Panayiotou-saak moontlik na hooggeregshof

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Die saak teen Christopher Panayiotou sal na verwagting na die Port Elizabeth-hooggeregshof oorgedra word, net meer as ʼn jaar ná die moord op sy vrou, Jayde.

Panayiotou en sy twee medebeskuldigdes, Sizwezakhe Vumazonke en Sinethemba Nenembe, sal na verwagting Dinsdag in die landdroshof voorkom.

Jayde, ʼn voormalige onderwyseres, is verlede jaar in April vermoor. Haar liggaam is buite Kwanobuhle- informele nedersetting in Uitenhage in die Oos-Kaap gevind.

Die staat voer aan Nenembe het die vermeende huurmoordenaar Vumazonke bygestaan om Jayde te ontvoer en te vermoor op versoek van haar man.

Staatsaanklaer Marius Stander het verlede maand gesê die staat wil die saak na die hooggeregshof oorplaas, maar dit is vertraag toe Nenembe nuwe regsvertgeenwoordiging bekom het.

Stander het Nenembe se nuwe prokureur versoek om hom van ʼn hardeskyf te voorsien sodat afskrifte van die dossier daarop oorgedra kon word, en dat hy genoeg tyd sou hê om voor te berei op ʼn vooraf konferensie wat in die hooggeregshof sou plaasvind.

Landdros Esti Petzer het gewaarsku dat sy nie enige verdere uitstel sal duld nie. “Die saak is al vir ʼn lang tyd op die rol, sedert April 2015. Jy het mnr. Daubermann aangestel en in hierdie stadium, wanneer die saak uiteindelik gereed is om na die hooggeregshof oorgeplaas te word, wil jy nie meer mnr Daubermann hê nie, weens ʼn gebrek aan fondse,” het sy gesê. “Dit is jou reg om regsverteenwoordiging te hê, maar hierdie hof gaan nie enige verdere uitstel van jou kant af duld nie.”

Die Demokratiese Alliansie se vrouenetwerk, DAWN, sal na verwagting Dinsdag ʼn betoging buite die landdroshof in Port Elizabeth hou. Celeste Barker, van die DA, het gesê die groep wil bewusmaking skep oor die impak van geweld teen vroue.

Die hof het in Januarie gehoor Panayiotou se hofsaak sal na verwagting in Julie begin. Sy aansoek om borgtog is aanvanklik in die Port Elizabeth-landdros afgekeur, en weer in die hooggeregshof in Grahamstad toe hy appèl aangeteken het. Dit het vroeër aan die lig gekom dat Panayiotou se prokureurs weer ʼn aansoek om borgtog sou bring gebaseer op nuwe feite, maar geen verdere besonderhede is intussen bekend gemaak nie.

Die saak het opspraak gewek in die media toe Panayiotou ʼn paar dae ná sy vrou se liggaam gevind is, in hegtenis geneem is.

Die onderwyseres is na bewering buite haar huis ontvoer terwyl sy vir ʼn rygeleentheid werk toe staan en wag het. Die staat voer aan haar man het haar vermoor omdat sy ʼn “finansiële las” was. Sy is oor die kop geslaan en in die kattebak van haar ontvoerder se motor geplaas. Sy is daarna van naby geskiet, twee keer in die rug en een keer in die kop.

Lees alle vorige berigte oor Jayde Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sarel Strydom ·

Wie is verantwoordelik vir die vertragings,staat of verdediging?

Marietjie ·

Hy het ‘n lewe geneem – hy is net so skuldig soos die wat die asem uit daardie pragtige vrou gesteel het. Nie almal gaan vergifnis gee nie, so stuur hulle sommer nou al na die poorte van die Hel toe – daar sal hul met ope arms ontvang word.

So hartseer ·

Dit is net so hartseer om weer daaraan te dink! Die persoon, jou lewensmaat in wie jy jou liefde en vertroue plaas, wat jou weerlose punte ken gebruik dit en raak van jou ontslae! Ek hoop net nie geld kry jou los nie meneer masterbrein!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.