Panayiotou-saak: Minnares wis niks van moord of oproepe

Chanelle Coutts getuig tydens Christopher Panayiotou se hofsaak (16 Oktober 2017) Foto: Raahil Sain, ANA

Chanelle Coutts, die moordbeskuldigde Christopher Panayiotou se minnares, het Maandag as ʼn getuie vir die verdediging in die Port Elizabeth-hooggeregshof verskyn.

Lede van die media, die Inggs-familie, Panayiotou-familielede en vroue wat Coutts ondersteun het in die openbare galery gesit.

Coutts (29) wat as ʼn bestuurder by Panayiotou se OK Grocer gewerk het, het getuig dat die polisie haar in die dae ná Jayde se dood in April 2015, onder druk geplaas het om inligting aan hulle te verskaf.

Coutts het gesê die polisie het haar by die OK Grocer opgelaai en na die Valke se kantoor in Newton Park geneem. Sy het gesê sy was “verward, bekommerd en geïntimideer” tydens die drie uur lange vergadering.

Sy het in ʼn stadium besluit om prokureur Danie Gouws aan te stel, omdat sy gevoel het die polisie teister haar. “[Ondersoekbeampte] Kanna het na my huis toe gekom en het baie druk op my geplaas en dieselfde vrae oor en oor vir my gevra. Hulle het aangevoer ek probeer Christopher beskerm.”

Coutts ontken dat Panayiotou ʼn deposito van R17 000 vir haar nuwe Polo-motor betaal het. Sy voer aan Panayiotou het dit deur middel van ʼn bonus bygedra. Sy beweer die geld is direk aan Tavcor oorbetaal. Staatsadvokaat Marius Stander het egter bevraagteken waarom die bedrag, as dit ʼn bonus was vir haar werk by die OK Grocer, nie in die maatskappy se finansiële state reflekteer nie.

Coutts het gesê sy het omvattende kennis van dit wat by die OK Grocer gebeur, veral wat voorraadbeheer, geldsake, begroting en dag-tot-dagbedrywighede betref. Sy ontken dat die maatskappy ooit finansiële probleme gehad het en beweer die polisie het inligting in haar verklaring gefabriseer.

Christopher Panayiotou in die hof (16 Oktober 2017) Foto: Raahil Sain, ANA

Sy het gesê sy het “geen idee” hoe die staat die inligting oor die motief vir Jayde se beweerde moord gekry het nie. Adv. Terry Price het haar gevra: “Die staat het tydens die borgtogaansoek beweer die motief vir Jayde se moord is dat Christopher Jayde wou vermoor omdat sy hom te veel geld gekos het.”

Sy ontken dat sy enige kennis gehad het van geld vir ʼn beweerde sluipmoordenaar wat in ʼn sak by die OK Grocer se stoorkamer gehou is. “Ons het baie streng beheer by OK [Grocer]. Die stoorkamer was nie gesluit nie en enigiemand het toegang gehad. Ek het nie enige geld in ʼn sak gesien nie,” het Coutts getuig.

Sy beweer sy het ook nie enige kennis gehad van die omstandighede wat tot die onderwyseres se moord gelei het nie. “Ek het dit vir die polisie gesê, maar hulle het die heeltyd druk op my geplaas.”

Coutts kon egter nie verduidelik waarom haar selfoonnommer minstens 17 keer gebruik is om met ʼn vermeende sluipmoordenaar, Trompie, te kommunikeer nie. Sy het onder kruisverhoor gesê sy het geen kennis van die oproepe nie.

Die selferkende middelman, en uitsmyter by Panayiotou se Infinity-nagklub, Luthando Siyoni, het na bewering in 2014 ʼn ontmoeting gereël tussen Panayiotou en Trompie nadat die sakeman Siyoni gevra het om iemand te huur om sy vrou te vermoor.

Volgens Siyoni se verklaring het niks na dié ontmoeting gebeur nie en ander beweerde sluipmoordenaars is genader. Volgens Siyoni was Trompie een van die eerste sluipmoordenaars wat genader is.

Selfoondata, wat vroeër aan die hof voorgehou is, het gewys dat Coutts se selfoon minstens 17 keer oor vyf dae tussen September en Oktober 2014 gebruik is om met Trompie te kommunikeer.

Coutts het gesê sy weet niks van hierdie oproepe nie en sal ook nie die nommer herken as sy dit moet sien nie. “Ek ken nie eers iemand met die naam Trompie nie,” het sy gesê.

Selfoondata het ook gewys dat Panayiotou en Coutts se oproepe aan mekaar gereeld die laaste oproepe vir die dag was en dat Coutts se selfoon in die aande naby Jayde se huis was, terwyl die onderwyseres uitstedig was. Sy het aan die hof erken dat sy by Jayde se huis oornag het wanneer die onderwyseres nie tuis was nie.

Sy was “kwaad en het seergemaak gevoel” toe Christopher vir haar gesê het hy en Jayde gaan trou. Die buite-egtelike verhouding het egter ná die troue voortgeduur.

