Panayiotou-saak: Beskuldigde borgtog geweier

Christopher Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko (met sy gesig bedek) in die hooggeregshof in Port Elizabeth (12 Oktober 2016). Foto: ANA/Raahil Sain

Christopher Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko (met sy gesig bedek) in die hooggeregshof in Port Elizabeth (12 Oktober 2016). Foto: ANA/Raahil Sain

Zolani Sibeko, wat daarvan beskuldig word dat hy betrokke was by die sameswering om Jayde Panayiotou te vermoor, is Maandag in die hooggeregshof in Port Elizabeth borgtog geweier.

Adv. Peter Daubermann, namens Sibeko, het vroeër aangevoer daar is geen rede waarom sy kliënt sy verweer bekend hoef te maak nie, aangesien die staat geen saak teen hom het nie. Regter Irma Schoeman het egter in haar uitspraak gesê sy meen die staat het moontlik ʼn saak teen Sibeko.

“Ek meen die beskuldigde kon nie bewys die staat het nie ʼn saak teen hom nie. Ek meen ook indien die staat sy saak kan bewys, soos uiteengesit in Swanepoel se verklaring, is daar ʼn saak teen hom.”

Volgens kapt. Kanna Swanepoel, die ondersoekbeampte, se verklaring is Sibeko en iemand genaamd Khuselo Vandala deur Sizwe Vumazonke, Jayde se beweerde moordenaar, genader om ʼn vuurwapen te reël om Jayde mee te skiet.

Sibeko was die laaste verdagte wat in hegtenis geneem is oor die moord op Jayde. Selfoonrekords wys glo hy was in die dae voor die moord op Jayde in die omgewing van die kompleks waar sy gewoon het. Hy is 15 maande na die moord in hegtenis geneem.

Die staat voer aan Christopher Panayiotou het die uitsmyter van sy Infinity-nagklub betaal om sluipmoordenaars te huur om sy vrou, Jayde, te ontvoer en vermoor omdat sy “ʼn finansiële las” was.

Jayde se liggaam is op 22 April verlede jaar in ʼn beboste gebied aan die buitewyke van Kwanobuhle gevind.

Die verhoor sal van 19 April tot 5 Mei en weer van 12 tot 30 Junie in die hooggeregshof in Port Elizabeth voortgaan.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.