hom nog R10 000 geskuld.

Hy het gesê hy het later hierdie dag met Panayiotou gepraat. “Hy het hartseer geklink, maar bly dat ek daar [by Infinity] was. Ek het gesê hy moet sterk wees en dat ek by Infinity sal bly tot toemaak-tyd.”

Siyoni beweer hy het, nadat die klub toegemaak het, vir Panayiotou naby Njoli-plein ontmoet. Hy het vir Panayiotou gesê hy het nie genoeg geld om Vumazonke te betaal nie en Panayiotou het hom R2 000 in ʼn gimsak gegee en hom by sy meisie, Babalwa Breakfast, se huis gaan aflaai. Siyoni het gesê hy het nog R8 000 in sy sak gehad wat hy vroeër die dag met dobbel gewen het. Hy het toe vir Vumazonke gebel en gesê hy kan die laaste deel van sy geld te kom haal, het hy gesê.

Kort voordat Siyoni Vrydag sy getuienis gelewer het, het hy aan Regter Dayalin Chetty gesê hy is “dankbaar” vir die geleentheid en sien uit “om die waarheid te vertel”.

Panayiotou word daarvan beskuldig dat hy die meesterbrein agter Jayde se ontvoering en moord is. Die staat voer aan hy het Siyoni betaal om Vumazonke as sluipmoordenaar te huur. Vumazonke is glo deur Sinethemba Nenembe bygestaan om die ontvoering en moord uit te voer. Zolani Sibeko is in Julie vanjaar in hegtenis geneem nadat hy deur sy selfoon verbind is met die saak. Hy was glo saam met Nenembe en Vumazonke by die kompleks waar Jayde ontvoer is. Vumazonke is intussen in polisieaanhouding dood.

Siyoni het ná sy inhegtenisneming ʼn staatsgetuie geword, wat beteken dat die aanklagte teen hom teruggetrek word, mits hy as ʼn betroubare en eerlike getuie geag word. Volgens die bewyse wat voor die hof geplaas is, het Siyoni inligting aan die polisie verskaf wat Panayiotou by Jayde se moord betrek. Siyoni is ná sy inhegtenisneming deur die polisie gebruik om ʼn lokval te stel om genoeg bewyse te bekom om Panayiotou in hegtenis te neem.

Die verhoor gaan Maandag voort.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

DewaldS ·

Ja – nou begin die waarheid uitkom. En almal wat altyd so haastig is om te oordeel – mag julle nooit in die posisie beland waar jy deur die samelewing en die media skuldih bevind word nog voor die hofsaak nie.

Helene Heyns ·

…….. Dewald en jy glo hom so wraggies. Raas jou kop, ou?

Veritas ·

Dewald, jy sal nog uitvind dat om teen die populêre opinie te gaan, grens aan selfmoord. Die beste advokate, aanklaers en regters van Suid-Afrika, lewer, onder skuilname, kommentaar hier op Maroela.

Pop ·

Dewald waar val jy uit. Hierdie mense het nie die vrou ontvoer en geskiet vir die lekker daarvan nie. Dis vir geld gedoen. Al wat die getuie nou doen is om te wys hys oneerlik en onbetroubaar as getuie. Nou kan hy ook aangekla word. Jipeeeee!!!!

Anoniem ·

DewaldS jy moet wakker skrik maak. As jy dit glo dan glo jy natuurlik ook vir Zupta en sy trawante.

DewaldS ·

Hehehe – hoe weet ons wie lieg eintlik. Kom ons wed so R5000 op die uitkoms – anywhichway lyk dit na ‘n gamble – maar dalk is jou eie R5000 meer werd as iemand se lewe wat dalk vernietig kan word as al die bewyse nie in ag geneem.word nie?

Cherokee ·

Maroela, miskien moet julle net so interessantheidshalwe uitvind of diè ou dalk familie is van Pannejoutou.

