Panayiotou-verhoor byna op ʼn einde

Christopher Panayiotou in die hof (19 April 2017) Foto: Raahil-Sain / ANA

Die verhoor teen die moordbeskuldigde Christopher Panayiotou sal binnekort tot ʼn einde kom.

Panayiotou word saam met Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko aangekla dat hulle saamgesweer het om Jayde Panayiotou op 21 April 2015 te ontvoer, beroof en te vermoor. Die uitgerekte moordverhoor het meer as ʼn jaar gelede begin.

Dinsdag het die verdediging sy laaste getuie, adv. Indra Goberdan, adjunkdirekteur van openbare vervolging in Port Elizabeth, ingeroep. Goberdan het aan die hof gesê ʼn artikel 252A-magtiging vir die geheime polisieoperasie is nie nodig nie.

Die polisieoperasie waarna verwys word, is ʼn geheime video-opname van ʼn gesprek tussen Panayiotou en die selferkende middelman, Luthando Siyoni, wat enkele dae ná Jayde se moord op video vasgelê is. In die video praat Panayiotou blykbaar met Siyoni oor Jayde se moord en plaas hy homself oënskynlik onder verdenking wat die moord betref.

Die sakeman sê in die video hy raak bekommerd omdat die polisie elke beweging van hom dophou. Hy sê ook vir Siyoni om sy SIM-kaart en selfoon te vernietig en gee hom opdrag om hom nie te bel nie omdat die polisie sy oproepe dophou.

Goberdan het gesê sy het nie magtiging vir die operasie gegee nie, omdat dit nie binne haar mandaat val nie. Sy het gesê die enigste persoon wat magtigings vir polisieoperasies gee, is adv. Malherbe Marais, die direkteur van openbare vervolging.

Sy het getuig sy het ʼn oproep van Marais ontvang wat navraag gedoen het of sy magtiging vir die operasie gegee het. Na aanleiding van daardie oproep het Goberdan haar kollega in Grahamstad, adv. Selwyn Gounden, gebel om die toelaatbaarheid van die video as bewys in die hof te bepaal.

Sy het gesê die gesprek het eers plaasgevind nadat die operasie reeds uitgevoer en Panayiotou reeds as beskuldigde in die hof verskyn het.

Christopher Panayiotou praat met sy ma, Fanoula, in die hooggeregshof in Port Elizabeth (28 September 2017) Foto: Raahil Sain/ANA

Adv. Marius Stander, die staatsaanklaer, het tydens Goberdan se kruisondervraging aangevoer Marais het spesifieke riglyne aan Gounden gegee oor hoe die operasie uitgevoer moet word. Volgens die staat is daardie riglyne gevolglik aan die polisie oorgedra.

Goberdan beweer egter sy het eers die operasie met Gounden en Marais bespreek nadat dit reeds plaasgevind het. Stander het gesê Marais sal ontken dat die gesprek eers ná die operasie plaasgevind het. “Dit het plaasgevind,” het Goberdan gesê.

Peter Daubermann vir Nenembe en Sibeko het aangedui hy het geen verdere getuies nie en sy saak gesluit.

Stander het daarna ʼn aansoek ingedien om die staat se saak te heropen om die getuienis van Gounden en Goberdan te weerlê. Die staat was van voorneme om Marais en adv. Zelda Swanepoel as getuies in te roep. Regter Dayalin Chetty het egter die aansoek geweier.

Die saak is tot volgende Donderdag uitgestel.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Liza ·

Is al so moeg vir hierdie sake wat so sloer, as jy skuldig is, is jy skuldig……Vonnis hulle en kry klaar……..dit raak nou eentoonig………

ja heel waarskynlik ·

Ja ek stem heel waarskynlik moet dit net klaar, veral as jy na die foto kyk…… hy geniet voorregte wat gewone misdadigers nie het nie, hy kan met sy Ma praat by die hof en dit is ok, ander gevangenis moet 1 van hul besoeke opoffer om daai praatjie in te kry. Hy kan vereistes stel en kla oor onregverdige behandeling, waar is Jayde, wat nooit ‘n kans gekry het nie.

Onverantwoordelik en agterbaks ·

Gounden is jy nie veronderstel om vir die staat te staan nie, hoe kan jy so onverantwoordelik wees en soos die beskuldigde en sy regshulp heeltyd op ‘n agterbakse manier dinge doen, daag hul hierdie mense voor die hof en ek bid werklik dat Gounden en Goberdan nie geld ontvang het hiervoor nie, nee dit is my hartswens dat dit nie so is nie, jul moet vir die onskuldige eerlike mense staan en trots wees op jul beroepe. Die belangrikste is die video is uit, al koop geld hom uit die tronk, al sterf nog mense agv die saak, kan dit nooit daardie getuienis weerlê nie, al sê hy of sy regshulp wat, dan ook jul gewete en ek is naar as ek dink hoe Mnr Price huil oor mense en media wat kritiek lewer, as jy nie bespreek wil word nie, moenie jou uitgee daarvoor nie!!!!!!Kriminele en hul regshulp moet met handskoentjies hanteer word, maar eerlike mense skyt in die hof deur julle, sterf en ly groot verliese agv van kriminele, mense regte is net vir kriminele.

Cherokee ·

Wat onverstaanbaar is, is hetsy magtiging vir die geheime polisieoperasie gegee is of nie, hetsy magtiging daarvoor nodig is of nie, verander niks daarvan dat die gesprek plaasgevind het soos in die opname. Hoe op aarde enige tegniese punt dit as getuienis kon weerhou maak geen sin.

Martin ·

Daai minnares van hom moet ook gestraf word. Ergste nog, sy ouers steun nou ook sy minnares. Waat is hulle skaamte en trots?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.