Panayiotou se ‘minnares’ kry prokureur ná senu-ineenstorting

Christopher Panayiotou in die Port Elizabeth-landdroshof. Foto: Twitter

Christopher Panayiotou in die Port Elizabeth-landdroshof. Foto: Twitter

ʼn Vrou wat verbind word met Christopher Panayiotou is so erg deur die media, publiek en “ander entiteite” geteister dat sy ʼn senu-ineenstorting gehad het, het haar regsverteenwoordiger aan Netwerk24 gesê.

Danie Gouws, ʼn prokureur van Port Elizabeth, het bevestig dat hy genader is om na Chanelle Coutts se belange om te sien. Coutts is die personeelbestuurder van die OK Grocer in Algoapark. Panayiotou, wat daarvan beskuldig word dat hy die meesterbrein agter die moord op sy vrou, Jayde, is, besit die winkel.

Gouws het gesê hy sal ook ondersoek instel na moontlike sake van naamskending namens Coutts. Haar naam is Donderdag tydens Panayiotou se borgaansoek in die hof genoem.

Adv. Terry Price, Panayiotou se regsverteenwoordiger, het gesê dit is “goed dat Coutts ʼn regsverteenwoordiger aangestel het aangesien die staat haar boelie omdat hulle geen getuies het nie”.

Gouws het bevestig dat die polisie Coutts ondervra het kort nadat Panayiotou in hegtenis geneem is. “Ek kan nie meer besonderhede oor die ondervraging bekend maak nie, aangesien dit geweldige stres vir my kliënt veroorsaak het.”

Gouws het gesê Coutts sal nie Woensdag in die hof wees wanneer Panayiotou se borgtogaansoek voortgaan nie. “My kliënt is tans siek en met siekverlof. Ek sal haar Woensdag in die hof verteenwoordig en optree indien nodig,” het Gouws gesê.

Velekhaya Mgobhozi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het namens Marius Stander, die staatsaanklaer, gesê hulle het geen kommentaar oor Coutts se aanstelling van ’n prokureur nie. Hy wou ook nie kommentaar lewer oor of Coutts by die borgtogaansoek betrek sal word nie.

Volgens Price is daar ʼn 90%-kans dat Panayiotou op borgtog vrygelaat sal word. Die landdros [Abigail Beaton] het geen rede om borgtog te weier nie. Dit is net Stander [namens die staat] wat dink daar is ʼn rede.”

Jayde is op 21 April die laaste keer gesien toe sy buite ʼn veiligheidskompleks in Kabegapark gewag het vir ʼn saamrygeleentheid. Haar liggaam is die volgende dag buite Kwanobuhle-township naby Uitenhage gevind. Sy is doodgeskiet.

Christopher Panayiotou, Thando Siyoli (31) en Sizwezakhe Vumazonke (30) is kort ná die moord op Jayde in hegtenis geneem.

Netwerk24

Klik hier vir vorige berigte oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Theresa ·

Hierdie mense het meer arrogansie in hulle as breinselle.

Rieks ·

Siek want jy het nie verwag al die bollie gaan uitkom nie! As jy met jou rug teen die muur is gebruik jy enige manier om te oorleef. Of het jy dalk ‘n gewete wat pla? …

Eish! ·

Alles agv verbode vrugte. Wanneer gaan mense leer om hulself te beheer en ook besef dat jy nie net kan doodmaak nie. Mensig, en dan stry mense in die hof oor genadedood. Los genadedood en straf die wat ander VERMOOR!

neelsie ·

Gaan die mensdom nooit leer nie!
Werk hard aan jou huwelik , DIS DIE MOETE WERD.
Kry vir GOD as n derde persoon in jou huwelik en alles sal goed gaan.
Draai terug na God.!

pop ·

Sit ons met n psigotiese nasie, want berou is nie meer iets wat enigeen ken nie. Ek sit ook nogal met dreigende senu-ineenstorting, veral as ek al die berigte hier op maroela lees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.