Panayiotou se aansoek om verlof tot appèl

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Die hooggeregshof in Port Elizabeth het Woensdag gehoor dat inligting wat tydens ʼn geheime polisie-operasie versamel is en veroordeelde moordenaar Christopher Panayiotou geïmpliseer het, nie teen hom gebruik mag word nie.

Panayiotou doen aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding.

Terry Price, vir Panayiotou, het aan regter Dayalin Chetty gesê Panayiotou is skuldig bevind op grond van dit wat tydens die polisie-operasie gebeur het, waar Luthando Siyoni Panayiotou geïmpliseer het in sy vrou Jayde se moord in 2015. Price voer aan dit wat Siyoni, die selferkende middelman, aan die sakeman gesê het, is nie toelaatbaar nie. Price het dit aan Chetty gestel dat die regter self bevind het Siyoni was nie ʼn beskuldigde nie, maar ʼn getuie.

“Maar Siyoni was ʼn beskuldigde, ʼn medepligtige, en daardie getuienis kan nie teen ʼn ander beskuldigde [Panayiotou] gebruik word nie.”

Volgens Price is ʼn artikel 204-getuie ʼn beskuldigde, en daarom kan die videobewyse nie teen die sakeman gebruik word nie. “Op hierdie punt alleen moet verlof tot appèl toegestaan word.”

Price het 30 minute gehad om sy saak te lewer en gesê Chetty het nie een keer in sy uitspraak verwys na die lasbriewe wat bekom is toe die polisie Siyoni se huis of sy meisie Babalwa Breakfast se huis deursoek het nie. Hy voer aan as dié soektogte sonder ʼn lasbrief plaasgevind het, is daardie getuienis ook nie toelaatbaar nie.

Price het gesê Siyoni het aan drie polisiebeamptes gesê hy is tydens sy aanhouding aangerand, maar sy bewerings is nooit opgevolg nie.

Hy het ook gesê Chetty het bevind ao Leon Eksteen was ʼn “uitstekende getuie”, maar het nie in sy uitspraak aangedui hoe Eksteen op die opname na bewering die k-woord gebruik het, met verwysing na Siyoni nie.

Price voer aan die ondersoekbeampte, kapt. Kanna Swanepoel, het onregmatige invloed uitgeoefen en Siyoni aangesê om Panayiotou te impliseer. “Van die begin af het alles op aanranding gedui.”

Hy het gesê daar is voldoende rede dat ʼn ander hof moontlik tot ʼn ander gevolg sal kom en hy versoek Chetty dat die aansoek om verlof tot appèl goedgekeur moet word.

Staatsadvokaat Marius Stander, wat die aansoek teenstaan, het gesê Price is verkeerd. “Die toets is nie of ʼn ander hof tot ʼn ander gevolg sal kom nie. Die toets is of daar ʼn realistiese kans bestaan dat die aansoek suksesvol kan wees,” het hy gesê.

Prokureur Peter Daubermann het ook aansoek gedoen om verlof tot appèl teen Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko se skuldigbevinding en vonnis.

Panayiotou is in November verlede jaar skuldig bevind op aanklag van sy vrou se moord en is tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Nenembe is skuldig bevind en tot lewenslange tronkstraf gevonnis op aanklag van moord en 15 jaar op aanklag van moord met verswarende omstandighede. Sibeko is skuldig bevind en tot 15 jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van sameswering om moord te pleeg.

Chetty sal Donderdag sy uitspraak lewer oor die aansoek.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ig ·

Plaas dat Panayiotou sy pak soos n man vat vir dit wat hy gedoen het en die prokurower mors sy tyd maar sit sal hy sit tot in lengte van dae.

Cherokee ·

‘..soos ‘n man vat’ sê jy?
Teleurstellende woorde want ‘n man is veronderstel om sy vrou te versorg en te beskerm.

jaco ·

sy slagoffer was mos maar net wit, so g’n wonder daars foute met die ondersoek teen hom gemaak nie. Hy sal seker nog loskom ook. Die moord wat hy gehelp pleeg het beteken immers daars een wit mens minder in SA. Dis nie ek wat hierdie goed uit my duim suig nie. Dis hoe dit regtig in ons land gaan. Daar geld 2 stelle reels in die regstelsel, afhangend van wat die beskuldigde en die slagoffer se rasse is.

Gemaskerde Sopbeen ·

En DIT…..is wat verkeerd is met die wêreld. Die chopper met ‘n geldjie, kan hare kloof oor wie WAT gesê het, HOE wie wat gesê het, wat is TOELAATBAAR en wat is nie….en op die einde van die dag gaan hy huistoe………terwyl ALMAL WEET…..dude, jy het jou vrou laat vermoor. As hierdie aansoek NIE slaag nie, moet hulle die prokurower wat dit prober het, ook sommer weg bêre!!

nico k ·

Dis tragies hoe dit werk in ‘n hof. Al hierdie argumente is tegnies. Niks daarvan bewys sy onskuld nie.

Domvraag ·

Hoe leef jy met jou gewete as jy moordenaars op tegniese punte wil loskry nadat die geliegery nie gewerk het nie. Dis duidelik by sommige is geld my God en hulle gee nie om as moordenaars vry op straat is nie net so lank hul betaal word.

maud ·

Belieg bedrieg verneuk en vermoor sy vrou en dan soek hy n kans op n lewe terwyl sy van haar lewensreg ontneem is en soos n hond in di veld doodgeskiet is? Wat n vermetelde vent

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.