Panayiotou-saak: ‘Ons is baie bly’

Costa Panayiotou ondersteun sy seun Christopher in die hof. Foto: ANA

Costa Panayiotou ondersteun sy seun Christopher in die hof. Foto: ANA

Uitspraak is Vrydag in die Port Elizabeth-landdroshof gelewer in Christopher Panayiotou, wat beskuldig word van die huurmoord op sy vrou Jayde, se soveelste borgtogaansoek.

Landdros Abigail Beeton het Panayiotou se nuutste aansoek geweier en gesê sy regspan het geen nuwe feite aan die hof voorgelê om sy vrylating op borgtog te regverdig nie. Volgens Beeton kon Panayiotou nie enige buitengewone omstandighede aanvoer oor hoekom hy op borgtog vrygelaat moet word nie.

Beeton het gesê dit is nie haar werk om ʼn bevinding te maak oor die verdediging se argument dat die staat ʼn swak saak teen Panayiotou het nie. Volgens Beeton moet die verhoorhof besluit oor vrae oor die geloofwaardigheid van bewyse.

Panayiotou word daarvan beskuldig dat hy sy vrou, Jayde, se ontvoering en moord in April verlede jaar gereël het. Hy het na bewering vir Luthando Siyoni, ʼn uitsmyter by Panayiotou se nagklub, betaal om ʼn huurmoordenaar, Sizwezakhe Vumazonke, te kry om die daad uit te voer.

Hy word al langer as ʼn jaar in die St Albans-gevangenis aangehou. Tony Inggs, Jayde se suster, het intussen gesê hulle is verlig oor Beeton se uitspraak. “Ons is regtig net baie bly, ons het nie geweet watter kant toe dit gaan gaan nie en ons is net bly dit het in hierdie rigting gegaan.”

Panayiotou en sy medebeskuldigdes se verhoor sal na verwagting op 10 Oktober in die hooggeregshof in Port Elizabeth begin.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lise ·

Ek wens hierdie walglike man se verhoor kan nou net begin. En dat die SA-regstelsel nie faal nie en dat reg en geregtigheid sal geskied.

Jannes ·

Dis belaglik dat die saak so lank neem om op verhoor te gaan.

Nico ·

Hoop die staat het sy eende in ‘n ry. Hy gaan hulle droogskoonmakers toe vat as die staat ‘n Dewani begaan…..

Dankbaar ·

Dankbaar vir die uitspraak. Staan sterk Adv Stander & Kanna Swanepoel – berei getuies behoorlik voor om ongeskikte kruis ondervraging deur te staan. Bewaar getuienis behoorlik sodat niemand dit kan vernietig of verander nie. Hou jul goed privaat sodat niks uitlek. Die man en sy mense sal enige iets doen let wel enigste iets om die saak te wen!

John ·

Te veel mense misbruik die misdadighede in die land as dekmantel vir hul eie misdrywe. Skatryk families se name is op hierdie lys. Skokkend!

Marietjie ·

Ek wens dit wil tot die moordenaars deurdring dat hulle geen regte het nie. Hulle moet dankbaar wees oor die dak waaronder slaap, die bed waarin hul kan kruip en die eetsaal waar hulle kos kan kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.