Panayiotou-saak: Middelman nou moontlik verhoor

Jayde Panayiotou. Foto: Verskaf

Luthando Siyoni, die selferkende middelman wat glo ʼn huurmoordenaar gereël het om Jayde Panayiotou te ontvoer en te vermoor, is nie van vervolging gevrywaar nie.

Regter Dayalin Chetty het Donderdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth beslis Siyoni, ʼn artikel 204-getuie, kan vervolg word en het Siyoni se regsverteenwoordiger, Zolile Ngeza, gekritiseer omdat hy glo bedrieglik opgetree het.

ʼn Dagvaarding sal glo binnekort vir Siyoni uitgereik word om in die hof te verskyn. Siyoni was nie teenwoordig by Donderdag se verrigtinge nie.

Ngeza het aan die hof gesê Siyoni het tot die beste van sy vermoë getuig. Siyoni het egter by die binneverhoor sy verklarings teruggetrek wat hy aan die polisie gemaak het en geweier om enige van staatsaanklaer Marius Stander se vrae te beantwoord.

Ngeza het Siyoni geadviseer om nie enige vrae te beantwoord wat hom kan inkrimineer nie selfs al word daar verwag dat artikel 204-getuies eerlik moet getuig. Siyoni en sy vriendin, Babalwa Breakfast, is gevolglik albei as vyandige getuies verklaar.

Chetty het gesê Siyoni was nie in staat om ʼn betekenisvolle bydra te maak nie en het in sy uitspraak sy getuienis as ʼn “mengeldrankie van leuens, meineed en taktiek” bestempel wat ten doel gehad het om Panayiotou se verweer te versterk.

Siyoni word dus nou nie meer gevrywaar van aanklagte wat verband hou met die sameswering om moord te pleeg, roof met verswarende omstandighede en dwarsboming van die reg nie.

Panayiotou is op 2 November, op sy 31ste verjaarsdag, skuldig bevind aan die moord op sy vrou. Hy is ook skuldig bevind aan dwarsboming van die gereg. Sinethemba Nenembe is skuldig bevind op ʼn aanklag van moord, asook op ʼn aanklag van roof met verswarende omstandighede. Zolani Sibeko is skuldig bevind op ʼn aanklag van sameswering tot moord.

Vonnisopleggingsverrigtinge het vandag voortgegaan nadat Jayde se suster, Tony Ingss, op 17 November ter strafverswaring getuig het en die saak daarna uitgestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.