Panayiotou-saak: Borgtog gevra; staat roep soveel getuies

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Die saak teen Christopher Panayiotou en sy twee medebeskuldigdes is Maandag, net meer as ʼn jaar ná die moord op Jayde Panayiotou, na die hooggeregshof in Port Elizabeth verwys.

Die staat het aangedui dat hy 48 getuies sal inroep in die saak teen Panayiotou, Sizwezakhe Vumzonke en Sinethemba Nenembe. Die voorverhoorkonferensie sal op 26 Julie plaasvind. Panayiotou word daarvan beskuldig dat hy die moord op sy vrou, Jayde, gereël het.

Jayde se ma, Michelle, haar pa, Derrick, en suster, Toni, sal getuig tydens die verhoor wat van 3 Oktober tot 2 Desember sal plaasvind. Panayiotou se 26-jarige voormalige minnares, Chanelle Coutts, sal na verwagting ook ʼn staatsgetuie wees.

Panayiotou het vroeër erken dat hy ʼn verhouding met Coutts, ʼn bestuurder by sy OK Grocer-winkel, gehad het. Hy het destyds aan die hof gesê dat die verhouding nie ʼn invloed op sy huwelik van twee jaar gehad het nie.

Die staat voer egter aan dat Panayiotou sy vrou laat vermoor het aangesien hy nie haar en sy minnares kon onderhou nie. Die verhouding het glo ʼn jaar voor sy troue al begin.

Panayiotou sal intussen Dinsdag vir die derde keer om borgtog aansoek doen nadat sy ander aansoeke van die hand gewys is.

Panayiotou en sy medebeskuldigdes staan tereg op aanklagte van moord, sameswering om moord te pleeg, roof met verswarende omstandighede, ontvoering, en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Panayiotou staan ook tereg op aanklag van dwarsboming van die gereg.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

Elke keer as ek die foto soos gepubliseer sien en ek lees die opskrifte en berig…dan kan ek nie anders aa om hartseer te wees vir die absolute absurde wreedheid van die saak teenoor die onskuld en vreugde van die gesig van ‘n bruid in die foto. EN dan die gesig van die bruidegom…en aangeklaagde van moord op sy bruid????? Hoe siek kan die mens himself bedink en bedoen?

pop ·

En daar lees ek nou dat Couts sy voormalige minnares is. So syt hom ook nou gelos. Ek wonder of die wreedaard nou insien dat dit n gekke spul was. Net soos hy nie sy huwelik na waarde geskat het nie, net so min het sy minnares hom na waarde geskat. Hopenlik kry hy nie borg nie, Hy moet in die tronk vrot totdat hy nie meer lus is vir ander vrouens en moord nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.