Panayiotou: Staat vermaan beskuldigde oor uitstel

Jayde Panayiotou se familie verlaat die PE-landdroshof op 18 April 2016. Foto: ANA

Jayde Panayiotou se familie verlaat die PE-landdroshof op 18 April 2016. Foto: ANA

Die saak teen Christopher Panayiotou, die sakeman van Port Elizabeth wat tereg staan vir die moord op sy vrou, Jayde, sal na verwagting binnekort na die plaaslike hooggeregshof oorgeplaas word.

Panayiotou en sy twee medebeskuldigdes, Sizwezakhe Vumazonke en Sinethemba Nenembe, het Maandag weer in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn in verband met die onderwyseres se moord. Sy is in April verlede jaar vermoor en haar liggaam is buite die Kwanobuhle-nedersetting in Uitenhage gelos.

Die staat beweer Nenembe, die huurmoordenaar, het Vumazonke gehelp om Jayde te ontvoer en vermoor op versoek van Panayiotou.

Marius Stander, die staatsaanklaer, het gesê die staat wil die saak na die hooggereghof laat oorplaas, maar die oorplasing sloer omdat Nenembe ʼn nuwe regsverteenwoordiger gekry het. Stander het Nenembe se nuwe regsverteenwoordiger gevra om ʼn hardeskyf te verskaf sodat kopieë van die dossier aan hom gegee kan word sodat hy kan voorberei vir die voorverhoorverrigtinge, wat binnekort in die hooggeregshof sal begin.

Landdros Esti Petzer het gesê sy sal nie verdere uitstel van die saak duld nie. “Hierdie saak is al sedert April 2015 op die rol. Jy het mnr. Daubermann aangestel en nou, wanneer die saak gereed is om na die hooggeregshof oorgeplaas te word, wil jy op kort kennisgewing nie meer vir mnr. Daubermann gebruik nie weens [ʼn tekort aan] geld,” het Petzer gesê. “Dit is jou reg om ʼn regsverteenwoordiger te hê, maar die hof sal nie langer enige uitsteltaktiek van jou kant af duld nie.”

Die hof het in Januarie gehoor die verhoor sal na verwagting in Julie begin. Panayiotou is voorheen borgtog geweier en weer in die hooggeregshof in Grahamstad, toe hy appèl teen die borgtoguitspraak aangeteken het.

Panayiotou se regsverteenwoordigers het vroeër gesê hulle sal ʼn derde borgtogaansoek voor die hof bring gegrond op nuwe bewyse, maar niks is Maandag hieroor in die hof gesê nie.

Jayde se moord het internasionaal opslae gewek nadat haar man in hegtenis geneem is, enkele dae nadat haar liggaam in Uitenhage gevind is. Sy is glo ontvoer terwyl sy buite haar woonkompleks vir ʼn saamrygeleentheid werk toe gewag het en later glo op kort afstand geskiet. Die staat beweer Panayiotou het haar laat vermoor aangesien hy in ‘n buite-egtelike verhouding betrokke was en sy finansieel vir hom ʼn las was.

Die saak is tot 3 Mei uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Theresa B ·

Ek wil nie eers hier kommentaar lewer nie. Ek hoop wragtig nie die stelsel vaal hier ook nog ‘n vrou wat so wreed en onskuldig van haar familie en uit die samelewing uit weggeruk is nie.

Veritas ·

Dalk het die man niks met die moord te doen gehad nie. Dalk het die twee moordenaars haar ontvoer om sodoende ‘n losprys te eis. Toe dit nie werk nie, het hulle haar vermoor. Moordenaars plaas gewoonlik die skuld op iemand anders.

Miemie ·

Volg die nuus as jy wil kommentaar lewer…Hy’t geld oorbetaal aan hulle lank voor sy vermoor is, afsprake op smse bevestig ontmoetings voor haar dood en weer na haar dood geld oorbetaal.

Piet Snot ·

Nee Miemie, dis als bewerings. Sodra ‘n hof dit aanvaar het, is dit feite.
Ek deel in my hart jou mening oor sy skuld, maar ek dink In Vino Veritas se punt is eintlik dat mens onskuldig is tot ‘n hof jou skuldig bevind het.
Verhoor deur die media mag populêr wees, maar dis nog nie aanvaarde reg nie.

Veritas ·

Dankie Piet. Dit is maar so dat mense, bewerings as feite aanvaar. My idee was om ‘n bietjie reaksie uit te lok. Drink maar so’n ietsie op my.

Liewe heksie ·

Dit is nou n beplande moord gewees hy het dit so voorberei nie Oscar nie hy het nie vir reeva ingewag met n gun nie kan julle die verskil sien

yster 74 ·

Hoop hulle vrot in die tronk op oor daai mooi vrou se moord as hulle skuldig is. Wat ek glo hy is.

alida ·

Wonder wat gaan word van die Van Breda moorde. Alles is doodstil en Henry gaan aan met sy lewe. Sal graag daar ook uitsluitsel wil kry.

pop ·

Alida nou wat wil jy he moet Henry doen. Hy lyk vir my na n pragtige stil jongman en ek hoop van harte hy en sy sussie kan na alles aangaan met hulle lewens. Daar gaan niks van meeste sake kom nie, die polisie is te pateties. Salaristrekkers sonder plige of werk. Baie van hulle kry nog voertuig en grates petrol ook. Lekker!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.