Panayiotou se minnares sal in hof getuig

Costa Panayiotou ondersteun sy seun Christopher in die hof. Foto: ANA

Costa Panayiotou ondersteun sy seun Christopher in die hof. Foto: ANA

Christopher Panayiotou (28) se minnares gaan geroep word om in sy moordverhoor te getuig, het die hof Donderdag gehoor.

Die borgtogverhoor van Panayiotou, wat van die moord op sy vrou, Jayde, beskuldig word, is Donderdag in die Port Elizabeth-landdroshof hervat. Die staat het gesê Chanelle Coutts, die vrou met wie Panayiotou ʼn buite-egtelike verhouding gehad het, sal geroep word om oor die motief vir die moord op Jayde te getuig.

Landdros Abigail Beaton het die verdediging gevra wat hulle meen ʼn geskikte bedrag vir borgtog sou wees. Advokaat Terry Price het gesê indien sy kliënt (Panayiotou) se finansiële posisie in ag geneem word, sou R50 000 ʼn regverdige bedrag wees.

Beaton het die staatsaanklaer, Marius Stander, gevra wat sy siening was van Panayiotou se bereidwilligheid om sy reisdokumente in te handig. Stander het geantwoord dat dit nie Panayiotou minder van ʼn vlugrisko sal maak nie.

Daarna het Beaton en Stander staatsgetuies bespreek wat moontlik deur Panayiotou beïnvloed kon word sou hy borgtog kry. Stander het gesê Panayiotou se minnares, Coutts, en haar vriendin sal direkte getuienis lewer vir die motief van die opspraakwekkende moord.

Stander het bygevoeg dat die vriendin van Luthando Siyoli, Panayiotou se medebeskuldigde, Panayiotou direk betrek het by die oorhandiging van geld ná die moord.

Panayiotou is in hegtenis geneem enkele dae nadat Siyoli, ʼn uitsmyter by ʼn kuierplek wat Panayiotou besit, deur die polisie vasgetrek is. ʼn Derde verdagte, Sizwezakhe Vumazonke, is later in hegtenis geneem. Al drie staan tereg op aanklagte van moord, sameswering tot moord, ontvoering en roof met verswarende omstandighede.

Beaton het die saak tot Vrydag uitgestel wanneer sy uitspraak sal lewer in Panayiotou se borgtogaansoek.

Lees alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

scalla ·

Hy moet voel, sy vrou vermoor(vir geld) en nog een se lewe verwoes, te hoog gevlieg, om n vrou te onderhou is nie n grap nie, wat nog van n skelmpie?

anon ·

lol hi hoe moet ons vrouens voel ek en my man is 5 jaar getroud hy gese ek hoef ni te werk ni maak my kind groot di stil sit by huis maak my stapel gek

nig ·

anon – jy’s uiters ondankbaar- hoeveel vroue sal nie hul oogtande EN regterarm gee om tuis te kan bly om die kind goed en gesond groot te maak nie. Dalk moet jy begin boekies lees vir jou kind, dis nooit te vroeg nie; dan leer jy sommer ook van spel en punktuasie. Dit sal beslis “stapelgek” word voorkom. Dalk sal jy ook agterkom mens lewer op die regte berig kommentaar, want wat het joune nou met enigiets te doene? Hef jouself op, studeer bietjie, lees GOEIE boeke en doen vrywilliger werk waar jy jou kindjie kan saamneem – dan doen jy iets nuttigs.

Dave ·

Nig, ek wens ek kon haar sò diplomaties uitgetrap het as wat jy dit gedoen het!

Carlo Kirchner ·

Debbie van niekerk ek stem saam met jou hy moet sit

nico ·

Ek hoop hy kry nie borgtog nie maar glo hy gaan omrede die vroue regters te sag is

Dave ·

Jy’s so reg, dit laat ‘n wrang smaak en bring Pistoors en 5 jaar in herinnering.

Susan ·

Die feit dat die regter gesê het hy gaan net n ja of nee kry, en nog nie die redes nie, laat my wonder (hoop) of dit nie tog ‘n nee gaan wees nie. Sy het ook gesê, na sy paar dinge opgeklaar het vandag het sy van besluit verander.

neelsie ·

Waarom die saak so uitrek.
Kry dit klaar en sluit die vent toe vir die res van sy lewe.
Hulle mors net geld.
Misdadigers het dit te maklik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.