Panayiotou-moordverhoor: Staat wil sy saak heropen

Christopher Panayiotou tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: ANA

Die staat het Vrydag in die Port Elizabeth-hooggeregshof aangedui hy gaan weer ʼn aansoek indien om sy saak te heropen teen Christopher Panayiotou, die sakeman wat verdink word dat hy sy vrou, Jayde, laat vermoor het.

Staatsaanklaer Marius Stander het gesê hy is van plan om senior adv. Zelda Swanepoel en adv. Malherbe Marais, adjunkdirekteur van openbare vervolging, in te roep om te getuig.

Dit volg nadat adv. Selvan Gounden van die direktoraat van openbare vervolging, ʼn getuie vir die verdediging, Vrydag ontken het hy het riglyne aan die polisie gegee om ʼn geheime video te laat opneem wat tot Panayiotou se inhegtenisneming gelei het.

Volgens Stander het Swanepoel en Marius aan Gounden gesê spesiale magtiging is nie nodig om ʼn lokval te stel nie.

Stander het ook aan die hof Swanepoel se dagboekinskrywing gewys wat die gesprek genotuleer het. Selfoonrekords wys ook blykbaar die volgorde van gesprekke tussen Gounden en sy kollegas.

Stander het gesê Marais het spesifieke riglyne aan Gounden deurgegee oor hoe die operasie moet plaasvind. Gounden ontken egter die gesprekke.

Volgens Stander is die polisie aangesê dat spesiale magtiging nie nodig is om die lokval te stel nie, maar spesifieke riglyne wel gevolg moet word.

Dit is die staat se saak dat die selferkende middelman, Luthando Siyoni, gewillig deelgeneem het om die polisie in die lokval by te staan om ʼn geheime video te neem waarin Panayiotou skynbaar homself onder verdenking ten opsigte van Jayde se moord plaas.

Hofverrigtinge is tot 16 Oktober uitgestel.

Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko word verhoor vir sameswering om Jayde op 21 April 2015 te ontvoer, beroof en vermoor.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

LMF ·

Wat de hel gaan aan dat die mans wat hul vrouens laat vermoor nog so vry kan rondloop waar is daai Henning ek wag al jare vir sy dag in die hof maar een ding is n feit GOD slaap nie

LBS ·

Ja, ek het ook al baie gewonder oor die Henning-saak. Hy is mos self ‘n Advokaat so dit gaan nie ‘n maklike een wees nie, dalk maak die speurders eerder 100% seker van hulle feite en bewyse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.