Panayiotou-saak hervat vir vonnis

Christopher Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko in die hof (26 Oktober 2017). Foto: Raahil Sain/ANA

Die vonnisopleggingsverrigtinge in die moordverhoor van Christopher Panayiotou en sy twee medebeskuldigdes sal Donderdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth voortgaan.

Panayiotou is vroeër die maand skuldig bevind aan die moord op sy vrou. Panayiotou en sy medebeskuldigdes sal na verwagting vandag ter strafversagting getuig. Dit kom ʼn dag nadat Jayde Panayiotou haar 32ste verjaarsdag sou vier.

Emosies het op 17 November hoog geloop in die hof toe Jayde se suster ʼn hartverskeurende brief voorgelees en gesê het hulle sal Panayiotou nooit vergewe nie.

“Ek wil hê jy moet weet dat my ma, pa en ek jou nooit sal vergewe nie,” het ʼn emosionele Toni Inggs gesê. “Die lafaards wat vandag hier in die voorste ry sit, sal nooit vergewe word nie.”

Inggs is as die staat se enigste getuie geroep ter strafverswaring. Sy het gesê sy het ʼn jaar gelede besluit om te versoek dat sy Panayiotou en Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko, wat ook skuldig bevind is in verband met die moord, direk wil aanspreek.

“Ek staan vandag hier met ʼn gebroke hart, ʼn beskadigde lewe en geweldige woede. Julle het almal gewen. Julle het die selfsugtige speletjie gewen die dag toe julle ingestem het om Jayde te vermoor. Soos gewoonlik kry Chrissy [Christopher] presies wat hy wil hê.”

Inggs het daarop aangedring dat Panayiotou na haar kyk terwyl sy met hom praat. Hy het egter geweier en bly afkyk. “Om hier te staan en te sê ek haat julle drie kom nie eens naby aan hoe ek oor julle voel en wat julle aan my familie gedoen het nie.”

Die saak is tot vandag uitgestel ná ʼn versoek van die verdediging wat nog nie gereed was om voort te gaan nie.

Panayiotou is op 2 November, op sy 31ste verjaarsdag, skuldig bevind aan die moord op sy vrou. Hy is ook skuldig bevind aan dwarsboming van die gereg. Nenembe is skuldig bevind op ʼn aanklag van moord, asook op ʼn aanklag van roof met verswarende omstandighede. Sibeko is skuldig bevind op ʼn aanklag van sameswering tot moord.

Die uitspraak het gevolg ná ʼn marathon-verhoor wat meer as ʼn jaar gelede begin het en waartydens 58 getuies geroep is.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alida ·

Dankie tog laat geregtigheid nou geskied en die saak afgehandel word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.