Panayiotou se borgtogaansoek uitgestel

Christopher Panayiotou in die Port Elizabeth-landdroshof. Foto: Twitter

Christopher Panayiotou in die Port Elizabeth-landdroshof. Foto: Twitter

Christopher Panayiotou, wat beskuldig word van die moord op sy vrou Jayde, se borgtogaansoek is Woensdag uitgestel nadat daar verwarring was oor sy regsverteenwoordiger.

Landdros Abigail Beaton het die saak tot Donderdag uitgestel nadat adv. Theuns Roelofse aan die hof gesê het dat adv. Terry Price sy taak as Panayiotou se regsverteenwoordiger sal voortsit. Price kon glo nie Woensdag se hofverrigtinge bywoon nie aangesien hy van Johannesburg na Port Elizabeth gereis het.

Staatsaanklaer Marius Stander het vroeër aan die hof gesê Price gaan Panayiotou nie verteenwoordig nie en sal deur Roelofse vervang word. Beaton het gesê sy is nie gelukkig hiermee nie. Volgens Beaton het Price nie die hof meegedeel dat hy nie teenwoordig sal wees nie.

Roelofse het ‘n verdaging versoek waarna hy die saak met Panayiotou en sy regspan bespreek het. Panayiotou het na afloop van die verdaging aan Beaton gesê dat hy nie gemaklik daarmee is dat Roelofse hom verteenwoordig nie.

Beaton het gesê dit is onaanvaarbaar dat niemand om verskoning gevra het vir die feit dat Price nie daar was nie. Beaton het Roelofse ʼn uur tyd gegee om uit te vind of Price betyds sou wees om later die middag voort te gaan. Roelofse het later aan die hof gesê Price sal Donderdag gereed wees om met die saak voort te gaan.

Jayde is op 21 April die laaste keer gesien toe sy buite ʼn veiligheidskompleks in Kabegapark gewag het vir ʼn saamrygeleentheid. Haar liggaam is die volgende dag buite die Kwanobuhle-township naby Uitenhage gevind. Sy is doodgeskiet.

Christopher Panayiotou, Thando Siyoli (31) en Sizwezakhe Vumazonke (30) is kort ná die moord op Jayde in hegtenis geneem.

News24

Klik hier vir alle vorige berigte oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.