Die staat voer aan Panayiotou het Luthando Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, geld betaal om die sluipmoordenaar Sizwe Vumazonke te huur om Jayde te ontvoer en te vermoor. Die staat voer aan dat Sinethemba Nenembe Vumazonke ondersteun het om Jayde te ontvoer en te vermoor. Vumazonke het na bewering Jayde na Kwanobhule geneem en haar twee keer in die rug en een keer in die kop geskiet. Vumazonke is intussen oorlede. Panayiotou, Nenembe en Zolani Sibeko staan tereg op aanklag van ontvoering, roof en die moord op Jayde op 21 April 2015.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Rasper ·

Wat my verstand te bowe gaan hoe kan jy wat vrou is met n getroude man uitgaan. Dis baie swak van jou as vrou om met n ander vrou se man te lol. Ek weet ” it takes two to tango” maar jy kon nee gese het. Jy sal nie daarvan hou as jy getroud was dat n ander vrou dit aan jou doen nie.

Domvraag ·

Ek dink nie sy het hoë morele waardes nie..spring in n ander vrou se bed wanneer die uitstedig is en daarom glo ek haar nie dat sy nie weet of bewus is daarvan dat haar selfoon 17 keer gebruik is .Regtig 17 keer en jy weet niks, sien niks??

hannes marais ·

ek weet van n onderwyseres wat n huwelik opgebreek het en n affair met n getroude man gehad het…

kry al die feite ·

Dit is altyd so dat die ander vrou die skuld kry, ek keur dit wat gebeur het glad nie goed nie, dis onnodig en wreed. Maar dis tyd dat die man in so geval ook die skuld dra vir ‘n buite egtelike verhouding en NEE in sy woordeskat kan opneem, nie net die ander vrou nie, maar nee die maklike uitweg is altyd dat die ander vrou die oorsaak van als is. Niemand weet wat regtig in ‘n ander se lewe – veral agter toe deure aangaan nie , en gooi maar die klippe as jou lewe so skoon is

Soms verstaan ek ·

kry al die feite, ek moet sê, soms verstaan ek dit is nie maklik vir die ander vrou – maar regtig hierdie meisie het ‘n keuse, sy is een van sy 2 meisies (sy is die nuutste een gewees), sou hy albei aan ‘n lyntjie gehou het, kon ek nog verstaan, sy het hoop. Maar sowaar as hy dan nou die ander vervelige duur een bo jou kies, wat hou jou daar, suiwer seksuele bevrediging en geld, dit gooi jou in die klas van prostitusie, om geld te ontvang vir dienste gelewer, die man is getroud. Jy het geen morele waardes as jy dit toelaat nie. Jy moes aan hom duidelik gemaak het, jy kan y nie he, want jy het my nie gekies nie. Rasper en dom vraag is so absoluut reg, hoe weet jy nie van 17 oproepe van jou foon en al die planne, nee regtig meisie dink jy en jou regshulp werklik jul is besig met ‘n kleuter klas. Dan kom probeer jul ‘n morele punch deur te sê, ons wou eerlik wees oor ons verhouding, net ie die detail nie. Verder is dit ook vir my betreurenswaardig dat as sulke mense uitgevang word almal vir hul op die hande moet dra en mooi met hul moet praat en hul nie te na kom, wat van die slagoffers, jul kon hul vertrap en vernietig en almal moet tevrede wees daarmee, maar kriminele en vernietigers kan doen wat hul wil.

soms verstaan ek ·

Vorige kommentaar nie geplaas, maar ek wil sê soms verstaan ek, maar as jy 1 van 2 meisies in ‘n verhouding is – het jy dalk nog hoop, maar as hy die ander een kies om te trou beteken dit jy is nie goed genoeg, hoekom by hom bly , hom diens en geld ontvang – dit is hoe dit in bordele werk. Alles goeie aAfrikaans , so ek hoop dit word geplaas.

jen ·

dink hele argument is dat ons dinkkkkkkkkkk mos maar ons vrouens moet ook vir mekaar opstaan, so die verraad aan die kant van die vroulikeeen in die skelm verhoudings is altyd groter vir mens?

Soms verstaan ek ·

Jammer ek wou byvoeg ek stem ook saam die man moet ook net soveel moeilikheid kry, veral hierdie man wat beide aanhou en met 1 trou willens en wetens – gewetenloos. Sy speletjie gaan egter nie die gewenste uitwerking vir hom hê nie, hy het baie om te verduidelik en ek hoop geen vrou voel weer so minderwaardig om met so slime bol uit te gaan nie en gebruik te word nie.

hannes marais ·

vrouens weet waarvoor hulle,hulle inlaat as hulle met n getroude man n verhouding aanknoop,so ook die mans as hulle n affair met n vrou het terwyl hulle getroud is..albei partye se skuld en omdat albei partye so selfsugtig is vir hul eie geluk gee hul nie om hoe die wetlike vrou of man moet voel nie…sal opbreek en vernietig vir hul eie geluk.ek het net n stelling gemaak dat ek weet van so n geval waar n onderwyseres n huwelik vernietig het…ek kies geen kant nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.