Panayiotou se minnares kuier by hom in tronk

Christopher Panayiotou tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: ANA

Christopher Panayiotou se minnares, Chanelle Coutts, het hom al verskeie kere in die tronk besoek, het die hooggeregshof in Port Elizabeth Vrydag gehoor.

Kapt. Kanna Swanepoel, die ondersoekbeampte, het getuig in die verhoor van Panayiotou en sy medebeskuldigdes Luthando Siyoni, Zolani Sibeko en Sinethemba Nemembe wat teregstaan vir die moord op Jayde in April 2015. Panayiotou word as die vermeende baasbrein agter die moord verhoor.

Adv. Terry Price, SC, Panayiotou se regsverteenwoordiger, het tydens kruisondervraging aan Swanepoel gesê hy het inligting ontvang dat die inhoud van Coutts se verklaring nie van haar af kom nie.

“Die verklaring bevat inligting wat Coutts nie gesê het nie en dit is hoekom sy geweier het om te teken. Jy het die verklaring saamgestel en vir haar gesê om te teken.”

Volgens Swanepoel was Coutts ongelukkig oor enkele besonderhede in die verklaring, maar het sy niks geteken sonder dat haar regsverteenwoordiger, Danie Gouws, nie teenwoordig was nie.

Price het egter volgehou dat Swanepoel sekere inligting in die verklaring bygewerk het en dat Coutts daarom geweier het om dit te teken.

Swanepoel het getuig dat Coutts weet sy mag Panayiotou nie in die gevangenis besoek nie, maar dat sy dit in elk geval doen.

“Maar hoekom het sy in die besoekersregister geskryf dat sy ʼn ander moordbeskuldigde, Jens Leunberg, besoek?” het Swanepoel gevra. Price het gesê die Panayiotou-familie staan Leunberg by aangesien sy familie in Duitsland woon.

Volgens Swanepoel het Coutts wel vir Panayiotou ook besoek al mag sy nie. Price het die besoeke egter regverdig deur te sê Coutts is in beheer van die Panayiotou-familie se besigheid.

Die verhoor gaan Dinsdag voort.

Lees alle vorige berigte oor die Panayiotou-saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karma ·

Wat jy saai sal jy maai. Sterkte vir die toekoms juffertjie, jy gaan dit baie, baie nodig hê. Bly ek is nie jy nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.