Panayiotou-saak: ‘Publiek is bloeddorstig’

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Christopher Panayiotou se regsverteenwoordiger het Maandag in die hooggeregshof in Grahamstad aangevoer dat dit onregverdig is om ʼn man, wat onskuldig is tot andersins bewys, toe te sluit oor die bloeddorstigheid van die publiek wat swak ingelig is.

Panayiotou (28) het appèl aangeteken nadat hy verlede maand borgtog geweier is. Hy word daarvan beskuldig dat hy sy vrou, Jayde, laat vermoor het.
Adv. Mike Hellens, vir Panayiotou, het die uitlatings gemaak in ʼn poging om regter Glen Goosen te oortuig om ʼn vroeëre hofbevel waarvolgens Panayiotou borgtog geweier is, om te keer. Landdros Abigail Beaton het Panayiotou op 5 Junie borgtog geweier.

Volgens Hellens het Beaton fouteer in haar bevinding dat Panayiotou ʼn vlugrisiko is en dat hy finansiële probleme het. “Hy het nog nie sedert sy inhegtenisneming enige poging aangewend om te ontsnap nie en hy sal dit ook nooit doen nie. Hy is in Port Elizabeth gebore, het hier grootgeword en het drie florerende ondernemings hier.”

Hellens het gesê sy kliënt is bereid om aan streng borgtogvoorwaardes te voldoen en dat hy bereid is om tot R200 000 te betaal vir borgtog. Hy het gesê bandopnames wat deur Luthando Siyoli, een van Panayiotou se medebeskuldigdes, gemaak is, moes nie die “verhewe en uiteindelike rede gewees het vir weiering van borgtog nie”.

Regter Goosen het vroeër die verdediging se aansoek om toegang te verkry tot die verklarings van drie van die staat se sleutelgetuies van die hand gewys. Panayiotou se regspan het aansoek gedoen om afskrifte te kry van die verklarings van Chanelle Coutts, Panayiotou se minnares, Clarissa Kapp, Coutts se beste vriendin, en Siyoli, wat glo deur Panayiotou gehuur is om die moord op Jayde te reël.

Panayiotou het Siyoli glo betaal om die huurmoord op sy vrou te reël. Siyoli het as uitsmyter gewerk by ʼn nagklub wat Panayiotou besit. Siyoli het glo vir Sizwe Vumazonke genader om die moord te pleeg. Panayiotou het na bewering R70 000 vir die moord betaal, waarvan Vumazonke R40 000 en Siyoli R30 000 ontvang het.

Jayde (29) is op 21 April buite haar huis in Kabegapark, Port Elizabeth, ontvoer terwyl sy gewag het op ʼn saamrygeleentheid na Riebeeck College, waar sy ʼn onderwyseres was. Haar liggaam is die volgende dag buite die Kwanobuhle informele nedersetting in Uitenhage gevind.

Die saak duur voort.

Klik hier vir alle vorige berigte oor die Jayde Panayiotou-saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Martin ·

Die besighede behoord nie almal aan hom nie. Wat maak hom so besonders om borg te kry. Gee vir hom borg na die algemene selle toe, sodat sy maatjies hom in die hande kan kry.

marietjie steenkamp ·

Die Regsman sit die pot mis.Dis glad nie die publiek wat bloeddorstig is nie.Die moordenaars wat moorde beplan en uitvoer is bloeddorstig.Die publiek wil net sien dat Reeva Anni en Jayde nie gesterf het, sonder dat die skuldiges gestraf word nie.Oscat en Dewani was n sirkus.Hierdie saak sal nie een word nie!

Liza ·

Finansiele probleme? Waar kry hy R200 000 vir borg en R70 000 om vir die moord te betaal?

Tammy ·

Sit hom saam met 100 ander van sy soort in n sel dan sal ek die gelukkigste op aarde wees! Besef asseblief Jade is dood sy is weg vir ewig en nou wil die meesterbrein in gemak voortleef. Nee, die hof kan nie, hulle mag geen genade vir mnr Panayiotou he nie. Dis reeds n skande dat soveel geld aan kamtige borgtog aansoeke bestee is. Bere hom vir ewig soos sy pragtige vrou gebere is. Ek soek regverdigheid dis al, niks minder nie.

Jannes ·

Die regsman moet verstaan dat die publiek nie soos hy, betaal word om in die beskuldigde se onskuld te glo nie.

Jannes ·

Die advokaat moet verstaan dat die publiek nie soos hy betaal word om in die beskuldigde se onskuld te glo nie.

Christie Joubert ·

Lees ek nou reg? Hy is “onskuldig tot andersins bewys” en moet vry rondloop. So kom ons laat AL wat n krimineel is vry rondloop tot hulle saak uiteindelik voorkom. En die man noem homself n “prokureur”!!

Tammy ·

Ek hoop as hy borg kry sal iemand hom daar buite beetkry. Hy moet kry wat hy verdien die gemene vark hy het sy helpers se lewens ook verwoes, want geld het hulle laat moor. Almal is hardop vir geld.

dlia apsey ·

BLOED DORSTIG? Wie het moord gereël? You ain’t seen nothing yet!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.