Panayiotou: VSA se hulp ingeroep

Jayde en haar man Christopher. Foto: Facebook

Jayde en haar man Christopher. Foto: Facebook

Die Nasionale Vervolgingsgesag het ʼn aansoek aan die VSA se departement van binnelandse veiligheid gerig in ʼn poging om inligting oor Christopher Panayiotou te bekom.

Die aansoek is gebring om te probeer om inligting van Panayiotou se selfoon te kry. Panayiotou het Maandag saam met Sizwezakhe Vumazonke en Sinethemba Nenembe in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn.

Panayiotou (28) word daarvan verdink dat hy die meesterbrein agter die moord op sy vrou, Jayde, was in April 2015.

Tydens ʼn vorige hofverskyning het Panayiotou aangedui al die data is van sy selfoon gevee om die spore van sy buite-egtelike verhouding met Chanelle Coutts te verberg.

Die staatsaanklaer, Marius Stander, het Maandag aan die hof gesê die ondersoek is steeds nie afgehandel nie. “Ons het die aansoek vir hulp met die verkryging van die selfoondata gestuur,” het Stander gesê.

Donovon Vosloo, ʼn IT-kenner, het met ʼn vorige verskyning aan die hof gesê, hy het alle data van Panauiotou en Coutts se selfone gevee, nadat Panayiotou glo aan hom gesê het die fone is stukkend.

Michelle Blignaut, Vumazonke se prokureur, het aangedui sy gaan nog ʼn borgtogaansoek namens haar kliënt bring, wanneer sy parool op 14 Januarie verval. Vumazonke dien tans ʼn vonnis van korrektiewe toesig uit vir gewapende roof.

Al drie verdagtes sal in aanhouding bly tot hul volgende hofverskyning op 11 Maart.

Klik hier vir alle vorige berigte oor die Jayde Panayiotou-saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarel Strydom ·

Die man dien reeds ‘n vonnis uit vir gewapende roof maar sy Prokureur wil aandsoek doen vir borgtog??? jammer ek verstaan nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.