Panayiotou-saak: Hof hoor oor ‘bloedspatsels’ in kattebak

Jayde Panayiotou. Foto: Verskaf

Jayde Panayiotou. Foto: Verskaf

ʼn Misdaadtoneeldeskundige het Dinsdag aan die hooggereghof in Port Elizabeth gesê hy glo daar was bloedspatsels in die kattebak van die motor wat vermoedelik tydens Jayde Panayiotou se ontvoering gebruik is.

Ao Phillip Bekker het op die 15de dag van die hofsaak getuig in die saak teen Jayde se man, Christopher Panayiotou en sy twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko.

Die drie staan tereg op verskeie aanklagte, waaronder moord, nadat Jayde se liggaam op 22 April verlede jaar in ʼn beboste gebied in Kwanobuhle gevind is. Die staat voer aan die sakeman het ʼn sluipmoordenaar gehuur omdat sy ʼn finansiële las was.

Bekker het gesê hy het toetse gedoen op die wit Etios, wat glo deur die huurmoordenaar Sizwe Vumazonke gebruik is, om bloedspatsels te soek wat nie sigbaar is vir die blote oog nie. Hy het gesê na sy mening is die vlekke wat in die kattebak van die voertuig gevind is, moontlik bloedvlekke, maar hy het bygevoeg ʼn DNS-kenner sou toetse moes doen om te bevestig of dit wel positief toets vir bloed. “Ek is van mening dit is moontlik bloed,” het Bekker aan staatsaanklaer Marius Stander gesê.

Volgens die staat is Jayde, tydens haar ontvoering buite haar Stellen Glen-kompleks, oor die kop geslaan en in ʼn kattebak geplaas voordat daar met haar na die buitewyke van Kwanobuhle gery is waar sy vermoor is.

Die staat voer aan sy is twee keer in die rug en een keer in die kop geskiet.

Bekker het vroeër getuig Jayde het gehurk toe sy geskiet is. Nabyskote van die onderwyseres se kop- en lyfbeserings is weer in die hof gewys. Ander foto’s het haar liggaamsbewegings aangedui toe sy geskiet is.

Bekker is van mening Jayde het aanvanklik gehurk toe sy geskiet is. Hy het daarna ʼn kop en rugbeweging aangeteken en haar finale posisie waar sy op haar rug op die grond lê. Hy het gesê Jayde het definitief nie regop gestaan toe sy geskiet is nie.

Die beskuldigdes staan tereg op aanklag van sameswering om moord te pleeg, moord, ontvoering, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Die mans het skuld ontken op alle aanklagte teen hulle.

Panayiotou, wat kort ná sy vrou se moord meer as ʼn jaar gelede in hegtenis geneem is, staan tereg op ʼn bykomende aanklag van dwarsboming van die gereg.

Sibeko is die laaste verdagte wat in hegtenis geneem is, 15 maande na die moord. Hy word glo deur middel van selfoonseine verbind aan die moord dat hy buite Jayde se kompleks was in die paar dae voor haar moord. Sy presiese rol in die voorval is nog nie duidelik nie.

Die saak duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

tinah ·

ag nee, hoekom raai werk oor die bloed in die kattebak, ag nee? wat se polisie werk is dit?

Ek hoop regtig ·

Ek hoop regtig die uitslae kom betyds en bevestig haar bloed, wat maar net nog ‘n bewys is dat dit die betrokke voertuig is en dat die die betrokke groepie is wat aandadig aan haar MOORD was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.