Panayioutou-moord: Verhoordatum vasgestel

Jayde Panayiotou. Foto: Verskaf

Jayde Panayiotou. Foto: Verskaf

Die datum van die verhoor in die Jayde Panayioutou-moordsaak is Donderdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth vasgestel. Byna twee maande is uiteengesit vir die verhoor.

Regter Glenn Goosen het tydens die voorverhoorverrigtinge gesê die saak is gereed vir verhoor.

Die saak sal van 11 Oktober tot 2 Desember deur regter Dayalin Chetty aangehoor word.

Die voorverhoorverrigtinge is vroeër vandeesmaand uitgestel nadat die beweerde skieter, Sizwezakhe Vumazonke, dood is kort nadat hy in ʼn koma verval het. Die oorsaak van Vumazonke se dood is steeds nie bevestig nie, maar gerugte doen die ronde dat hy moontlik vergiftig is. Tsepo Ndwalaza, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê die staat wag steeds op ʼn toksikologieverslag.

Christopher Panayiotou, Jayde se man, word daarvan beskuldig dat hy die meesterbrein agter die ontvoering van en moord op sy vrou in April verlede jaar was, omdat sy glo ʼn “finansiële las” was. Die staat voer aan hy het Luthando Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal om Vumazonke as sluipmoordenaar te huur. Volgens die staat moes hy Jayde ontvoer en vermoor.

Die staat voer aan Sinethemba Nenembe het Vumazonke bygestaan om die vermeende sluipmoord uit te voer. Zolani Sibeko, ʼn vyfde verdagte, is in Julie in hegtenis geneem. Siyoni het intussen ʼn art. 204-getuie geword, wat beteken hy is kwytgeskeld van vervolging indien die hof tevrede is dat hy eerlik getuig het.

Die beskuldigdes staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, roof met verswarende omstandighede, ontvoering, moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Panayiotou staan tereg op ʼn bykomende aanklag van dwarsboming van die gereg.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hasie ·

Die moordsaak kom al so ‘n lang pad, die moordenaars kon al amper hul tronkstraf uitgedien het, nou is die verhoordatum eers vasgestel.

Ander Koos ·

Hierdie saak sloer al lank. Mag geregtigheid nou geskied, so ‘n gruwelikke misdaad/ moord mag nie ongestraf verbygaan.

Pootseer ·

Hasie, jy bedoel seker hul kon begin om hul straf uit te dien-die uitvaagsels behoort langer as lewenslank te sit!

Koos1 ·

En met die een verdagte ook dood, glo ek nie hulle gaan iets oorkom nie.

Karma ·

@Koos1, ja – dit sal nou so maklik wees om te sê dat die dooie een dit of dat gedoen het; ‘n dooie man kan mos nie praat nie. Ja, en die saak is nou amper soos OP se saak (behalwe nou vir die media-sirkus daarom): ander moordsake is ‘n kwessie van ondersoek, arrestasie, aanklag, borgtog, verhoor, uitspraak en vonnis. Hier was dit nou eers dit, toe dat, toe hierdie, toe daardie, dan weer dit ens. ens ens. ens. Na meer as ‘n jaar moet die verhoor nog begin. As dit Jan Alleman op straat was, het hy al met sy alie agter tralies gesit. Geld wat stom is …………….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.