Buitestander ·

Weer net ‘n bewys ondersoekkers doen nie hulle werk na behore.
Is dit swak opleiding of net om vinnige arestasie uit te voerm

Marts ·

Wat ook al die uiteinde van hierdie saak……Jayde, soos vele ander, is wreed vermoor. NIKS kan dit verander nie. Hoop haar familie en vriende kan berusting kry. Dit kan verseker nie lekker wees om in daardie hofsaal te sit en hoop om antwoorde te kry nie.

KarenG ·

Mensig, maar nou is ek verward. Hy het ‘n wettige verklaring afgele wat sy betrokkenheid bevestig het. Hy het saamgewerk met die Polisie om ‘n lokval vir Jayde se man te stel….nou skielik is hy vreeslik opgewonde om die “waarheid” te vertel. Wat my verwar, as dit dan nou die waarheid is hoekom het hy nie die storie van die begin af vertel nie? En asseblief moet nou nie vir my se SAPS het hom gedwing om die verkeerde verklaring af te le nie. Klink vir my asof hy nie ‘n betroubare getuienis is nie.

LB S ·

Klink vir my eerder na “geld wat praat”, dalk het hy ‘n beter offer gekry….

Cherokee ·

Of die nuwe verwikkelinge positief of negatief is sal slegs die ondersoekers van die saak weet maar wat wel die goeie deel is van dit wat nou vertel word, is dat daar nie een van die moordenaars vrygelaat gaan word net omdat hy geskinder het oor die ander nie.
Gerrie Nel, kan jy nie op een of ander manier betrek word nie? Jy is ‘n spesialis.

KarenG ·

Stander, wie van sy moordenaars loop vry rond…m.a.w. nie in die tronk nie?

Justice ·

Soyoni gaan vou onder kruisverhoor. Soos Prof Basie Solms altyd op RSG se – “Ek ruik ‘n rot”

Skerp potlood ·

Justice jy is die skerp potlood hier! Siyoni dit is sad dat jy vir nog n paar sikkels silwer jou siel wil verkoop of nee dalk jou lewe, jy vermy dalk Jayde en Vumazonke se pad, ek dink egter kruisverhoor gaan jou uitvat! Marius Stander is opgewasse vir die saak, maak hulle almal mince, want geen mens het die reg om oor n ander se dood te besluit nie, al is jy n Griekse god! Al het jy hoeveel geld! Jong man jy het onder eed verklaar en jy was nou met die nonsens ook onder eed, jy moet ook maar tronk as jy soooo kan lieg!

Help reg ·

Zolile help jou man reg, jy kry geld daarvoor of kom die geld ook uit n gym sak en is op n Griek se dobbelmasjiene gewen? Eish dink bietjie – ‘n Graad 1 sou Hom beter kon help. Belangrikste hy kan vry wees as hy eerlik is en sal Witness protection teen Grieke kry!

Karen ·

My hart bloei vir die familie van Jayde. Hier is verseker n slang in die gras. …”the family ” het seker by sy familie gaan besoek aflê en paar vereistes gestel. So hartseer dàt n vrou haar lewe moes verloor .?

Piet ·

Die van julle wat weet wat daar gebeur het, hoekom gaan getuig julle nie. Dit sal mos nou die saak vinnig tot n einde bring. Lyk my hier is mense veral die met skuilname wat heeldag net sit en wag om iemand aan te val en sleg te se.” Get n life” DewaldS ek stem saam met jou. Nie een wat so grootbek hier is was daar nie maar hulle weet presies wat gebeur het.

KarenG ·

Piet ek stem volkome saam met jou, ons weet nie wat daar gebeur het nie. My vraag is hy het onder eed ‘n verklaring afgele, nou verander sy storie nie. Is dit nie normaal om te wonder of hy ‘n betroubare getuienis is nie?

Cacophony ·

Panavrotti gaan nog wegstap van hierdie moord reguit in die arms van sy houvroutjie. Dis darem maar baie vreemd dat die getuies in die saak of geheimsinnig sterf of ewe skielik amnesia ontwikkel. There is something a rotten in PE

Georgie ·

Ek stem saam…die regter gaan dalk nog hierdie saak uitgooi, nes Dehwani, gaan Panayiotou wegkom met moord?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.