Panayiotou sal derde keer borgtog vra

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Christopher Panayiotou, die sakeman van Port Elizabeth wat daarvan beskuldig word dat hy die moord op sy vrou gereël het, sal weer op grond van nuwe feite ’n borgtogaansoek indien.

Panayiotou het Vrydag saam met sy twee medebeskuldigdes, Sizwezakhe Vumazonke en Sinethemba Nenembe, in die plaaslike landdroshof verskyn. Die hofsaal was weereens volgepak met lede van die media en die familie van Jayde Panayiotou wat in April verlede jaar vermoor is.

Alwyn Griebenow, Panayiotou se regsverteenwoordiger, het aan die hof gesê dat sy kliënt om borgtog sal aansoek doen op grond van nuwe feite en dat hy graag ʼn datum in Mei wil vasstel wanneer die borgtogverhoor kan plaasvind. Hy en die staatsaanklaer, Marius Stander, het ooreengekom dat hulle in April sal vergader om op ʼn datum vir die borgtogaansoek te besluit.

Die hof het Panayiotou twee keer vantevore borgtog geweier.

Stander het aan die hof gesê die polisieondersoek is “99% afgehandel” en dat die staat net nog wag op inligting rakende twee aspekte.

“Ons wag steeds op die finansiële state van beskuldigde nommer twee [Vumazonke] en dit sal eers teen die einde van April beskikbaar wees. Ons wag ook op selfooninligting van die VSA,” het hy gesê.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het vroeër aan die hof gesê hy het aansoek gedoen by die Amerikaanse departement van binnelandse veiligheid om data van Panayiotou se selfoon te bekom. Tydens Panayiotou se vorige borgtogaansoek is gesê dit sal byna onmoontlik wees om die selfoondata te bekom.

Panayiotou het voorheen aan die hof gesê hy het die data op sy foon uitgewis om tekens van sy buite-egtelike verhouding met een van sy werknemers, Chanelle Coutts, te verwyder.

Volgens Stander is die lasbrief reeds aan die Amerikaanse departement uitgereik en wag die staat nou net op die inligting.

Stander het ook aangedui dat die dossier in die volgende week na die direkteur van openbare vervolging gestuur sal word vir verdere aanwysings en opdragte oor die saak. Hy het ook gesê die staat sal volgende week gedeeltes van die dossier aan die verdediging beskikbaar stel.

Jayde se moord het internasionaal opslae gewek nadat haar man in hegtenis geneem is, enkele dae nadat haar liggaam in Uitenhage gevind is. Die onderwyseres is glo ontvoer terwyl sy buite haar woonkompleks vir ʼn saamrygeleentheid werk toe gewag het. Die staat beweer Panayiotou het haar laat vermoor omdat sy finansieel vir hom ʼn las was.

Sy is na bewering oor die kop geslaan en in die bagasiebak van haar ontvoerder se motor gedruk. Sy is daarna op kort afstand geskiet, twee keer in die rug en een keer in die kop.

Die saak is tot 18 April uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dee ·

Wanneer berigte soos hierdie gelees word wonder ek altyd oor die prokureur wat borgtog vir die beskuldigde vra. Ek wonder altyd hoe so ‘n prokureur dinge met self beredeneer as die prokureur self twyfel of die beskuldigde werklik so onskuldig is as wat voorgegee word. Probeer so ‘n prokureur uitkoms skep vir die kliënt of speel gewete ook ‘n rol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.