Panayiotou se prokureurs wil hê regter moet onttrek

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Die verdedigingspan vir die moordbeskuldigde Christopher Panayiotou het aangedui hulle sal ʼn aansoek bring dat regter Dayalin Chetty uit die saak moet onttrek.

Advokaat Terry Price, vir Panayiotou, het Maandag gesê hy sal die aansoek bring gebaseer daarop dat sy kliënt “nie ʼn regverdige verhoor het nie”.

ʼn Video-opname waarin Panayiotou homself glo impliseer in sy vrou se moord, is vroeër deur Chetty toegelaat.

Price het alles in sy vermoë gedoen om die hof te versoek om die saak tot volgende maand uit te stel. “Ek is in hierdie stadium soos ʼn blinde persoon en ek moet in die duister litigeer, neem asseblief kennis dat ek nie in hierdie stadium kan voortgaan nie,” het Price gesê. “Ek vra nie vir simpatie nie, dit het my twee weke geneem om die betoogshoofde op te stel wat sopas aan u edele oorhandig is en duidelik beteken dit niks nie en dit bekommer my. So ek versoek u om my asseblief toe te laat om behoorlik voor te berei.”

Price het aangedui die verdedigingspan sal nou adv. Dup de Bruyn SC wil betrek. Panayiotou se prokureurs het gesê hulle weet nie hoe om nou voort te gaan nie.

Price hou vol Panayiotou geniet nie ʼn regverdige verhoor nie en dat die verdediging se betoog met elke geleentheid verwerp word, en selfs dat Chetty nie redes verskaf het waarom hy ʼn geheime polisie-operasie toegelaat het nie.

“Ek hoef nie redes te gee by ʼn verhoor binne ʼn verhoor nie,” het Chetty gesê.

Price het egter reageer en gesê Chetty kan verkeerd wees.

Hy het ook reageer op ʼn gefluister uit die openbare galery. “Ek word onderwerp aan beledigings uit die openbare galery en op sosiale media en u edele het nog nie een keer iets daaroor gedoen nie.”

Panayiotou het na bewering die uitsmyter Luthando Siyoni gehuur om sluipmoordenaars te betaal om sy vrou Jayde te ontvoer en te vermoor. Die verdediging voer aan Siyoni is geslaan en gedwing om die sakeman te impliseer en daarom mag die video nie toegelaat word nie.

Die staat voer egter aan daar kan in die opname gesien word hoe Panayiotou Siyoni vir ʼn afluisterapparaat deursoek. Panayiotou het glo ook vir Siyoni gesê hy moet dit laat lyk soos ʼn rooftog en nie ʼn sluipmoordaanval nie.

Panayiotou het glo ook R2 000 aan Siyoni oorhandig om sy telefoon te vernietig sodat die polisie dit nie kan opspoor nie.

Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko staan tereg op aanklag van sameswering, ontvoering, roof en die moord op Jayde op 21 April 2015.

Panayiotou staan ook tereg op ʼn bykomende aanklag van dwarsboming van die gereg.

Die saak is tot Woensdag uitgestel om die verdediging kans te bied om sy aansoek voor te berei.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

KarenG ·

Die man laat my dink aan ‘n stout kind wat nie sy sin gekry het nie….

Hartseer ·

Terry Price, die hartseerste is die feit dat Jayde nie eers 1 kans gekry het nie. Ek wens sy kon jou aanstel om haar saak te beveg, ongelukkig kan haar uitkoms nooit verander nie. Jou saak moet op feite en waarheid gebaseer wees. Hoekom mag die video nie wys, dit was werklike feite wat gebeur het, hoe kan Regter Chetty verkeerd wees? Uit jou reaksie lei ek af, dat wat jy ookal sê of doen is 100% wet maak nie saak of jy reg of verkeerd is nie. Wys respek en jy sal respek ontvang, reel 1 wat ek my kinders geleer het!

Ander Annie ·

Ek stem Hartseer. So ‘n mooie vrou wat haar jong lewe moes verloor. Nee wat, die Regter moet sterk steam.

Frik ·

Ek dag dit gaan oor die waarheid..Terry Price as jy dit betwis dat dit nie deur jou kliënt gesê is nie en dat die opname vals is, dan stem ek saam maar as die opname waar is en jou kliënt homself as skuldig impliseer dan wil jy n krimineel loskry en op straat en dan kla ons oor die hoë misdaad. Ek wens in alle gevalle waar misdadigers lieg deur onskuldig te pleit dat die regter 10 jaar tronkstraf byvoeg want so persoon het geen berou nie.

Fires ·

Price is bekend daarvoor dat hy ‘n tantrum gooi as dinge nie na sy sin is nie. Ek dink dis hoogtyd dat die Regter hom in die bek ruk oor sy gedrag, as hy nie gelukkig is oor hoe die saak verloop nie hoekom onttrek hy dan nie self nie.

LB S ·

Regter Chetty weet dit seker, daarom gee hy nie in vir Price nie. Goed so!

marous ·

Kan nie met die regter kibbel oor dinge wat toegelaat word of van die hand gewys word terwyl die verhoor aan die gang is nie. Dis regspunte wat op appel geneem moet word na afhandeling van die saak. As daar aansoek gedoen word dat die regter onttrek moet daar buitegwone omstandighede wees wat bevooroordeling of blatante miskenning bewys. Nie bloot op grond van aanvaarding van meriete nie. Lyk of die regter redelik sterk is in die toepassing van wetgewing…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.