Panayiotou se minnares het baie gesels met ‘sluipmoordenaar’

Costa Panayiotou ondersteun sy seun Christopher tydens ‘n vorige verskyning in die hof (Mei 2016) Foto: ANA

Die selfoonnommer van Christopher Panayiotou se minnares, Chanelle Coutts, was 19 keer in verbinding met dié van die vermeende sluipmoordenaar, bekend as “Trompie”, het die hooggeregshof in Port Elizabeth Dinsdag gehoor.

Trompie is glo genader om Jayde Panayiotou te vermoor.

Die selferkende middelman, uitsmyter Luthando Siyoni, het glo in 2014 ʼn ontmoeting gereël tussen Panayiotou en Trompie nadat die sakeman vir Siyoni gesê het om iemand te kry om sy vrou, ʼn onderwyseres, te vermoor. Volgens Siyoni se beëdigde verklaring het niks egter van die ontmoeting gekom nie, en ʼn ander vermeende sluipmoordenaar is gekontak.

Thereza Botha, nasionale ondersoekende analis, het Dinsdag in die moordsaak getuig en is besig om ʼn ingewikkelde prentjie te skets van hoe verskeie selfoonnommers van rolspelers, tesame met ʼn geografiese analise, ʼn reeks gebeure uitbeeld voor Jayde se moord in April 2015.

Data-analise dui aan dat ʼn selfoonnommer, wat aan Coutts behoort, vir vyf dae lank tussen September en Oktober 2014 altesaam 19 keer met Trompie in verbinding was.

Deur selfoondata het Botha gewys dat Sizwe Vumazonke, die vermeende skieter, ongeveer 44 keer, op verskillende tye, die opvangsgebied van Linton Grange besoek het. Dié gebied is naby Stelen Glen-kompleks, waar Jayde gewoon het.

Selfoondata wys ook Vumazonke buite Jayde se vriendin, Cherise Swanepoel, se huis op 12 April 2015 en weer op 13 April 2015.

Botha het ook bevestig dat Vumazonke en Panayiotou se neef, Claudio Bertolani, gereeld in kontak was met mekaar.

Adv. Terry Price het beswaar aangeteken teen dié getuienis en die tersaaklikheid daarvan bevraagteken, maar Botha het daarop aangedring dat dit wys dat Panayiotou en Vumazonke albei kontak gemaak het met ʼn nommer wat aan Bertolani behoort.

“[Panayiotou] en Claudio Bertolani het tussen September 2014 en 29 April 2015, die dag van sy inhegtenisneming, altesaam 810 keer met mekaar kontak gehad,” het Botha gesê.

Vumazonke se selfoondata tydens April 2015, die maand van Jayde se moord, wys ook kommunikasie tussen ander vermeende samesweerders, Khusta [Vandala], Zolani Sibeko, Zinzi en middelman Siyoni.

Jayde se ma en suster, Michelle en Toni Inggs, was Dinsdag by die hof hartseer en emosioneel, veral toe Botha oor die kommunikasiepatroon tussen Panayiotou en Coutts getuig het, terwyl hy saam met Jayde op die Inggs-familieplaas was.

Alhoewel daar geen selfoonkommunikasie tussen Panayiotou en Coutts tydens hierdie plaasbesoeke was nie, het die sakeman die OK Grocer se landlyn gereeld gekontak. Coutts was ʼn bestuurder by dié winkel.

Sy het ook daarop gewys dat Panayiotou en Coutts se oproepe gereeld die laaste oproepe was wat hulle die dag gemaak het.

Botha het gesê Coutts se selfoondata wys dat sy gereeld tyd by Jayde se huis spandeer het, wanneer die onderwyseres nie tuis was nie. “Alhoewel daar moontlik nog gevalle kan wees, blyk dit dat Coutts se handstuk deur die aand in die omgewing van Jayde se huis was, wanneer Jayde nie by die huis was nie,” het sy gesê.

Dié voorvalle was in 2014 en 2015 toe Jayde in Gauteng was of op haar familie se plaas.

