Christopher Panayiotou was “nie baie emosioneel” toe hy uitgevind het sy vrou se liggaam is in die buitewyke van Kwanobuhle gevind nie, het ʼn familievriend in die Port Elizabeth-hooggeregshof getuig.
“Toe ek daar aankom, het ek vir Chris [Christopher] saam met Demitri [sy oom] gesien en Demitri was geruk, maar Chris, ek weet nie of hy in skok was nie, maar hy was nie baie emosioneel nie,” het die vriend, Pieter Bekker, Donderdag getuig.
Bekker het getuig in die moordverhoor van Panayiotou en sy twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko.
Bekker het aan die hof vertel hoe hy en sy vriende gehelp het in die soektog na Jayde op 21 en 22 April verlede jaar. Hy het gesê hy het aan die polisie voorgestel om ʼn beloning uit te loof vir inligting oor haar verdwyning.
Adv. Terry Price, vir die verdediging, het aangevoer Bekker se bewerings dat Panayiotou nie emosioneel voorgekom het nie, is ongegrond.
“Ek stel dit aan jou toe Christopher sy vrou gesien het, het hy gehuil. Sy pa het gehuil en Derrick Inggs [Jayde se pa] het gehuil en hulle het mekaar getroos,” het Price gesê.
Die verhoor duur Vrydag voort.
Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.
Ag ou Terry Price, oor almal wat getuig het jy n eier tele! Sit die man in die tjoekie en gooi die sleutel weg! Almal weet hy is skuldig, maar jy kry seker n hoop geld om almal se getuienis te betwis!
Dis baie maklik om te maak of jy huil ….
Sluit toe. Gooi sleutel in diepsee.
Nes hy gehuil het op haar begrafnis! En mooi woorde gepreek het met die hoop hulle verdink hom nie. Hy is so skuldig soos die lig blou is.
Hoe kan hy die skurk so verdedig?? Daar sal nooit geregtigheid kom in die land nie.
Skurke word ook in ander lande verdedig.
Moet erken Terry het min om mee te werk en moet maar elke klein strooi halm gryp, kyk as dit enigsins dalk die kreditasie van die getuie kan raak moet hy probeer, want onthou hy word sakke vol geld daarvoor betaal.
Hy loer loer na sy mede beskuldigdes, eish ek dog hy ken hul van geen kant!