Panda: ‘Nuwe Covid-19-variant in SA nié meer dodelik’

Die virus wat Covid-19 veroorsaak (Foto: NIAID-RML via AP)

Dit blyk dat die nuwe variant van die koronavirus in Suid-Afrika nié meer dodelik is as enige ander variant van die virus óf meer jonger mense as ouer mense aftakel nie.

Die Suid-Afrikaanse organisasie Pandemic Data & Analytics, beter bekend as Panda, het ’n ontleding van die beskikbare ouderdomspesifieke data van pasiënte in Suid-Afrikaanse hospitale gedoen wat daarop dui dat die nuwe variant genaamd 501.V2 geensins dodeliker is as enige vorige variante van die koronavirus nie.

Panda wys ook daarop dat geen Covid-19-verwante opnames of sterftes in die land se hospitale gedurende die tydperk van 1 tot 19 Desember ʼn differensiële toename in jonger pasiënte toon nie.

“Dit is belangrik om daarop te let dat die risiko vir jong mense om aan Covid-19 te sterf só klein is (0,003% vir die ouderdom van 0 tot 19 jaar) dat selfs ʼn verdubbeling of verdriedubbeling van hierdie risiko steeds feitlik geen bykomende risiko inhou nie. Maar daar is nie eens bewyse van dié geringe kans nie.”

Die departement van gesondheid het vroeër vandeesweek gesê daar is in dié stadium geen duidelike bewyse dat die nuwe variant verband hou met ernstiger siekte nie. Klinici sal meer toetse doen om te bepaal of die variant wel die verloop van die siekte verander.

Volgens die departement verskil die nuwe variant van die ander wat vroeër vanjaar in Suid-Afrika opgemerk is aangesien dit meer veelvuldige mutasies (veranderinge) in die stekelpunt-proteïen het – ’n baie belangrike deel van die virus wat bind aan die reseptor in die selle in die liggaam. Dit is ook die hoofteiken vir baie van die teenliggaampies wat tydens infeksie of ná die toedien van ’n entstof geproduseer word.

Panda hou vol daar is absoluut geen rede tot paniek nie aangesien die koronavirus aanhoudend muteer oftewel verander. Die organisasie voorspel ook nie dat die nuwe variant ’n groot invloed op ’n entstof sal hê nie.

“Sou die nuwe variant meer aansteeklik maar minder dodelik blyk te wees, kan dit voordelig wees. Die virus muteer voortdurend.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.