Panayiotou-verhoor: Verdoemende bewyse teen verdagtes, sê staat

Moordbeskuldigde Christopher Panayiotou tydens ‘n vorige verskyning in die Port Elizabeth-hooggeregshof saam met sy twee medebeskuldigdes, Sizwezakhe Vumazonke (middel) en Sinethemba Nenembe (26 Julie 2016) Foto: Raahil Sain/ANA

Die staat het Donderdag sy slotargumente in die Christopher Panayiotou-saak in die Port-Elizabethse hooggeregshof voorgelê wat dié verhoor binnekort tot ʼn einde sal bring.

Panayiotou word saam met Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko aangekla dat hulle saamgesweer het om Jayde Panayiotou op 21 April 2015 te ontvoer, beroof en te vermoor. Die uitgerekte moordverhoor het meer as ʼn jaar gelede begin.

Staatsaanklaer Marius Stander het 58 getuies geroep om in die loop van die saak te getuig.

Stander het Donderdag Sizwe Vumazonke, die man wat daarvan beskuldig is dat hy Jayde doodgeskiet het en wat intussen dood is, se rol in die voorbereiding en uitvoering van die moord as “integraal” beskryf.

Hy het aan die hof gesê Vumazonke en Luthando Siyoni, die beweerde middelman in Jayde se huurmoord, is verbind deur middel van SMS’e en Facebook-boodskappe waarin hulle na bewering die betaling vir die huurmoord bespreek het. Volgens die staat vorm dié twee partye se onderhandelings ʼn integrale deel om die “legkaart van die moord” te voltooi.

Stander het gesê Vumazonke en Siyoni was die enigste twee verdagtes wat huurmotormaatskappye gekontak het en dat Vumazonke na bewering uiteindelik die motor gehuur en betaal het waarin Jayde glo ontvoer is.

Hy het gesê opsporingsdienste bewys glo dat dié voertuig, ʼn Toyota Etios, buite Jayde se vriendin, Cherise Swanepoel, se huis gestaan het waar die verdagtes “inspeksie” gedoen het om hul bewegings dop te hou.

Stander het gesê Vumazonke “is sonder enige redelike twyfel een van die moordenaars”. Hy het gesê die bewyse teen Siyoni is ook “verdoemend”.

“Ek vra die hof om te bevind dat Siyoni ook betrokke was in die moord,” het hy aan die hof gevra.

Volgens Siyoni se aanvanklike verklaring sou Panayiotou R80 000 vir die huurmoord betaal het waarvan hy R30 000 sou kry en Vumazonke die res van die geld. Hy het intussen egter sy verklaring teruggetrek en beweer dat die polisie hom aangerand het en hom gedwing het om sy voormalige baas, Panayiotou, te betrek.

Stander het gesê sy verklaring kan nie teen Panayiotou self gebruik word nie, maar dit is ʼn bewys van sy eie betrokkenheid by die huurmoord. Hy het ook gesê Panayiotou en Siyoni het lank voor die moord ʼn “ooreenkoms gehad” en dat daar talle bewyse teen hom is, onder meer dat Jayde se voertuigregistrasienommer tussen die twee partye gedeel is.

Stander sê daar is ook verdoemende bewyse van kontak tussen Siyoni en Vumazonke en dat hulle selfoonrekords daarop dui dat albei van hulle in die huurmotor was, van die oomblik dat die huurmotor Siyoni se perseel verlaat het.

Die saak is tot Dinsdag uitgestel wanneer die verdediging sy slotargumente sal lewer.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.