Panayiotou-moordverhoor hervat

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Die voortslepende moordverhoor van Christopher Panayiotou, die sakeman wat verdink word dat hy sy vrou, Jayde, laat vermoor het, en sy drie medebeskuldigdes word Maandag in die Port Elizabeth-hooggeregshof hervat.

Die staat het voor die saak in September uitgestel is, aangedui hy gaan weer ʼn aansoek indien om sy saak te heropen, aangesien ʼn getuie vir Panayiotou se verdediging, ʼn amptenaar van die direktoraat van openbare vervolging, ontken het hy het riglyne aan die polisie gegee om ʼn geheime video te laat opneem wat tot Panayiotou se inhegtenisneming gelei het.

Dit is nie duidelik of Panayiotou se beweerde minnares, Chanelle Coutts, ingeroep gaan word om vir hom te getuig nie. Sy regspan het aangedui sy sal verlof moet indien om hof toe te gaan.

Dit is die staat se saak dat die selferkende middelman, Luthando Siyoni, gewillig deelgeneem het om die polisie in die lokval by te staan om ʼn geheime video te neem waarin Panayiotou skynbaar homself onder verdenking ten opsigte van Jayde se moord plaas.

Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko word verhoor vir sameswering om Jayde op 21 April 2015 te ontvoer, beroof en vermoor.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.