Panayiotou-moordsaak: Polisieman gepols oor ‘getuie se aanranding’

Lt.kol. Willie Mayi. Foto: ANA

Lt.kol. Willie Mayi. Foto: ANA

Die polisie se metodes en beskuldigings van getuies wat gedwing is om skulderkennings te maak het Maandag onder die vergrootglas gekom tydens die verhoor van die opspraakwekkende Jayde Panayiotou-moordsaak.

Lt.kol. Willie Mayi, die polisiebeampte wat die staatsgetuie Luthando Siyoni in April 2015 in hegtenis geneem het, het vir die eerste keer tydens die verhoor in die hooggeregshof in Port Elizabeth getuig. Adv. Terry Price vir die verdediging het tydens die kruisverhoor vir Mayi daarvan beskuldig dat hy “ʼn reputasie daarvoor het dat hy tydens hofsake lieg” en dat drie hooggeregshofregters vroeër bevind het dat Mayi die howe mislei.

“Ek stel dit aan jou dat dit so is omdat jy die wetstoepasser is. Jy hardloop rond en dons mense op,” het Price gesê.

Mayi was ook die beampte wat Siyoni en sy meisie, Babalwa Breakfast, se verklaring afgeneem het. Siyoni is verlede week as ʼn vyandige getuie verklaar nadat hy geweier het om enige van die staat se vrae te beantwoord. Breakfast is vroeër in die verhoor ook as ʼn vyandige getuie verklaar en in hegtenis geneem vir meineed.

Mayi het tydens sy getuienis aan die hof gesê hy het verlede jaar tydens sy ondersoek na Jayde se moord inligting ontvang wat daartoe gelei het dat hy Siyoni en Breakfast ingeneem het vir ondervraging. Hy het gesê die twee is in aparte vertrekke by die Kwanobuhle-polisiestasie geplaas.

Price het Mayi gevra of hy erken dat Breakfast haar broer gevra het om saam met haar te kom omdat sy vir Mayi bang was. Mayi het dit ontken en gesê Breakfast het gewillig saam met hom gekom en dat sy nooit kommer oor haar verklaring uitgespreek het nie, maar eerder baie gewillig inligting gedeel het tydens haar ondervraging.

Mayi het gesê hy het Siyoni in hegtenis geneem nadat sy betrokkenheid by die saak duidelik geword het tydens Breakfast se ondervraging. Hy het ontken dat hy Siyoni aangerand het.

Siyoni het vroeër beweer dat die polisie hom aangerand het om “te sê wat hulle wou hê hy moes sê”. Hy beweer die polisiebeamptes het bo-op hom gestaan en hom met ʼn pyp gemartel totdat hy gebloei het en Mayi die bloed van sy [Siyoni se] gesig moes afvee.

“Ek het nooit enige bloed afgevee nie. Daar was geen bloed nie,” het Mayi gesê.

Price het ook bevraagteken hoe dit moontlik is dat Mayi sy verklaring afgelê het nog voordat Breakfast se verklaring afgeneem is, maar Mayi het dit as ʼn administratiewe fout afgemaak. Price het gevra hoe enige feite in die verklaring as betroubaar geag kan word indien daar sulke foute voorkom.

Die staat beweer Christopher Panayiotou, Jayde se man, het Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal om ʼn huurmoordenaar, Sizwe Vumazonke, te kry om Jayde te ontvoer en te vermoor. Die staat beweer Sinethemba Nenembe het Vumazonke gehelp om die moord uit te voer. Zolani Sibeko het na bewering ook ʼn rol in die uitvoering van die moord gespeel. Vumazonke is vroeër vanjaar in aanhouding dood.

Intussen het Nenembe vroeër Maandag in ʼn ander hof op aparte aanklagte van moord en roof verskyn. Volgens die klagstaat het Nenembe en drie ander verdagtes die 78-jarige Denise Webber in Augustus 2015 in haar huis in Kabegapark aangeval. Hulle het glo haar bene en arms vasgebind en haar verwurg voordat hulle met talle waardevolle items gevlug het.

Hierdie saak is Maandag tot 18 April 2017 uitgestel. Die Panayiotou-moordsaak word vandag hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Alida ·

Daai Panayotiou het hierdie moord beplan dit is tog duidelik. Hy was te sleg om sy eie vuilwerk te doen toe huur hy ander mense. Laag en gemeen. Die belastingbetaler se geld word hier gemors deur die saak uit te rek. Hy is skuldig en klaar. Hoop hy kry lewenslank. Hy kon haar net geskei het dan het sy nog geleef.

Leon Pit ·

Die selfde metodes as in die verlede word tot vandag toe toegepas want die aantal sake wat jy uit sorteer bepaal jou bevordering. So daar is die gene wat kort pad vat.

Justice ·

Die moontlikheid dat `n persoon bo-op jou kan staan en met `n pyp martel sonder om ribbes te kraak. breek, ligamente te skeur of letsels te laat is redeneerbaar. Ek het ook my bedenkinge of Panayitou se regspan enige kontak of nie met Siyoni en / of Breakfast voor die verhoor gehad het.

Alida ·

Baie kinkels en kabels deur sy Prokureur. Die man is skuldig en klaar. Hy was die baasbrein agter alles. Hy mag en kan nie loskom nie.

m ·

Hier is so oor en weer liegery, ek wonder of die saak nie op die einde van die dag uitgegooi gaan word weens tekort aan bewyse en te veel teenstrydighede nie. …………..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.