Panayiotou word daarvan beskuldig dat hy Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal het om Vumazonke te huur om Jayde te ontvoer en te vermoor.

Jayde is op 21 April buite die egpaar se huis by Stelen Glen-kompleks in Kabegapark ontvoer toe sy vir ʼn rygeleentheid werk toe gewag het.

Die staat voer aan Sinethemba Nenembe het Vumazonke gehelp om die onderwyseres te ontvoer en te vermoor, op versoek van haar man. Vumazonke is intussen oorlede.

Volgens die staat word Sibeko verbind met die misdaad deur selfoonkartering wat hom buite Jayde se kompleks plaas in die dae voor haar moord. Die staat voer aan Sibeko en Vandala is deur Vumazonke genader om ʼn vuurwapen te reël vir die moord.

Botha se getuienis duur Woensdag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

MCS ·

So , waarom is Mej Coutts dan nie agter tralies? Lyk of sy net so hard aan die moord beplan het. Hoe laag van n mens om by n ander vrou se huis rond tehang tewyl sy nie daar is nie!

A ·

Hoekom het hy haar nie net geskei nie, as hy iemand anders ontmoet het nie? Hoekom moet hy haar doodmaak?

broos ·

sy familie sou hom onterf as hy skei…..was in die vroeer berigte gesê

Ja en erger nog ·

Ja en erger nog, hy en coutts is al van voor die troue af n couple, hoekom dan nie sommer troue met Jayde afgestel nie??!?

marlene ·

Couts kan ook maar gaan sit. Hulle is almal wrede duiwels.

al ·

Arme wyle Jade. Koelbloedige voorafbeplande moord, wat ñ bose spul!

Alida ·

As hulle by hierdie tyd nog nie genoeg bewyse het om die man skuldig te bevind nie gaan die saak nog lank duur. Dit is belaglik. Die regspan lag al die pad bank toe. Sluit die moordenaar en en sy handlangers toe vir ewig.

Houtoog ·

Eerste par. is ‘verneemde’ eintlik ‘vermeende’.
Verwyder die ‘die’ by’ . . . tydens die hierdie plaasbesoeke . . . ‘ (par. 13)

Janie Monsieur ·

Dagsê Houtoog.

Dankie vir jou kommentaar. Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Houtoog ·

Julle antwoord aan my lees o.a. ‘Om een of ander rede verskyn jou kommentaar nie onmiddelik nie’ ens. Kyk of julle die ‘onmiddelik’ kan verander na ‘onmiddellik’.

Janie Monsieur ·

Dagsê Houtoog.

Dankie vir jou kommentaar. Jammer vir die oorsig en dankie dat jy ons daarop gewys het. Die boodskap is reeds gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Aai ·

Hoe desperaat kan ‘n vrou nou wees om tog net ‘n man in haar lewe te he! Vraag is net – wil jy ‘n man in jou lewe he wat in staat is tot moord? As hy van sy vrou ontslae kan raak, wat maak jou so spesiaal dat jy dink hy gaan dit nie ‘n 2e keer net makliker kan doen nie?

Marius ·

Sluit Coutts onmiddelik toe sy medepligtig.En watse armgat is Jayde se man wat haar in die straat laat staan en wag vir vervoer julle gaan lank sit.

Johann ·

Ek het nog een vraag? Hoe het die ou gedink gaan hy met dit weg kom?
Daar is net EEN uitweg: Die eerlike uitweg.

Isabell ·

Sluit haar toe. Ek dink die vrees is nie eers so erg soos wat die arme Jayde moes deurmaak agter in n motor se kattebak en die vrees dat sy nou dalk verkrag en dood gemaak kan word. Vat haar tronk toe agter in n motor se kattebak.

Demi ·

Coutts moet ook toe gesluit word. Lyk vir my sy is net so deel van die moord beplanning soos enige van die res . Sies hoe kan n mens so laag daal. Sterkte aan die familie en vriende van jayde

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.