Panayiotou-moordverhoor: Staat roep eerste getuie

Jayde Panayiotou. Foto: Verskaf

Jayde Panayiotou. Foto: Verskaf

Die staat roep Woensdagoggend sy eerste getuie om in die Port Elizabeth-hooggeregshof te getuig in die moordverhoor van die sakeman Christopher Panayiotou en die mans wat glo ʼn rol gespeel het om sy vrou, die onderwyseres Jayde Panayiotou, te vermoor.

Staatsaanklaer Marius Stander het aangedui hy gaan Cherise Swanepoel, Jayde se vriendin en kollega, roep om te getuig. Jayde het die dag van haar ontvoering op 21 April verlede jaar vir Swanepoel buite haar kompleks gewag vir ʼn rygeleentheid na die skool toe sy spoorloos verdwyn het. Stander het Dinsdag in die hof gesê die staat sal aanvoer dat Jayde op die sypaadjie ontvoer is, waarna sy na ʼn afgeleë plek in die buitewyke van Kwanobuhle geneem en vermoor is.

Panayiotou word daarvan beskuldig dat hy die meesterbrein is agter Jayde se ontvoering en moord. Die staat voer aan hy het Luthando Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal om Sizwezakhe Vumazonke as sluipmoordenaar te huur. Vumazonke is glo deur Sinethemba Nenembe bygestaan om die ontvoering en moord uit te voer. Nog ʼn verdagte, Zolani Sibeko, is in Julie vanjaar in hegtenis geneem nadat hy deur sy selfoon verbind kon word by die saak. Hy was glo saam met Nenembe en Vumazonke by die kompleks was waar Jayde ontvoer is.

Siyoni het intussen ʼn staatsgetuie geword en Vumazonke is vroeër vanjaar in aanhouding dood.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.