Panayiotou-saak: Vriendin ontken vorige verklarings

Luthando Siyoli tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: ANA

Luthando Siyoli tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: ANA

Die beweerde middelman in die Jayde Panayiotou-moordverhoor se vriendin het Woensdagmiddag opslae in die hooggeregshof in Port Elizabeth gewek toe sy ontken het dat haar kêrel vir haar gesê het “Chris wil hê ek moet sy vrou vermoor”.

Babalwa Breakfast is die vriendin van Luthando Siyoni, voorheen ’n uitsmyter by Christopher Panayiotou se Infinity-nagklub. Die staat beweer Panayiotou het Siyoni betaal om ʼn huurmoordenaar te reël om sy vrou, Jayde, te vermoor.

Breakfast het aan die hof gesê sy het geld in haar ou skoolsokkies versteek nadat Siyoni aan haar gesê het dit is vir die opgradering van ʼn gimnasium in Zwide. Breakfast het in die verklaring wat sy by die polisie afgelê het, gesê Siyoni het vir haar gesê Christopher het hom versoek om Jayde te vermoor. Siyoni het toe glo aan Panayiotou gesê hy kan dit nie doen nie, maar hy kan mense reël wat dit wel kan doen.

Breakfast het ook destyds aangevoer dat Siyoni ʼn man genaamd “Sizwe” opgespoor het wat die moord sou pleeg en dat Panayiotou R50 000 daarvoor sou betaal. Breakfast het egter Woensdag ontken dat sy dit gesê het.

Sy het ook ontken dat Panayiotou ooit na Siyoni se huis toe gegaan het. Volgens Breakfast het sy die eerste keer van Panayiotou gehoor nadat sy hom op televisie en in koerante gesien het.

Breakfast het in haar vorige verklarings aangevoer dat Panayiotou by Siyoni se huis was en dat hulle buite gestaan en gesels het. “Thando [Siyoni] het met ʼn swartsak vol geld terug in die huis gekom. Hy het my gevra om R50 000 uit te tel waarmee hy Sizwe moet betaal. Ek het dit gedoen en daar was nog geld oor, maar ek het dit nie getel nie.”

Staatsaanklaer Marius Stander het gesê dit is duidelik dat Breakfast van haar verklarings afwyk.

Die saak gaan Donderdag voort.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Justice ·

Dit is moontlik dat sy kennis kon neem van wat met die skieter gebeur het.

Mmmmmh ·

Ek wonder hoeveel het die #panayiotou familie haar betaal om haar verklaring te verander…

Columbiana ·

Hierdie man gaan nog wegstap hiervan en nie oor hy onskuldig is nie (my opinie) maar omdat daar geknoei is met die ondersoek.

Jean ·

Hier kom nog ‘n Dewani saak, nog ‘n vermeende moordenaar wat gaan stap.

lorayne ·

Geld wat stom is maak alles reguit wat krom is . . . teen hierdie trant sal Panayiotou seker vry hier uitstap?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.