Panayiotou-moordsaak: Skokfoto’s in hof gewys

Ao. Phillip Bekker Maandag (31 Oktober 2016) in die hooggeregshof in Port Elizabeth. Foto: Raahil Sain/ANA

Ao. Phillip Bekker Maandag (31 Oktober 2016) in die hooggeregshof in Port Elizabeth. Foto: Raahil Sain/ANA

Christopher Panayiotou, die man wat aangekla word van sy vrou, Jayde, se moord, het Maandag geen reaksie getoon toe grusame foto’s van haar bebloede liggaam in die hooggeregshof in Port Elizabeth gewys is nie.

Ao. Phillip Bekker het op die 14de dag van die verhoor teen Panayiotou en sy twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko, getuig. Die drie word aangekla van die moord op Jayde, wie se liggaam op 22 April verlede jaar in ʼn beboste gebied aan die buitewyke van Kwanobuhle gevind is. Die staat beweer Panayiotou het ʼn huurmoordenaar gekry om sy vrou te vermoor omdat sy vir hom ʼn finansiële las was.

Michelle en Toni Inggs, Jayde se ma en suster, het Maandag in die hof mekaar se hande vasgehou en gehuil terwyl hulle na skokfoto’s gekyk het wat die laaste oomblikke van Jayde se lewe uitbeeld. Hulle het deur Bekker se getuienis gesit, hoewel hulle ooglopend ontstel is deur die foto’s.

ʼn Foto van Jayde se liggaam, geklee in ʼn grys sweetpakbaadjie en -broek met die woord “hockey” voorop, is aan die hof gewys. Foto’s wat van naby van haar gesig uit verskillende hoeke geneem is, is ook gewys, asook foto’s van haar koeëlwonde en haar bloedbedekte agterkop. Op die foto’s kon snywonde aan Jayde se hande en nek gesien word.

Bekker het getuig kruitneerslag op Jayde se liggaam bewys sy is van ʼn kort afstand geskiet. Hy het ook aan die hof ʼn foto van Jayde se gebalde linkerhand gewys. “Ons sien dit in gevalle van selfmoord, waar die vuurwapen in die hand vasgeklem word, selfs voordat die liggaam styf word. Dieselfde gebeur in motorongelukke waar oorledenes se hande die stuurwiel vasklem,” het hy verduidelik.

“Hoewel ek nie kan bewys dat die hand gebal is voordat die styfheid van die liggaam ingetree het nie, meen ek dit is wat gebeur het. Ek vermoed dit [handspasma] is deur die trauma veroorsaak,” het hy gesê.

Panayiotou het dwarsdeur Bekker se getuienis geen emosie getoon nie. Hy het met tye afgekyk na die vloer, maar dan weer opgekyk as foto’s van sy oorlede vrou se liggaam aan die hof gewys is. Die foto’s van Jayde se gesig en haar persoonlike items, soos ʼn silwer horlosie aan haar linkerarm en ʼn armband aan haar regterarm, het geen emosie van die sakeman ontlok nie.

Die Panayiotou-familie het gelyk asof hulle probeer om nie na die foto’s op die hofskerm te kyk nie en het hul gesigte weggedraai of afgekyk.

Die staat beweer Panayiotou het Luthando Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal om ʼn huurmoordenaar, Sizwe Vumazonke, te kry om Jayde te ontvoer en te vermoor. Die staat beweer Nenembe het Vumazonke gehelp om te moord uit te voer. Sibeko se beweerde rol in die moord is nog nie duidelik nie.

Siyoni het intussen staatsgetuie geword en Vumazonke is vroeër vanjaar in aanhouding dood.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Frederik ·

En waar pas die Sibeko, aan die einde van die berig, in die prentjie ?

Adeline ·

Die lafaard is so skuldig! Nie n greintjie menslikheid op sy bakkies nie.

jaco ·

dis UITERS vreemd dat sy skelmpie nie in hierdie saak getuig nie

So Sad ·

Dit is so sad, die vrees wat Jade moes hê van Kabega park in daai boot tot in die veld en heeltyd totdat sy soos n dier afgemaai is, die heeltyd wat sy daar gesit het tot daai finale skoot! Ek kan nie glo dat iemand so gevoelloos kan wees nie en jy weet jou aandeel, sjoe!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.