Panayiotou-moordsaak: Staatsgetuie in getuiebank

Luthando Siyoni en sy prokureur, Zolile Ngqeza, by die hooggeregshof in Port Elizabeth: Foto: Raahil Sain/ANA

Luthando Siyoni en sy prokureur, Zolile Ngqeza, by die hooggeregshof in Port Elizabeth: Foto: Raahil Sain/ANA

Luthando Siyoni, ʼn uitsmyter by ʼn nagklub wat beweer hy het die sakeman Christopher Panayiotou gehelp om ʼn huurmoordenaar te kry om sy vrou, Jayde, te vermoor, sal na verwagting Donderdag in die getuiebank in die hooggeregshof in Port Elizabeth wees.

Die staat sal vandag vir Siyoni, ʼn staatsgetuie, roep om te getuig in wat beskryf word as ʼn verhoor binne ʼn verhoor. Daar was Woensdag onsekerheid by die hof rondom Siyoni se getuienis, terwyl die staat ure lank agter geslote deure met Siyoni vergader het.

Die hofsaal was volgepak met lede van die Inggs- en Panayiotou-familie, lede van die media en die publiek, wat almal gewag het vir die verhoor om te begin. Die verrigtinge het uiteindelik teen 15:00 begin ná twee informele uitstelfases vroeër die dag.

Adv. Marius Stander vir die staat het gesê die staat sal Donderdag eerste vir Siyoni roep om te getuig. Regter Dayalin Chetty het Siyoni gewaarsku om 09:00 by die hof te wees.

Panayiotou word daarvan beskuldig dat hy die meesterbrein agter Jayde se ontvoering en moord is. Die staat voer aan hy het Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal om Sizwe Vumazonke as sluipmoordenaar te huur. Vumazonke is glo deur Sinethemba Nenembe bygestaan om die ontvoering en moord uit te voer. Zolani Sibeko is in Julie vanjaar in hegtenis geneem nadat hy deur sy selfoon verbind is met die saak. Hy was glo saam met Nenembe en Vumazonke by die kompleks waar Jayde ontvoer is. Vumazonke is intussen in polisieaanhouding dood.

Siyoni het ná sy inhegtenisneming ʼn staatsgetuie geword wat beteken dat die aanklagte teen hom teruggetrek is. Hy sal aan die einde van die verhoor vrygespreek word indien die regter hom as ʼn betroubare en eerlike getuie ag. Volgens die bewyse wat voor die hof geplaas is, het Siyoni die polisie van inligting voorsien wat vir Panayiotou by Jayde se moord betrek. Siyoni is ná sy inhegtenisneming deur die polisie gebruik om ʼn lokval te stel om genoeg bewyse te bekom om Panayiotou in hegtenis te neem.

Panayiotou se regspan het aangedui dat hulle die getuienis van Siyoni sal teenstaan. Adv. Terry Price beweer dat Siyoni verskeie kere deur die polisie aangerand is om ʼn skulderkenning te maak. Die verdediging vra die hof om Siyoni se getuienis te verwerp.

Siyoni het gister ure lank met sy prokureur, Zolile Ngqeza, Stander en die hoftolk, Jeffrey Wabanie, vergader. Panayiotou se minnares, Chanelle Coutts, was ook Woensdag by die hof en het ook ure lank met haar prokureur, Danie Gouws, vergader.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.