Panayiotou-saak: Magtiging vir video-gesprek in die kollig

Selvan Gounden, adjunkdirekteur van openbare vervolging, in die hof (28 September 2017). Foto: Raahil Sain/ANA

Adv. Selvan Gounden, ʼn adjunkdirekteur van openbare vervolging in Grahamstad, het Donderdag aan die hooggeregshof in Port Elizabeth gesê as Christopher Panayiotou se uitsmyter uit vrye wil aan ʼn geheime polisieoperasie deelgeneem het, sou magtiging vir die operasie nie nodig gewees het nie.

Gounden is deur adv. Marius Stander, die staatsaanklaer, kruisondervra nadat die verdediging vir Gounden as hul eerste getuie geroep het in die moordverhoor teen Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko. Die mans word daarvan beskuldig dat hulle saamgesweer het om Panayiotou se vrou, Jayde, in 2015 te vermoor.

Gounden het dwarsdeur sy getuienis ten sterkste ontken dat hy ooit verbale magtiging of leiding aan die polisie gegee het voordat die geheime operasie uitgevoer is.

Gounden het Donderdag aan die hof gesê hy het nie die mag om magtiging vir die operasie te gee wat op 29 April 2015 uitgevoer is nie. Gedurende kruisondervraging het meer inligting egter aan die lig gekom oor hoe die polisie die operasie georkestreer het.

Stander se vrae aan Gounden het gefokus op hoe die polisie magtiging gekry het om die geheime video-opname van ʼn gesprek tussen Panayiotou en die self-erkende middelman, Luthando Siyoni, op te stel. In die video praat Panayiotou blykbaar met Siyoni oor Jayde se moord en impliseer hy homself oënskynlik by die moord.

Die gesprek is enkele dae ná Jayde se moord op video vasgelê. Die sakeman sê in die video hy raak bekommerd omdat die polisie elke beweging van hom dophou. Hy sê ook vir Siyoni om sy SIM-kaart en selfoon te vernietig en gee hom opdrag om hom nie te bel nie omdat die polisie sy oproepe dophou.

‘n Skermskoot uit die video.

Die verdoemende video is in die hof gewys nadat regter Dayalin Chetty vroeër beslis het dit is toelaatbaar as bewysstuk.

Volgens die staat het Siyoni uit vrye wil aan die geheime polisieoperasie deelgeneem. Die verdediging voer egter aan Siyoni is aangerand en gedwing om sy baas by die moord te betrek. Die hof het vroeër gehoor Gounden is ʼn dag voor die polisieoperasie deur Indra Goberdan, adjunkdirekteur van openbare vervolging, gebel.

Hy het gesê sy het sy opinie gevra oor die toelaatbaarheid van die geheime video in die hof. “Ek het vir haar gesê in my opinie is magtiging vir die polisieoperasie nie nodig nie,” het Gounden gesê. Hy het gesê hy het daarna vir adv. Zelda Swanepoel gekontak om haar te vra of magtiging nodig sal wees en sy het ook bevestig dit is nie nodig om magtiging te kry nie.

Gounden het ook sy kollega van 16 jaar, adv. Malherbe Marais, genader vir raad oor die saak. Die staat voer aan Marais het Gounden spesifieke riglyne gegee van hoe die operasie uitgevoer moet word. Dit het ingesluit dat geen bedrading gebruik moes word nie en dat die geheime operasie in ʼn beheerde omgewing, soos ʼn voertuig, met opnametoerusting gedoen moet word.

Gounden het ontken dat Marais spesifieke riglyne aan hom gegee het en hou vol dat Marais “duidelik ʼn fout maak”. Stander het hom gevra hoe die polisie dan geweet het dat die operasie sonder bedrading in ʼn beheerde omgewing gedoen moes word.

Christopher Panayiotou praat met sy ma, Fanoula, in die hooggeregshof in Port Elizabeth (28 September 2017) Foto: Raahil Sain/ANA

Gounden het geantwoord hy kan net aanneem dat Marais hierdie riglyne aan die polisie gegee het. Hy het ontken dat hy die riglyne aan die polisie oorgedra het. “Dit is nie hoe die DOV werk nie. Marais sou self met die polisie gepraat het, daar is nie ʼn middelman in sulke operasies nie. Geen DOV-kantoor in die land werk so nie,” het Gounden gesê.

Gounden het ook ontken dat hy met ao. Leon Eksteen ʼn gesprek gehad het of magtiging vir die operasie nodig was. “Volgens die polisie het hulle toestemming ontvang dat magtiging nie nodig was vir die operasie nie, maar dat sekere riglyne gevolg moes word. Daar is vir hulle gesê hulle kan maar voortgaan, maar hulle moet die riglyne volg. En jy het geen rol in hierdie verband gespeel nie?” het Stander gevra.

Gounden het weereens ontken dat hy hierby betrokke was en het gesê daar is tot vandag toe geen dokumente oor magtiging vir hierdie operasie nie. Gounden het tydens sy getuienis toegegee sy weergawe kan moontlik verkeerd wees, omdat hy gesprekke met kollegas onthou wat volgens hom plaasgevind het nadat die polisieoperasie klaar uitgevoer is. Selfoonrekords in die staat se besit dui egter daarop dat die gesprekke plaasgevind het voordat die operasie uitgevoer is.

Die verhoor hervat vandag.

Sien hier die volledige beeldmateriaal van die geheime polisieoperasie wat die gesprek tussen Panayiotou en Siyoni vasgevang het.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cor ·

Wys net weer as jy n antwoord kry op n navraag maak seker dit is op skrif met al die betrokke persoon wat antwoord verskaf se volle besonderhede en probeer maar om die gesprek op te neem ook. In vandag se lewe is ontkening , ek kan nie onthou nie, ek het nie geweet nie of ek het vergeet aan die orde van die dag want niemand wil verantwoording vat nie.

Eish ·

Professionele mense in gesagsposisies wat rondploeter in tegniese aspekte soos n eerstedag peuter in kleuterskool. Skande. Kry konsultante om jul te bedien met feite.

Cacophony ·

Dis verstommend! Gouden werk vir die vervolgingsgesag maar getuig teen die vervilgingsgesag se eie saak? Dis mos nou verspot to say the least! Seersekerlik het hierdie klomp clowns met mekaar gekonsukteer voordat hierdie saak in die hof gekom het? Aan watter kant van die draad staan Gouden nou eintlik geregtigheid of die verdediging

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.