Panayiotou: Staat onkant gevang oor verdediging se getuie

Costa Panayiotou ondersteun sy seun Christopher tydens ‘n vorige verskyning in die hof (Mei 2016) Foto: ANA

ʼn Senior amptenaar van die direkteur van openbare vervolging (DOV) is Woensdag tot die staat se verbasing as die verdediging se eerste getuie geroep in die moordverhoor van Christopher Panayiotou.

Adv. Selvan Gounden van die DOV se kantoor in Grahamstad het getuig die polisie het hom nie  gebel en raad gevra oor die geheime operasie waartydens Panayiotou en ʼn uitsmyter glo besonderhede oor sy vrou Jayde se moord bespreek het nie.

Gounden se getuienis weerspreek die getuienis van kapt. Kanna Swanepoel, die ondersoekbeampte, wat tydens die verhoor binne ʼn verhoor gelewer is. Swanepoel het toe getuig hy het Gounden gebel en raad gevra oor die geheime operasie.

Gounden het verder getuig dat hy nie tydens April 2015 betrokke was by die goedkeuring van geheime operasies nie. Op 29 April 2015 is daar tydens ʼn geheime polisieoperasie ʼn gesprek tussen Luthando Siyoni en Panayiotou in ʼn motor op video vasgevang.

Tydens die gesprek waarsku Panayiotou verskeie kere vir Siyoni om hom nie op sy selfoon te bel of te SMS nie, maar net die selfoon te laat lui en dan neer te sit sodat Panayiotou hom van ʼn ander telefoon af kan terugbel.

Volgens Gounden was adv. Malherbe Marais destyds verantwoordelik daarvoor om toestemming te gee vir geheime operasies.

Gounden het tydens ondervraging gesê hy het met die staatsaanklaer Marius Stander vergader en het toegegee dat hy aan Stander gesê het hy het nie die outoriteit gehad om toestemming vir die operasie te gee nie.

Stander is onkant gevang en het laat hoor hy is nie deur die verdediging ingelig dat Gounden Woensdag sou getuig nie.

Stander het vir tyd gevra om die nodige dokumentasie in plek te kry vir hom om Gounden te  kruisondervra.

Die staat het in Junie sy saak teen Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko afgesluit. Die staat het aangevoer Panayiotou is die meesterbrein agter die moord en hy het Siyoni betaal om huurmoordenaars te kry om sy vrou, Jayde, in April 2015 te vermoor.

Volgens die staat het Nenembe vir Sizwe Vumazonke gehelp om die moord uit te voer. Sibeko het na bewering ook ʼn rol in die uitvoering van die moord gespeel. Vumazonke is verlede jaar in aanhouding dood. Siyoni het ʼn getuie vir die staat geword.

Die saak is tot Donderdag uitgestel.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vuilspel op sy beste ·

Mnr Terry Price word kwaad oor al die kommentaar teenoor hom en sy klient, maar Mnr regtig gaan vra jouself af of dit nie die aller liederlikste vuilspel is die nie. Verder dink ek hierdie kokkedoor wat vir wet en orde veronderstel is om te staan gaan nogal moet verduidelik. Kanna Swanepoel vlg keer epos jy dat dit op bewyse is……. hier stink ‘n muishond, ‘n muishond wat vandag so sê en more so sê en veronderstel is om misdaad te bekamp en dalk speel geldjies ‘n rol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.